Luister: Van koorkind na ‘Die Kontrak 3’-wenner

Die nuwe ‘Die Kontrak’-wenner, Chris Steyn. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Hy het dalk nou ʼn R1 miljoen se kontrak by een van die grootste Afrikaanse platemaatskappye losgeslaan, maar die nuwe Die Kontrak-wenner, Chris Steyn, sê hy sal altyd ʼn “plakkieskind” bly.

Vrydagaand het dié 19-jarige sy buiging voor ʼn skare van 9 000 op die Afrikaans is Groot-verhoog gemaak, maar ʼn jaar gelede het hy nog in sy groen skoolbaadjie in die Afrikaanse Hoër Seunskool Pretoria se koor gesing.

“Ek het nog in die begin van hierdie jaar by feeste saam met pêlle geluister na kunstenaars met wie ek nou ʼn verhoog gedeel het. Barto se lied “Impulsief” was verlede Desember ons vakansielied, maar gisteraand het ek saam met hom gebraai. My kop draai nog as ek só daarna kyk,” vertel hy in die Maroela Media-ateljee oor sy oorwinning, natuurlik geklee in die einste kenmerkende plakkies.

Hoewel hy graag in die koor op beide laer- en hoërskool gesing het, wou dié student ʼn rugbyspeler of sakeman wees. Sy vriend en woonstelmaat in Stellenbosch het egter sy sangtalent raakgesien en sommer namens hom vir die derde aflewering van Die Kontrak ingeskryf.

Chris op die verhoog as hoërskoolleerder in die koor. (Foto: Verskaf)

“My ekonomie-onderwyser het Sondag een van die Afrikaans is Groot-vertonings kom kyk … ek dink hy’s bly dat ek nou sing … ek het vrot in ekonomie gedoen,” skerts Chris.

Demi Lee Moore, nóg ʼn kontrakwenner, was sy mentor tydens Die Kontak 3, en hy vertel van die geweldige professionele én persoonlike ondersteuning wat sy deurlopend vir hom gebied het.

“Sy het my altyd gehelp om die liedjies vir my stem aan te pas, maar sy het nooit my manier van sing of my menswees probeer verander nie. Ek kan haar of haar man, Bart, enige tyd bel vir enige soort raad. Hulle is soos nog ʼn stel ouers vir my, en dit het die oorwinning net soveel meer emosioneel en spesiaal gemaak.”

Nes Demi was Chris se ouers en vier sussies ook oorstelp oor hul ouboet se oorwinning, maar hy benadruk dat veral sy ma sal seker maak dat sy plakkiesvoete nederig op die grond bly.

“Natuurlik groei en ontwikkel ons almal, maar ek dink nie ʼn mens kan ooit verander wie jy as mens is nie. My ma sal dit in elk geval nie toelaat nie. Sy is dalk klein, maar haar linkerarmpie swaai,” terg hy.

Hoewel hy steeds vuur en vlam is om sy studies te voltooi, is sy musiekloopbaan ʼn groot fokuspunt vir volgende jaar.

Die kunswerk vir Chris se enkelsnit. (Foto: Facebook/Die Kontrak)

Sy album met sy wen-enkelsnit, “Helemal”, het binne enkele minute ná sy uitreiking na die topposisie op verskeie stromingsdienste gespring. Die treffer het Dinsdag ook sy buiging op die Maroela Media Top 20 in die derde plek gemaak.

“Daar is ook ʼn hele paar lekker verrassings wat in 2024 voorlê,” voeg hy met ʼn knipoog by.

Chris, wat die eerste onervare musikant was om Die Kontrak-kroon te dra, hoop dat sy oorwinning ander jong, belowende sangers sal aanmoedig om hul drome na te jaag, ongeag hul musikale agtergrond.

Op die vraag oor watter soort kunstenaar hy graag as geken sal wil word, antwoord die jong sanger sonder twyfel en met ʼn groot glimlag: “ʼn Prettige een.”

  • Luister na die volledige video boaan die berig.
  • Kyk na Maroela Media se ses vinnige vrae aan Chris hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.