‘Tuisteater-projek’ vol lawwe verhale eersdaags by Die Boer te sien

Cintaine Schutte en Wilhelm van der Walt. (Foto: Jeandré Hammond)

Kaapse teaterliefhebbers kan weer hul vere begin regskud vir die veelsydige produksie, Mutton Hour, wat van 21 tot 22 Februarie by Die Boer-restaurantteater in Durbanville te sien gaan wees.

Cintaine Schutte, De Klerk Oelofse, Gideon Lombard en Jemma Kahn het Mutton Hour as ʼn tuisteater-projek gedurende die Covid‑19-inperking geskep. Hul idee was om teater toegankliker vir mense te maak, met teaters wat noodgedwonge hul deure gesluit het en kunstefeeste wat nie kon plaasvind nie.

“Ons wou teater op ’n verantwoordelike manier na mense toe bring. Dis toe dat ons begin speel het met idees oor geleenthede wat nie noodwendig ten volle benut word nie,” het Cintaine voorheen aan Maroela Media vertel.

Mutton Hour is saamgestel uit verskillende sketse en kortverhale waar daar onder meer van Japannese kamishibai-toneelspel wat op ’n klein toneelbord plaasvind, gebruik gemaak word om lawwe stories oor liefde, verlies, krokodille en katte te vertel.

“Dis ’n houtboks met geïllustreerde prente wat gebruik word om die storie te vertel. Jemma het dié tegniek in Japan geleer en dit aan Suid-Afrikaanse gehore kom voorstel,” verduidelik Cintaine.

Danksy sy unieke formaat is Mutton Hour dus ewe tuis op die planke én in Jan Alleman se huis.

Cintaine en Wilhelm in “Mutton Hour”. (Foto: Jeandré Hammond)

Met 13 uitverkoopte vertonings by verlede jaar se Toyota US Woordfees in Stellenbosch is die produksie nou op pad na Jurgen Human en Margit Meyer-Rödenbeck se bekende restaurantteater in Durbanville – waarin ʼn deel van Mutton Hour toevallig afspeel.

“Die Boer-teater het deur die jare werklik ʼn huis vir kunstenaars geword. Margit en Jurg het ʼn baie gesellige atmosfeer geskep waar jy heerlik saam met vriende kan eet en kuier en dan agteroor kan sit om ʼn vertoning te geniet,” vertel Cintaine.

Dit sal Wilhelm van der Walt, wat teenoor haar in dié teaterstuk speel, se heel eerste keer op Die Boer-teater se verhoog wees.

“Ek sien vreeslik daarna uit om op daai verhoog te kom en die atmosfeer daar te voel, veral met ʼn unieke stuk soos Mutton Hour. Ek dink mense sal dit baie geniet. Ek kan nie wag om dit met gehore daar te deel nie,” het Wilhelm gesê.

Koop vandag nog jou kaartjies vir Mutton Hour hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.