Rolene Strauss wys haar sangvernuf

Terugslae is deel van die lewe en is amper onmoontlik om vry te spring. Drome gaan soms koers verloor, projekte gaan misluk en dit is onvermydelik dat daar rooi gesig- oomblikke sal wees, maar dit is wat daarná gebeur wat ons ware sukses bepaal.

Dít is die boodskap agter Secrets to my Growth, Rolene Strauss, voormalige Mej. Suid-Afrika en Mej. Wêreld, se inspirerende gesels-album wat eersdaags uitgereik word.

Hoewel hierdie nogal na ’n vreemde onderneming lyk vir iemand wat so ooglopend sukses versinnebeeld – benewens haar titels as Mej. Suid-Afrika en Mej. Wêreld in 2014, het Rolene ook in 2017 haar MB ChB-graad in Geneeskunde verwerf aan die Universiteit van die Vrystaat – meen sy dat haar lewe beslis nie altyd perfek was nie.

“As 19-jarige, in 2011, het ek ook aan Mej. Suid-Afrika deelgeneem en was totaal en al onvoorbereid. Ek kon nie goed Engels praat nie en het boonop ʼn gek van myself gemaak toe ek nie die vraag verstaan het wat op die laaste aand aan my gestel is nie,” vertel Strauss luidens ʼn mediaverklaring.

“Ek het egter nie toegelaat dat dit my onderkry nie en is minder as drie jaar daarna gekroon as Mej. Suid-Afrika en Mej. Wêreld. Hierdie album gaan oor die lesse wat ek in daardie tyd geleer het om te groei as mens.”

“Spoken Word” as ʼn genre is baie gewild in die buiteland en word beskryf as digkuns vir regstreekse optredes. Secrets to my Growth is een van die eerste pogings wat plaaslik aangewend is om ʼn album in hierdie styl uit te bring. Daarom was dit nie heeltemal so eenvoudig om dit saam te stel nie.

“Ons het niemand gehad om by te leer of vir raad te vra nie. So, gedurende die proses het ons verskeie kere ons koppe gestamp en daar was ook verskeie uitdagings langs die pad,” erken sy. Die voormalige skoonheidskoningin stel ook haar sangtalent in album ten toon en haar weergawe van die Amerikaanse popster Beyoncé se “Pretty Hurts” kan onder meer gehoor word.

Rolene in die ateljee. (Foto: Facebook)

Rolene in die ateljee. (Foto: Facebook)

Hoewel die konsep dalk ietwat ongewoon is vir die Suid-Afrikaanse mark, verduidelik Strauss die lesse wat sy deel is universeel. “Secrets to my Growth is ʼn versameling van lewenslesse en stories wat ek met mense wil deel. Dit is die dinge wat ek wens ek geweet het toe ek jonger was. Die album het my in staat gestel om my siel te ontbloot soos nog nooit tevore nie en aspekte van myself te deel wat niemand nog ooit gesien het nie.”   

Die boodskappe in die album word gekomplementeer deur pragtige video-insetsels, wat deur Inhoud Huis Musiek vervaardig is. Strauss meen egter dat die beelde slegs daar is om die woorde aan te vul, en hoewel die beeldmateriaal by die stukkies pas, vang dit nie die stories in hul geheel vas nie.

“Die idee met die video’s is nie om die hele storie te vertel nie, maar net hier en daar ʼn saadjie te plant. Dit is dus slegs bydraend en minimalisties. Elke individu moet die boodskappe kan interpreteer, soos nodig, in spesifieke stadiums van sy of haar lewe.”

Strauss het ook vroeër vanjaar ʼn holistiese gesondheidsentrum, RevitaHealth, op die Val de Vie-landgoed in Paarl begin saam met haar skoonsuster dr. Ledivia Strauss.

Sy is ook die voorsitter van die Strauss-stigting, ʼn nie-winsgewende organisasie wat probeer om ʼn positiewe verskil in die samelewing te maak deur gesondheid, opvoeding en liefdadigheid te bevorder. Die instansie is in 2016 deur Strauss en haar man, D’Niel, en hulle families op die been gebring.

Hoewel sy reeds heelwat sukses behaal het, beskou Strauss haar familie as die grootste seën in haar lewe en is die dag toe sy ’n ma geword het die belangrikste hoogtepunt. “Ons is in Januarie 2017 geseën met ’n klein wonderwerkie in ons lewens en kan nie gelukkiger wees nie. Die lesse wat ek met ander mense deel in die album, is ook wat ek vir my eie kinders wil leer wanneer die tyd reg is.”

Secrets to my Growth kan bestel word by https://inhoudhuis.lnk.to/RoleneStrauss. Die album sal van 7 Desember op alle digitale platforms asook in goeie musiekwinkels beskikbaar wees.

‪SECRETS TO MY GROWTH ‬‪???? Pre Orders open this Friday ????‬‪#faceyourfears #spokenword #album #staytuned ‬‪Universal Music South Africa iTunes Apple Music Inhoud Huis Musiek

Posted by Rolene Strauss on Tuesday, November 13, 2018

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

LB ·

Ek het soveel respek vir iemand wat elke fasset van sy of haar lewe ondersoek en uitleef. Hierdie mens sal nooit oudword en sê “ek moes dit tog maar probeer doen het nie” Op so ‘n jong ouderdom het sy al so baie bereik en versien net respek daarvoor.
Ek sien uit om te sien watter gawes en talente sy volgende gaan gebruik en basta die jaloerse opinies! ; )

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.