Verlies inspireer jongste Zamudio-snit

Jennifer Zamudio, die Afrikaanse sangeres met die byderwetse haredos en sielvolle stem, het tydens die pandemie en inperking beslis nie op haar louere gerus nie.

Nie net het sy twee duette, een saam met Henri Alant getiteld “Daar’s ʼn rede” en een saam met Riaan Grobler getiteld “Liefdeshartaanval” uitgereik nie, maar ook in Oktober verlede jaar met die wegholtreffer “Dalk” vorendag gekom.

Al die gebeurtenisse van die afgelope jaar het Zamudio geïnspireer om haar jongste enkelsnit, “As ek huil”, te skryf. Tertius BC Pretorius het saam met haar aan die liedjie geskaaf.

Pretorius is ook die skrywer van Zamudio se treffers soos “Altyd myne” en “Dalk”. “As ek huil” is ʼn kragtige ballade met ʼn diep hartseer ondertoon en is eie aan Zamudio se unieke sangstyl.

“Ek het die afgelope tyd baie gestoei met die gedagte van verlies. Verlies aan lewe, verlies aan inkomste, verlies aan werk. So kan die lys aangaan en aangaan.

“Die kort en die lank is dat enige verlies altyd uitloop op hartseer en hartseer loop uit op trane,” verduidelik die sangeres die inspirasie agter die liedjie.

“Mense se seer het by my bly spook. Iemand het eendag dit so mooi gestel deur te sê dat wanneer ʼn mens huil word die vensters van jou hart weer skoon gewas. Met ‘As ek huil’ het ek probeer om die emosie van verlies vas te vang in my musiek, in die hoop dat dit kan help om jou hartsvensters skoon te kan was.”

Sy is gaande oor Pretorius se skryfstyl en is opgewonde dat hulle weer saam kon werk. “Sy bydrae was ʼn ongetwyfelde sielstoevoeging. Hy het net ʼn manier van skryf waaroor ek mal is en ek glo dat ons iewers in die toekoms weer sal saam skryf.”

“As ek huil” word vandag (26 Augustus) om 20:00 eksklusief op Zamudio se Facebook-blad bekend gestel.

Om eerste dié splinternuwe liedjie te hoor, besoek Zamudio se blad hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.