Musiekvideo: Enkelsnit laat val kollig op kinders met spesiale behoeftes

Ziya en haar seun Gian, wat die inspirasie was vir die lied “Lonely Together”. (Foto: Janine Truppay.)

Wanneer jy vir ʼn oomblik gaan stilstaan en minder op jou eie omstandighede fokus, sal jy besef daar is baie mense wat alleen voel – al is hulle nie eens in afsondering nie – veral die gesinne en persone met spesiale behoeftes.

Dit is dan wanneer die woorde van Ziya, oftewel Jana Viljoen, se aangrypende liedjie “Lonely Together”  jou tussen die oë tref:To you it’s the new normal, to me it’s just another day”.

Ziya is ʼn Suid-Afrikaanse musikant, komponis, liedjieskrywer en die medestigterlid en direkteur van die Brain Child Fund. Sy en haar man, Hannes, woon tans saam met hulle vier kinders in Philadelphia in die VSA.

Die idee vir die snit is gebore uit ʼn gesprek wat Ziya met ʼn ma gehad het wat deel van die Brain Child Fund se netwerk is. “Ek het gevra hoe dit met hulle in die tyd van afsondering gaan. Sy het geantwoord dat dit nie anders is as waaraan hulle gewoond is nie. Hulle seun het ʼn verswakte immuunstelsel, wat beteken dat hulle nooit êrens heen kan gaan nie,” verduidelik Ziya, wat self die ma van drie kinders met spesiale behoeftes is.

“Die liedjie fokus daarop dat daar mense is wat alleen voel, al is hulle nie afsondering nie. Dit gaan daaroor dat ons almal eintlik maar dieselfde is. Gedurende inperking was ons almal in dieselfde oseaan van onsekerheid – ons was saam eensaam. Dit het die klem geplaas op ons almal se behoefte om liefde te gee en te ontvang,” sê Ziya.

Sy reken mense voel dalk nou vasgevang in die “nuwe normaal” van die Covid-19-pandemie, maar besef nie dat persone met spesiale behoeftes dikwels elke dag in hulle eie liggame vasgevang voel nie.

“Lonely Together” vorm deel van ʼn projek met die naam Voice of the Speechless (VOS) waaraan Ziya ʼn rukkie al werk. Dit was vir haar as musikant en ma ʼn manier om haar liefde vir musiek en mense met spesiale behoeftes te kombineer.

VOS is ʼn sosialebewusmakingsinisiatief wat van opvoedkundige vermaak gebruik maak om op ʼn sagter manier die stigma rondom diegene met verstandelike gestremdhede uit te skakel.

Ziya sê die projek is regtig die eerste van sy soort. Sy het die geluide, omgewing, leefwyse en stories van kinders met spesiale behoeftes vasgelê in musiek en deur beeldmateriaal weergegee.

“My doel is om vir kykers te wys hoe hierdie kinders en hulle gesinne, uit verskillende lande en agtergronde, se lewens lyk.”

“Lonely Together” is dan ook die eerste snit in ʼn reeks liedjies wat Ziya in ʼn visuele album wil omskep. Daar sal ʼn video saam met elke liedjie vrygestel word, in samewerking met gesinne en ander musikante van reg oor die wêreld heen. Ziya hoop om die hele projek in ʼn kort dokumentêr vas te vang wat dien as bewusmaking oor die lewens van kinders met spesiale behoeftes.

Ziya vertel haar oorspronklike plan was om in Meimaand na Suid-Afrika te reis en video-opnames vir die projek by verskillende gesinne te doen. Die idee was om ʼn dag in hulle lewe weer te gee.

“Covid-19 het egter die plan in die wiele gery en ek het aanvanklik besluit om die projek vir eers op die ys te sit. Dit was totdat ek met daardie ma gesels het en lirieke vir die liedjie vorm aangeneem het. Ek het besef dit is nou eintlik die regte tyd om hierdie storie met mense te deel.”

Ziya sê sy het besef die meeste mense het in elke geval nou slimfone en daar is beslis nie ʼn beter manier, wat minder ingrypend is, as om iemand te vra om self hulle daaglikse lewe deur hulle eie tuisvideo’s op te neem nie.

Sy het die hulp van Nick Costaras (videoredigeerder en medevervaardiger) en Chris Letcher (medevervaardiger) ingeroep om die finale musiekvideo aanmekaar te sit.

jana-viljoen-2019-01-01

Jana Viljoen en haar gesin. Voor saam met haar sit Leo en Abigale. In die middel regs sit Gian en agter is Kyna en Hannes. Foto: Verskaf.

Gesinne se ervaring

 “Lonely Together” sluit agtien gesinne, insluitende Ziya se eie, van Suid-Afrika, Amerika en Nigerië se videomateriaal in. Sy sê die proses om die liedjie te skryf, te vervaardig en op te neem was ʼn ongelooflike reis en almal wat daaraan deelgeneem neem het, stem met haar saam.

“Ons hoop dat hierdie projek vir mense insae sal gee in die lewens van mense met spesiale behoeftes. Ons inperking het nie met Covid-19 begin nie, dis ’n leefstyl waaraan ons gewoond is,” sê Christy en Shawn van Nigerië, wie se seun ontwikkelingsprobleme het.

Die Amerikaanse paartjie, Joe en Dawn Gallagher en hul gesin, het ook deelgeneem: “Ons is die trotse ouers van Joe, wat op twee gediagnoseer is met outistiese spektrum‑stoornis. Vandag is hy ’n gelukkige, liefdevolle en saggeaarde 27-jarige. Sy lewensgeluk en liefde is aansteeklik. Ons probeer elke dag om meer soos hy te wees en om die lewe deur sy oë te sien. Joe kan nie praat nie en gebruik verskeie maniere en geluide om sy gevoelens oor te dra. Ons gesin is so opgewonde om deel te wees van hierdie projek, want ons weet dat daar geen woorde nodig is nie.”

Valencia Viviers en haar seun, Jayden, kom van Suid-Afrika en is ook in die video te sien. “Ons het dit regtig geniet om deel te wees van die projek. As gevolg van Jayden het ek geleer dat daar soveel betekenis in stilte kan wees. Ek verstaan my seun, sonder dat hy nodig het om te praat en VOS maak dit moontlik vir die wêreld om die lewens van kinders met spesiale behoeftes, en hulle gesinne, beter te verstaan.”

“Ek hoop dat die rou emosie van die videokykers se harte sal raak en hulle manier van dink sal verander. Dit is tyd dat almal die mooi in kinders met spesiale behoeftes raaksien,” sê Ziya.

Ziya (Foto: Janine Truppay.)

Die Viljoens se eie verhaal

Ziya en Hannes Viljoen het al voorheen in Maroela Media se ateljee kom kuier om die inspirerende verhaal van hul vier ongelooflike kinders te deel. Kyna (15) het ’n beroerte as baba oorleef, Gian (14) het Downsindroom en outisme, en Leo (12) is ook op die outisme-spektrum is. Abigale (11) is haar ouer boeties en sussie se grootste steunpilaar. “Ons kinders se diagnose definieer hulle nie en dit bly vir ’n ons voorreg om hulle ouers te wees,” sê Ziya en Hannes.

Ziya erken dat sy self oningelig was voordat sy die ma van ʼn kind met spesiale behoeftes geword het.

“Ek het nie ’n benul gehad hoe om rondom sulke individue op te tree nie omdat ek nooit daaraan blootgestel is nie. Daarom verstaan ek dat daar mense is wat ongemaklik voel en dit is hulle wat ek met VOS wil bereik.

“Omdat drie van my eie kinders spesiale behoeftes het, is ek altyd op soek na manier om die wêreld vir hulle – en ander soos hulle – ’n beter plek te maak. Die meeste mense sal nie oor iets lees as dit hulle nie persoonlik raak nie. Hulle sal egter na ’n liedjie luister of ’n video kyk – narratief en kuns skep ervaringe wat mense aanmoedig om ’n kopskuif te maak, wat dit dus een van die mees effektiewe maniere maak om ’n boodskap oor te dra.”

Die eerste saadjie vir VOS is reeds in 2010 geplant, sê Ziya. “Ek was besig met terapie in die buitekamer van ’n engel by wie ons gebly het nadat ek en my man alles moes verkoop om na ons kinders om te sien. Haar naam is Rosemarie. Terwyl ons op die vloer rondgekruip het, het Gian gestop en na my gekyk. Ek het agtergekom dat hy iets dringend op die hart gehad het, maar dit nie kon kommunikeer nie. Dis toe wat ek vir die eerste keer gedink het: ‘Ek wens dat ek die klanke wat jy maak kon saam weef in musiek en lirieke kon skryf om vir die wêreld te vertel hoe wonderlik jy is. Ek wens ek kon jou stem wees’.”

Agt jaar en ontelbare uitdagings later, het Ziya ’n wiegelied saamgestel wat die voorloper was van die VOS-beweging.

“In 2018 het ek myself uitgedaag om ’n honderd liedjies in net so oor ’n honderd dae te komponeer. Ek het dit op Facebook geplaas of tydens regstreekse optredes gesing. Die wiegelied wat ek geskryf het, is geïnspireer deur die ouers wat soms deurnag vir hulle kinders se lewens veg. Ek het dit opgelaai voordat ek gaan slaap het. Die volgende dag was daar ’n boodskap van ’n ma wat my bedank het omdat die liedjie haar deur die aand gedra het. Ek het vir drie dae gehuil en die dag in Rosemarie se buitekamer onthou. Dit was ’n belangrike oomblik – as gevolg van die gesinne waarmee ek deur middel van die Brain Child Fund gewerk het, het dit oor meer begin gaan as om Gian se stem te wees.”

Die volgende stap, sê Ziya, is om die album te voltooi – met behulp van ander kunstenaars en individue of gesinne met spesiale behoeftes reg oor die wêreld – en om dit saam te weef in ’n dokumentêr wat ’n verskil gaan maak.

“Ek hoop dat hierdie beeldmateriaal vir mense sal wys waardeur sommige gesinne elke dag gaan en dat die VOS-veldtog sal maak dat daar met nuwe oë na hierdie gemeenskap gekyk word. Daar is, op die einde van die dag, nie iets soos ons en hulle nie. Dis net ons.”

  • Laai die liedjie Lonely Together af en word ʼn stem vir diegene wat nie vir hulself kan praat nie.
  • Kyk hier na ’n roerende kort video wat die konsep van VOS verduidelik.
  • Ziya wil lesers nooi om hulle stem by die van die stemloses te voeg. Jou stem maak ’n groter verskil as wat jy dink. Om VOS te help om nog soortgelyke projekte aan te pak, besoek VOS om te sien hoe jy ’n skenking kan maak of op ander maniere betrokke kan raak.
  • Luister na die volledige onderhoud met Ziya boaan hierdie berig.

Kyk die musiekvideo van “Lonely Together” hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.