Video: Morné wil ‘bemoedig, inspireer’ met musiek

Morné. (Foto: Charles Ackerman)

Vir die sanger Morné is dit belangrik dat sy musiek ’n positiewe boodskap uitdra wat luisteraars kan bemoedig en inspireer.

Sy solodebuut-enkelsnit “Vandag” is geen uitsondering nie, sê hy. Die liedjie spog ook van vandag (Vrydag) af met ’n splinternuwe musiekvideo wat eerste op Maroela Media te sien is.

“’n Mens moet ophou wag en hoop vir ’n beter ‘eendag’ en begin waag en doen. Wees elke dag gelukkig met die klein dingetjies. Daar is geen beter tyd as nou om jou drome en passie na te jaag nie,” verduidelik hy die boodskap van die snit.

“Vandag” is ’n lekkerluister popsnit uit die pen van liedjieskrywer Vaughan Gardiner. Morné vertel die liedjie lê hom na aan die hart omdat hy self onlangs besluit het om ’n kans te waag en sy eie droom na te jaag.

“Ek is al ’n rukkie in die gospelmusiekbedryf en het op 15-jarige ouderdom in die kerk begin kitaar speel. Ek wou egter nog altyd graag iets kontemporêrs doen, want daar is geen rede waarom ’n mens nie ’n positiewe, bemoedigende boodskap op so ’n manier kan uitdra nie. Ek het besluit om ’n kans te waag en het Vaughan genader met my idee vir die konsep van die liedjie.

Morné. (Foto: Charles Ackerman)

“Dit is vir my self ’n groot stap in my lewe om nie te wag nie en om nou iets te doen. Almal het iets in die hart wat hulle graag wil bereik of doen, maar ’n mens is altyd so bang vir mislukking, wat ander daarvan gaan sê of dat ons ons eie passie versmoor.”

Die 36-jarige sanger vertel dat 2020 vir hom ’n geseënde jaar was, ten spyte van die Covid-19-pandemie wat die ganse wêreld omvergewerp het. Hy en sy vrou, Zani Coetzee, het ’n babadogtertjie ryker geword in Augustus én hy het besluit om sy kans op ’n loopbaan in die Afrikaanse musiekbedryf te waag.

“Vandag is jou dag. As ons almal daardie kopskuif kan maak, kan ons gelukkig wees. Jy weet nie of daar ’n môre gaan wees nie.”

Morné het ook verlede jaar ’n proeseltjie van musieksukses gehad toe hy saam met die groep VirAnder die Amerikaanse gospelgroep Bethel Music se lied “I Raise a Hallelujah” in ’n Afrikaanse weergawe getiteld “Sing ’n Hallelujah” vertaal en uitgereik het.

Die liedjie het in Maart verlede jaar die Maroela Media Afrikaanse Top-20 betree en is in Desember aangewys as een van die jaar se top-40 snitte op dié gesogte treffersparade.

“Ons was so geseënd om daardie liedjie te kon uitreik. Ons was mal oor die oorspronklike weergawe en wou hom graag in Afrikaans vertaal, want as jy iets in jou eie taal doen, is dit soveel meer persoonlik en dra dit soveel meer betekenis.

“Die liedjie het op ’n baie goeie tyd uitgekom – om vir mense te midde van ’n storm en onsekerheid hoop te gee en ’n boodskap uit te dra wat sê ons gaan steeds ‘hallelujah’ sing, al weet ons hoe groot die vyand is.”

Morné. (Foto: Charles Ackerman)

Hy sê die terugvoer wat hulle oor die liedjie gekry het, was oorweldigend. “’n Vrou wat haar seun verloor het, het vir ons laat weet dat die liedjie haar deur daardie moeilike tyd gedra het. Ek eer die Here daarvoor.”

Die musiekvideo vir “Vandag” is geskiet in ’n woud by die Dunkeld Country & Equestrian Estate in Dullstroom, waar hy en sy vrou getroud is. Die venue is ook geleë reg langs die plaas waar sy vrou se oupa boer en daarom hou dié stukkie aarde vir hom groot sentimentele waarde in.

“Ek wou die video graag skiet op ’n plek wat vir my iets beteken. Die woorde van die liedjie spreek eintlik vanself, daarom het ek gevoel dat ek eerder ’n ‘optrede-video’ wou hê as een wat ’n storie vertel,” deel hy.

“Ek wil oor dinge skryf en sing wat ek in my eie lewe ervaar én reeds ervaar het en wat vir my iets beteken, asook positiewe, inspirerende musiek skep oor dinge waarmee ons almal elke dag te doen kry.”

“Vandag” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.