Luister: Ruhan du Toit opgewonde oor sy solo-avontuur

Ruhan du Toit. (Foto: Facebook)

Ruhan du Toit is alles behalwe ʼn nuweling in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf. Sy diep fluweelstem het aanhangers al jare lank gaande (en ja, die vrouegeslag se knieë lam!).

Maar tog staan dié sanger tans aan die begin van ʼn nuwe hoofstuk in sy luisterryke loopbaan. Ná sewe jaar as deel van die groep Touch of Class pak hy nou ʼn solo-loopbaan aan. “Ja, ʼn mens is bangerig. Ek weet nie heeltemal wat die toekoms inhou nie,” erken hy. “Maar ek is opgewonde oor ʼn klomp goed wat aan die gebeur is!”

Hy vertel Touch of Class was ʼn opwindende en leersame tydperk in sy loopbaan en tot ʼn mate byna ʼn gemaksone waar alles reeds gereed was. “Alles was reg en nou begin ek weer van voor af. Maar ek dink dit is veranderinge wat ʼn ou moet maak in die lewe. Sodra jy begin stagneer moet jy maar uit daardie comfort zone uit kom en weer iets nuuts aanpak.”

Die verhoog is vir Ruhan al soos ʼn tweede huis, maar ʼn solovertoning bied ander uitdagings as wanneer jy ʼn orkes of ander sangers saam met jou het, vertel hy. “As jy vir so lank deel van ʼn groep was, is jy amper bederf. As jy op ʼn verhoog staan, moet jy probeer om energie uit die gehoor te skep en dit is baie makliker as daar iemand saam met jou op die verhoog is, want jy kan dadelik teenoor mekaar begin energie maak en dit is aansteeklik vir die mense wat sit en kyk. As jy heeltemal alleen op die verhoog is, is dit iets anders.”

Gelukkig tree Ruhan meestal met ʼn orkes van drie of vier op en is hy dus baie min werklik alleen op die verhoog. En dan is daar natuurlik al die ander groot kunstenaars wat gereeld langs hom op die verhoog te sien is.

Ruhan het pas die liedjie “Moenie” saam met Riana Nel opgeneem en dié duet is in Nel se nuwe album Sterker beskikbaar. “Dit is ʼn besonderse voorreg [om die liedjie te kon opneem]. Riana is ʼn fantastiese kunstenaar. Sy is fenomenaal in wat sy doen en dit is altyd ʼn voorreg om saam met haar te kan sing,” sê hy.

Ruhan du Toit sê hy wil nou op sy solo-loopbaan fokus. (Foto: Instagram)

“As ʼn mens daardie tipe ding doen, soek ʼn mens maar stemme wat goed gel. Dit is maklik om saam met ʼn groep of in ʼn koor te sing. Maar om ʼn duet te sing waar twee stemme mekaar komplimenteer in plaas van oorskadu, is bietjie moeiliker. ʼn Ou moet regtig jou stem kan aanpas om dit soos ʼn ware duet te laat klink, sodat dit sáám mooi klink.”

En dalk is dit ook die geheim agter Ruhan en Corlea Botha se kragtoer-vertoning wat vir volgende maand beplan word. Dié twee sangers gaan in Augustus saam te sien wees in hul About Time-optrede in Pretoria waar elkeen natuurlik van sy en haar eie trefferliedjies sal sing, maar ook die gehoor se asem gaan wegslaan met ʼn paar duette.

Ruhan vertel hy wou al lankal iets saam met Corlea doen, terwyl sy ook al lank beoog om saam met hom op die verhoog te wees. Uiteindelik het hulle besluit dit is nou die tyd om ʼn optrede te beplan. “Ek het nog altyd gesê Corlea is in hierdie stadium vir my seker die talentvolste sanger wat hierdie land tans het en ek dink vir ʼn baie lang tyd gaan hê,” sê Ruhan.

“Dit is net mal om te dink hoe hierdie vrou net enigiets kan sing. Jy kan enigiets voor haar neersit en sy gaan dit sing dat jy hoendervleis kry, elke keer. Dit maak dit makliker, maar ook moeiliker! Toe ons begin praat oor al die duette vir About Time, het ek besef dit maak eintlik die keuse moeiliker omdat daar so baie goed is wat hierdie vrou kan sing. Wat kies jy?”

Dit is waarom hy en Corlea besluit het om met About Time nie net te fokus op die groot en skouspelagtige treffers nie, maar ook liedjies met diepte en definisie in die vertoning in te weef vir ʼn perfekte balans.

Aanhangers wat dié vertoning gaan misloop, hoef egter nie te bekommer nie – Ruhan en Corlea beplan om ná hierdie eerste vertoning met About Time na ander plekke in die land te toer.

Verder sal Ruhan ook onder meer op 19 en 20 Julie by Classics te sien wees by die Sun Arena by Time Square in Pretoria, in Augustus in die Atterbury-teater, en in September is hy by ATKV Buffelspoort. Dan is daar natuurlik ook Afrikaans is Groot in November en die Afrikaans is Groot Somerfees in Desember.

En dit is nie al wat hom besig hou nie, verklap hy. “As niemand my hierop aanhaal nie, beoog ek – met baie klem op ‘beoog’ – om einde Oktober, begin November my solo-album uit bring,” sê hy met ʼn lag. “Maar mense kan maar dophou vir ʼn paar enkelsnitte wat ons oor die volgende maand of twee sal uitbring, dat mense darem net weet ons is aan die werk, ons sit nie en niks doen nie!”

Besoek Ruhan se webtuiste vir ʼn volledige lys optredes waar hy te sien sal wees en volg hom ook op Facebook en Instagram vir al die jongste nuus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Justice ·

Ruhan al sing jy saam met die Pous sal dit goed klink – doen so voort!

Andreas ·

Snik … snik ….

Ek is net bly ek het ‘n CD van julle…. die ou julle wat ongelooflik is.

Anoniem ·

Twee van ons land se beste sangers! Jare saam met Corlea in “studio’s” opnames gemaak, sy is van klein dogtertjie tyd af in ‘n klas van haar eie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.