Prima klassieke musiek dié week in Pretoria

Charl du Plessis (Foto: Verskaf)

Van 18 tot 21 April tree die Atterbury-teater in Pretoria weer op as die gasheer vir die jaarlikse Atterbury Klassiek-musiekfees. Dié musiekfees trakteer gehore elke jaar op topgehalte klavier-, sang- en instrumentele uitvoerings.

Die teater se Steinway-vleuelklavier is die afgelope week reeds blink gepoets en boonop spesiaal gediens deur Urs Bachman, ʼn Switserse klaviertegnikus van Zürich, Switserland, met die oog op die musiekfees. Bachman werk deurlopend met van die voorste pianiste in die internasionale klassieke musiekwêreld.

Vanjaar word Atterbury Klassiek deur die Boulevard Harmoniste van Potchefstroom geopen. Die groep is ʼn sesstemmige vokale ensemble wat in 1994 deur die voormalige Potchefstroom Universiteit gestig is. Sedertdien het die Boulevard Harmoniste sewe Europese konserttoere gedoen, drie internasionale kompetisies gewen en agt albums uitgereik.

Liefhebbers van koormusiek kan op Donderdag 19 April na dié vokale ensemble kom luister, wat reeds etlike jare hulle veelsydige beheer van uiteenlopende musiekstyle ten toon stel.

Die program bestaan uit klassieke werk uit die Renaissance, kontemporêre liedere en Afrikaanse musiek, wat volksliedjies soos “My Sarie Marais” en “Daar kom die Alibama” insluit.

Heinrich Sutton, het in 2023 hulde aan sy voormalige klavierafrigter, Claudine van Breda, gebring tydens die Atterbury Nasionale Klavierkompetisie. (Foto: Atterbury Teater/Facebook)

Die 17-jarige Heinrich Sutton, wat die Atterbury Nasionale Klavierkompetisie in 2023 gewen het, bied op 19 April sy soloklavierkonsert Spectrum aan. Sutton, wat tans in matriek is, was ʼn klavierstudent van wyle Claudine van Breda en studeer tans by Joseph Stanford en Megan-Geoffrey Prins.

Spectrum is saamgestel uit ʼn keur van klassieke werke deur welbekende komponiste soos Chopin en Rachmaninov. Die violis Reuben van Niewenhuiaen tree as gaskunstenaar op.

Kaartjies vir Nataniël se musikale mis Mass for the Good Princes wat op 20 April aangebied word, is egter reeds uitverkoop.

Dié konsert is op die klassieke struktuur van ʼn komposisie met vyf, ses of sewe dele gegrond, en dit is ʼn gebed vir goedheid, nuwe leierskap en die hoop van ʼn nuwe generasie. Die mis word in Latyns en Engels gesing, met vertellings en beskrywings in Afrikaans.

Nataniël is eersdaags te sien in sy eerste musikale mis, ‘Mass for the Good Princes’. (Foto: Verskaf)

Nataniël deel soos soveel keer vantevore die verhoog met bekende en bekroonde musikante. Dit sluit Ockie Vermeulen (orrel), Charl du Plessis (klawerbord), Juan Oosthuizen (kitaar), Werner Spies (bas), Peter Auret (tromme en perkussie) en die Akustika Kamerkoor, onder leiding van Christo Burger, in.

Op Sondag 21 April sluit Charl du Plessis, wêreldbekende en bekroonde pianis en samesteller van Atterbury Klassiek, die konsertreeks af met Charl & Strings.

Hierdie konsert sluit werke vir klavier en ʼn strykorkes in met komposisies van onder andere die Spaanse komponis Joaquín Turina, die Britse komponis Gerald Finzi en die Amerikaner Philip Glass. Daarbenewens kan musiekliefhebbers uitsien na nuwe verwerkings deur Du Plessis waarin sy kenmerkende jazz-inslag en die gebruiklike musikale verrassing of twee na vore kom.

  • Kaartjies vir Atterbury Klassiek 2024 is by Seatme

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.