Rooksein se nuutskepping ʼn radiotreffer

Renier van der Westhuizen, Megan Danner en Dian Maritz van Rooksein. (Foto: Verskaf)

Die jong musiekgroep Rooksein is tans op al wat ʼn radiospeellys is te hoor met hulle nuutste enkelsnit getiteld “Damlelielief”.

Die liedjie is ook tans in die sesde plek op die gesogte Maroela Media Afrikaanse Top-20. Hulle vorige enkelsnit, “Kyk na my hart”, het ook ʼn paar maande op dié treffersparade vertoef.

Megan Danner (23), Dian Maritz (22) en Renier van der Westhuizen (24) het sowat drie jaar gelede die groep gevorm nadat hulle op Potchefstroom ontmoet het.

Danner is van die Paarl in die Wes-Kaap afkomstig en het in die topdrie van Emo Adams se talentsoekkompetisie Maak my famous geëindig.

Dit was juis haar vriendin, Danele Zeeman, wat met die woord, damlelielief, opgekom het. Die groep het gedink dit is ʼn interessante woord en die inspirasie vir ʼn liedjie het daaruit gespruit.

Die woord word geassosieer met skoonheid en egtheid, sê Dian, wat oorspronklik van Plettenbergbaai in die Wes-Kaap afkomstig is en as die hoofkitaarspeler en agtergrondsanger van die driemanskap optree.

“Ek hoop ons begin ʼn trend of laat ʼn nuwe woord in die woordeboek voeg.”

Hy vertel dat die terugvoer op die liedjie positief is. “Ek dink ons bewys ons is veelsydig en dat ons verskeie style, klanke en liedjies kan uitbring en dit klink asof die mense graag meer wil hê.”

Renier, ʼn liedjieskrywer en musikant van Rustenburg, sê aanhangers het lank gewag vir “Damlelielief” om uitgereik te word.

“Ek en Dian is baie puntenerig. Die liedjie moet tot op die laaste punt perfek wees en wat ons elke keer na strewe is om elke keer ʼn bietjie beter te doen. Hierdie liedjie moes beter wees as ‘Kyk na my hart’ en die volgende liedjie moet weer beter wees as ‘Damlelielief’. As ʼn liedjie goed gedoen het, voel ons ons mag weer iets uitbring.”

Hy sê die liedjie neem die luisteraar op ʼn reis. “Ons wou met die bruggedeelte ʼn ander dimensie in die liedjie skep. Die liedjie het ʼn vinnige spoed en skielik draai die liedjie na iets stadiger. Ons het baie strategies te werk gegaan met die liedjie.”

Renier van der Westhuizen, Megan Danner en Dian Maritz van Rooksein. (Foto: Verskaf)

Die saadjie vir die liedjie is reeds in 2018 geplant, maar het eers vanjaar vrugte afgewerp. Hulle vorige enkelsnit, “Kyk na my hart”, is ook ʼn liedjie wat jare gelede reeds geskryf is en ʼn nuwe baadjie gekry het toe Rooksein deel van die Universal Musiek-familie geword het.

“Die liedjie simboliseer die deure wat vir ons as groep oopgemaak het. Dit het die eerste keer vir ons die deure oopgemaak toe ons dit self opgeneem het in 2019. Dit het begin versprei onder studente op sosiale media en dit was so ʼn vreemde gevoel.

“Daar is soveel musiekgroepe op Potch, maar ons is die groep wat besluit het kom ons sit die R60 wat ons vanaand gemaak het vir ons optrede en spaar dit om uiteindelik ʼn opname te kan maak.”

Vir die musiekvideo van “Damlelielief”, wat reeds sowat 71 000 kykbeurte op YouTube het, het hulle weer saam met Christian Wolf gewerk. Pierre de la Porté speel die tromme in die video.

“Die vorige keer wat ons saam met hom gewerk het, het so goed uitgewerk dat ons besluit het om weer saam met hom te werk. Ons verstaan mekaar op ʼn kreatiewe vlak.”

Die doel is om Rooksein as ʼn handelsmerk te bou en daarom wou hulle graag op hulle gesigte en optrede fokus.

“Ons probeer altyd om grense te verskuif. Ons wou lasers gebruik wat vorms om ons maak, maar ons het uiteindelik van ligte en rook gebruik gemaak. Ons is baie gelukkig met hoe die video uitgekom het en daar is soveel oomblikke wat ʼn mens vasvang.”

“Damlelielief” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo vir “Damlelielief”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.