ATKV-Tienertoneel: Kom stem vir jou gunsteling uit die top-12

(Foto: ATKVSA)

Die top-12 deelnemers aan vanjaar se ATKV-Tienertoneel-kompetisie is pas aangewys. Sewe mentors, onder wie Amalia Uys, Jacques Bessenger, Waldemar Schultz, Ira Blanckenberg, Wilhelm van der Walt, dr. André Gerber en Henriëtta Gryffenberg, was deel van die beoordelingsproses.

Waar leerders vantevore hul staal op die verhoog sou wys, moes deelnemers vanjaar nuutgeskrewe monoloë voor ’n kamera laat lewe kry. Dit moes by die voorgeskrewe temas inpas, wat “huis”, “isolasie”, “ingeperk”, “staties” en “alleen” insluit.

Volgens Gryffenberg het die Covid-19-pandemie gedreig om vanjaar se ATKV-Tienertoneel-kompetisie ʼn nekslag toe te dien.

“Die gemak waarmee die deelnemers die nuwe medium omarm het, het nie net uitstekende toneelspel opgelewer nie, maar het ook bewys hoe vindingryk jongmense met verandering kan omgaan,” voeg sy by.

Die kompetisie het vanjaar 223 inskrywings ontvang. “Die top-20 is in September aangekondig en dié finaliste het die geleentheid gehad om aan hul werk te skaaf na gelang van terugvoering deur die ATKV-Tienertoneel-mentors,” sê JJ van Niekerk, projekorganiseerder van ATKV-Tienertoneel.

“Die inskrywings was van ’n hoogstaande gehalte. Hierdie aangepaste inskrywings is deur die paneel tydens die semi-finale ronde beoordeel en die sogenaamde super-12 gaan skitter met hul laaste aangepaste weergawe van hul nuutgeskrewe monoloog tydens die finaal.”

Die finaal is gratis en gaan première op die ATKV se Facebook-blad en YouTube-kanaal. Die publiek kan ook vanjaar vir die eerste keer vir ʼn gunsteling-deelnemer stem.

Die top-12 se semi-finaal-opnames is op die ATKV se webwerf te sien en kan voor gestem word deur op die gepaste skakel te klik. Wanneer jy stem, sal jy outomaties in aanmerking kom vir ’n kontantprys van R1 000.

Die finaal vind op Saterdag 14 November regstreeks via Facebook plaas. Hier is die top-12:

  • Alma van Heerden van die Kuswag Skool met “Alleen”.
  • Anja Pieterse van die Hoërskool Stellenbosch met “Altyd Johan”.
  • Chrizelle Strydom van die Hoërskool Upington met “Wegbreek”.
  • Elzaan Daniels van die Hoërskool Jan van Riebeeck met “Skeletons”.
  • Eckard van Heerden van Grey-Kollege Sekondêr Bloemfontein met “Die bloed in my oë”.
  • Jeanne-Marié Koekemoer van die Hoërskool Stellenbosch met “Val”.
  • June Kruger van die Hoërskool Parel Vallei met “Okay Cool”.
  • Jurie Boshoff van die Hoërskool Hugenote met “Kollig”.
  • Lisa Kukard van die Hoërskool Durbanville met “My Matilda en die Chinees”.
  • Merwe van Gent van die Hoërskool Wesvalia met “Ingeperk”.
  • Nichola Viviers van die Hoër Meisieskool Bloemhof met “Bonuspunt”.
  • Ninke Theron van die Hoërskool Stellenbosch met “Mamma en ek”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.