Musiekvideo: Boeremusiekalbum vier Afrikaner-erfenis

Die Teelepeltjies kuier saam met Pierre Breytenbach op Die Groot Ontbyt. (Foto: Facebook/Die Teelepeltjies)

Met hul nuutste album, Erfenis, vier Die Teelepeltjies hulle Afrikaner-herkoms met 12 welbekende boeremusieksnitte in een album vervat.

Die Teelepeltjies se klank is divers en kleurryk, en die orkes poog om boeremusiek weer ʼn plek op die radio te gee.

Paul Bester en Ziaan Hattingh vertel in Maroela Media se ateljee dat Erfenis se vars en moderne aanslag luisteraars se voete sommer opnuut vir die Boeremusiek-genre sal laat jeuk.

“Ons wil boeremusiek ook meer toeganklik vir jongmense maak, juis met die werk wat ons veral met die bas en tromme gedoen het. Ons het baie daarop gefokus om dit iets nuuts en lekker te maak,” vertel Paul.

Johnny Volbrecht en Christiaan Ras vorm ook deel van die groep, en Regardt de Bruin en Ernie Bates het onder meer konsertina en banjo op die nuwe album gespeel.

Die Teelepeltjies het reeds in 1989 ontstaan toe Christiaan se pa hom geleer het om boeremusiek te maak. Christiaan se broer, wat die tromme gespeel het, het toe nog nie ’n tromstel van sy eie gehad nie en moes met twee teelepels op ’n verfblik speel.

Die Telepeltjies. (Foto: Facebook/Die Teelepeltjies)

“Vandaar ‘Die Teelepeltjies’. Christiaan en sy boetie was woelige bulletjies en hulle pa moes ʼn plan maak om hulle besig te hou. Hy het ook ʼn liefde vir boeremusiek by hulle gekweek. Christiaan het begin met kitaar en sy broer het tyd op die tromstel gehou met die teelepels, en so het hulle uit die moeilikheid gebly,” vertel Paul.

Erfenis is die groep se negende album en is vervaardig deur Kobie Koen van Vonk Musiek. Ernie het die opname behartig.

“Elke lied is goed deurdink en die uitvoering is haarfyn beplan. Dit gee aan elke lied genoeg meriete om op sy eie te kan staan.”

Boeremusiekliefhebbers kan uitsien na ’n paar bekende treffers soos “Die Kalfiewals” en “Suikerbossie”, maar kan ook uitsien na ’n FAK-keurspel, “Willem se vastrap” en “Vyejam seties”.

Tussen die vier talentvolle orkeslede is daar meer as genoeg variasie in instrumentasie wat op die album ten toon gestel word soos ritmekitaar, melodika, klawerbord, tromme, trekklavier, banjo en baskitaar.

Die orkes het vier musiekvideo’s op een dag op die terrein van die Voortrekkermonument in Pretoria geskiet.

Die eerste van dié musiekvideo’s, “Misvloer seties”, is vandag (Maandag) uitgereik. “Ons het die video’s gedoen met die FAK in ons agterkoppe, asook die orkes se strewe daarna om Afrikaans as ʼn taal en natuurlik ook boeremusiek te bevorder.”

Erfenis is beskikbaar op alle groot platforms. ʼn Kopie van die album is ook beskikbaar by Die Teelepeltjies se vertonings.

  • Luister boaan die berig na die volledige onderhoud met Die Teelepeltjies.

Kyk hier na die musiekvideo vir “Misvloer seties”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.