Sanger se musiekvideo aan droogtehulp opgedra

Herman Kleinhans. (Foto: Verskaf)

Die Afrikaanse sanger en liedjieskrywer Herman Kleinhans het pas die musiekvideo van sy liedjie “Ek wonder” bekendgestel, wat verfilm is tydens die Projek 40-toer.

“Ek wonder” was Projek 40 se temalied toe Solidariteit Helpende Hand met Boere Droogtehulp SA NPC kragte saamgesnoer het om verligting vir boere en hul kinders in die Wes-Vrystaat en dele van die Karoo te bring. Die projek het ook gehelp met bewusmaking van die boere se lot, wat reeds jare lank deur droogte geteister word.

Boere Droogtehulp SA het gesorg vir die vragmotors en voer terwyl Helpende Hand gesorg het dat studente deur sy Studiefondssentrum kan studeer aangesien die boere nou genoop word om te kies of hulle finansieel moet terugploeg in hul plase en of hul kinders se studiegeld vir volgende jaar betaal moet word.

ʼn Groep vragmotors het 5 November vanuit Rustenburg vertrek en die volle konvooi het teen 7 November in Beaufort-Wes geëindig. Kleinhans het tydens dié toer beeldmateriaal vir “Ek wonder” se video geskiet.

“Projek 40 is ’n fantastiese projek, en ek vra mense om dit te ondersteun. Ons het redelik baie werk om te doen om te kyk na ons aarde voor dit om ons vergaan,” sê Kleinhans.

“Ek wonder” is op Kleinhans, wat deel is van die duo Twee, se jongste album, Ruite Oop, wat vandeesmaand bekend gestel is.

Dié wenner van Afri-Visie se liedjieskryfkompetisie se album bevat alles van emosionele liefdesballades tot lighartige kuiermusiek, het ’n volwasse kontemporêre klank en is die resultaat van maande se beplanning en harde werk. Dit spog met 12 snitte, wat grotendeels uit sy eie pen kom, met die uitsondering van drie liedjies waarvan hy twee saam met Bok van Blerk geskryf het.

“Die tema van die album is Lewe in Suid-Afrika en baie onderwerpe word aangespreek – van depressie tot liefde. Dit was vir my belangrik dat elke snit van uitsonderlike gehalte moes wees omdat ek dit vir ’n geruime tydjie gaan moet sing. Ek maak juis oor hierdie rede nie eintlik kommersiële musiek nie omdat ek dit nooit geloofwaardig sal kan sing by vertonings nie,” vertel hy.

René Roux, Helpende Hand se adjunk- uitvoerende hoof van kommunikasie, sê Helpende Hand is trots daarop om hardop saam met Kleinhans te kan sing, leef en gee.

“Hierdie lied bring vir ons hoop. Om te sien hoe mense se harte oopgaan en te kon gee vir Projek 40 het my net weer laat besef daar is altyd hoop. Hierdie lied spreek boekdele. Ons moet kyk na ons mense, ons moet saam staan en kyk na ons Moeder Aarde en ons moet in ons roeping leef om vry en voorspoedig te kan voortbestaan aan die suidpunt van Afrika. Dit was fantasties om saam met Herman te werk – hy is ’n talentvolle man met Godgegewe talente en sy roeping gesels hardop met die roeping van Helpende Hand,” sê Roux.

Projek 40 is ’n deurlopende projek. Besoek www.projek40.co.za om ’n bydrae te maak.

Kyk Kleinhans se video hier:

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.