KKNK 2020: Legio toneelstukke vanjaar op die planke

Sandra Prinsloo in die produksie “Kamphoer”. (Foto: Verskaf)

Die program vir die 26ste Klein Karoo Nasionale Kunstefees, wat van 23 tot 29 Maart 2020 in Oudtshoorn plaasvind, bied uiteenlopende en uitstaande vermaak vir die hele gesin.

“Die feesprogram vir 2020 is saamgestel om aan ieder en elk iets te bied,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van Kunste Onbeperk, die organisasie wat die KKNK aanbied.

“Ons wil hê families en vriende moet hier in die Klein-Karoo kom ontspan en wegbreek van die alledaagse. Gratis vermaak en gesprekke word aangebied en jy kan die fees inneem sonder om jou sente te veel om te draai. Ons bied net die beste aan en jou gunsteling-kunstenaars is almal deel van die program. Dit sluit baie debute, maar ook die beste werk van die afgelope jaar in. Jy kan hier rojaal kom fees vier!”

Opwindende nuus is Nicola Hanekom se terugkeer ná ’n paar jaar se afwesigheid met die toneelstuk, Mirre en aalwyn. Hanekom is bekend vir haar trilogie, Babel, Lot en Betésda, en die hartverskeurende Land van skedels waarmee sy groot sukses oor die jare op die KKNK behaal het. Vinette Ebrahim, Amalia Uys, Kenley Swart en ʼn Hanekom-gunsteling, Gretha Brazelle, is van die akteurs wat in dié produksie te sien sal wees.

Opdrifsel is ʼn nuwe Philip Rademeyer-teks. Dié toneelstuk waarvan hy ook die regie behartig, vertel die storie van ʼn ouerpaar, gespeel deur Tinarie van Wyk Loots en Brendon Daniels, wat die dood van hul tienerseun probeer verwerk.

Cintaine Schutte sal by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees te sien wees in ‘Tien duisend ton’. (Foto: Nardus Engelbrecht)

Die bekende regisseur, skrywer en aktrise Lizz Meiring woeker met ʼn inspirerende ware lewensverhaal in Die atleet. Dis die storie van ʼn jong weeskind en ʼn ouer vrou en hoe albei se lewe verryk word deur atletiek.

Anna-Mart van der Merwe, Stian Bam, Edwin van der Walt, Carla Smith en André Roothman is die ensemble in een van Europa se mees gevierde teaterskrywers, Lars Norén, se Terminaal 3, met regie deur Marthinus Basson. Dit speel af in ʼn hospitaalwagkamer waar ʼn jong ouerpaar wag op die koms van hulle eersteling, terwyl ʼn ouer geskeide paar die lyk van hulle 19-jarige seun moet uitken.

Karatara is ʼn debuutproduksie aangebied deur die dinamiese Figure of 8-dansgeselskap wat die verlies binne ʼn gemeenskap ná die Knysna-brande deur middel van beweging en teks met besondere trefkrag uitbeeld.

Rehane Abrahams maak ook gebruik van ʼn kombinasie van genres in Brandbaar, ʼn vertaling deur Jason Jacobs van haar baie opwindende Womb of Fire. Met regie deur Sarah Matchett en sang deur Lukhanyiso Skosana ondersoek en bevraagteken sy haar herkoms.

Lara Foot se treffende The Inconvenience of Wings, vertaal deur Saartjie Botha as Die vermoeienis van vlerke, ondersoek bipolêre versteuring en die impak van geestesongesteldheid op ʼn egpaar en ook diegene in die binnekring van hulle lewe. Die regie word behartig deur die bekwame Sylvaine Strike met Frank Opperman en Henriëtta Gryffenberg as die kompulsiewe en gekompliseerde egpaar en Chris Gxalaba as ʼn besoekende akademikus.

Queenie-hulle, geskryf deur die regisseur Christo Davids met onder andere Jill Levenberg en Brendon Daniels, en Tien duisend ton, met Cintaine Schutte en Albert Pretorius, is twee toneelstukke wat reeds met groot sukses op ander feeste opgevoer is.

Hawelose Kaapse bergies en hul kwesbaarheid is op die spel in Queenie-hulle en in Tien duisend ton bekyk ’n jong paartjie hul verlange na ʼn kind, die impak van klimaatsverandering op hul besluite en die vermoë om aan te pas in die vinnig-veranderende wêreld. Albei toneelstukke is benoem vir ’n hele paar kykNET Fiësta-toekennings wat vroeg in Februarie aangekondig word.

Die gedugte akteurs Jana Cilliers en Dawid Minnaar span saam in Wilde-als, geskryf deur Wessel Pretorius, wat ook die regie behartig. Dis ʼn stuk wat kreatiwiteit ondersoek op ʼn heerlike kreatiewe manier.

Dawid Minnaar sal in die produksie “Wilde-als” by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees te sien wees. (Foto: Mariné Lourens/Maroela Media)

Daar is ook ʼn hele paar lekker solo-stukke: onder meer die teaterveteraan Sandra Pinsloo in Kamphoer: Die verhaal van Susan Nell, die veelsydige Cintaine Schutte in Die dinge van ʼn kind, ʼn nostalgiese Hannes van Wyk in Sê groete vir Ma, ʼn vermaaklike Chris Vorster in Die hart verklap en ʼn verspotte Dowwe Dolla: Nou of nooit!

Die fantastiese sanger Zolani Mahola, bekend as die hoofsanger van Freshlyground, vertel haar eie verhaal in die inspirerende solo-vertoning The One who Sings, gelei deur die knap regie van die teaterdeskundige Faniswa Yisa as kreatiewe regisseur.

Feesgangers kan munt slaan uit die Afskop-promosie – ʼn Kuierbuurt-weekkaartjie kos slegs R250 vanaf 16 Desember 2019 tot 24 Januarie 2020. Die Kuierbuurt sal vanaf 24 Maart oop wees vir besoeke deur feesgangers.

Ons Goue-promosie bied ʼn Kuierbuurt-weekkaartjie vir slegs R225 vir 70-jariges en ouer. Dié kaartjie is van 16 Desember 2019 tot 23 Maart 2020 beskikbaar by Shoprite/Checkers en House&Home (neem ʼn ID-dokument saam).

Daar is ook ʼn spesiale promosie vir Oudtshoorniete wat tussen 27 en 31 Januarie 2020 slegs by die Kunste Onbeperk-kantoor beskikbaar gaan wees. Hulle moet slegs ʼn bewys van adres saambring om ʼn Kuierbuurt-weekkaartjie teen slegs R200 te koop. Die weekkaartjie sluit alle konserte, musiek en markte in wat die Kuierbuurt dwarsdeur die feesweek aanbied.

Feesgangers kan die volledige program by www.kknk.co.za aflaai om hulle fees voortydig te beplan. Kaartjies is reeds beskikbaar by Computicket, Shoprite/Checkers en House&Home. Die KKNK-personeel staan reg om feesgangers te help om verblyf te bespreek. Stuur gerus ʼn e-pos na [email protected] of skakel 044 203 8600.

Vir enige ander navrae skakel 044 203 8600 of stuur ʼn e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.