Voer, studiehulp vir boere in Vrystaat, Kaap en Noordwes

Voer op ‘n vragmotor van Boere Droogtehulp SA. (Foto: Verskaf)

Boere in droogte- en brandgeteisterde gebiede soos die Wes-Vrystaat en dele van die Karoo word tans genoop om te kies of hulle finansieel moet terugploeg in hul plase en of hul kinders se studiegeld betaal moet word.

Só sê Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, wat kragte saam met Boere Droogtehulp SA NPC gesnoer het om Projek 40 van stapel te stuur.

Projek 40 poog om verligting vir boere en hul kinders in die Wes-Vrystaat en Noord-Kaap te bied, asook om bewusmaking van hul lot te skep.

“Nou moet van die boere kies, ploeg hulle al hul geld terug om hul plaas te probeer behou, of betaal hulle hul kinders se studiegeld? Dit is ʼn vraag waarmee baie boere worstel. Ons kan dalk nie die reën bring nie, maar ons kan hulp verleen met voer vir die plaasdiere en ook sorg dat die boere se kinders studeer,” sê Noëth.

“Met Projek 40 gaan ons poog om ʼn nasionale rekord te verbeter deur 40 – of meer – vragmotors met voer na Beaufort-Wes te neem. Ons hooffokus en doelstelling is ook dat ʼn student met die hulp van ons Studiefondssentrum kan studeer vir elke vragmotor wat afgaan Beaufort-Wes toe.

“Dus, 40 vragmotors vol hoop en 40 studente met ʼn hoopvolle toekoms. Boere Droogtehulp SA gaan sorg vir die vragmotors en voer terwyl Helpende Hand gaan sorg dat studente deur sy Studiefondssentrum kan studeer,” sê Noëth.

Noëth verduidelik Helpende Hand het tydens die Covid-19-inperking baie hulp van die land se boere ontvang. Daar was boere wat onder meer tonne groente, vrugte, meel en vleis geskenk het om te sorg dat Helpende Hand aan behoeftige gesinne landwyd kos kan voorsien.

“Die boere in ons land se harte en hande was oop. Waar daar in oorvloed was, het hulle vragmotors vol van kom aflewer by Helpende Hand se Josef Silo’s landwyd. Helpende Hand het meer as 70 Josef Silo’s en ons boere het gesorg dat hierdie silo’s vol bly. Nou moet ons húlle ondersteun,” sê Noëth.

Chris van Biljon, stigter van Boere Droogtehulp SA, sê hulle is trots om met Helpende Hand hande te vat en sodoende ʼn groter verskil as ooit te kan maak.

Volgens Van Biljon het talle individue en organisasies reeds hul harte en beursies oopgemaak en diesel geskenk om die voer te vervoer. Boere Droogtehulp SA het ook die afgelope week saam met die oud-Springbok Bakkies Botha voer na Hoopstad geneem vir boere in dié brandgeteisterde gebied.

Die organisasies doen ʼn beroep op lede van die publiek om by te dra en seker te maak dat hulle die rekord verbeter en sodoende boere en studente se lewe radikaal verander.

ʼn Groep vragmotors vertrek 5 November vanuit Rustenburg. Die volle konvooi sal teen 7 November in Beaufort-Wes eindig.

Besoek www.projek40.co.za om betrokke te raak of ʼn skenking te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Luister ·

Daar is net een moeilike besluit. Jou kind kan altyd later verder studeer, maar jy moet self eers weer op die been kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.