Video: Akteurs se hegte band wys op verhoog

Albert Pretorius en Cintaine Schutte. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Die benarde stand van ons planeet en die ekologiese uitwerking van ʼn baba in die lewe bring is kwessies waarmee Cintaine Schutte en Albert Pretorius se karakters drie jaar terug in die produksie Tien duisend ton op die verhoog geworstel het.

Die wêreld het onherroeplik verander sedert dié verhoogstuk sy debuut by die US Woordfees in 2019 gemaak het, maar danksy dié twee hoërskoolvriende se hegte band het hulle nie gesukkel om terug in hul karakters se verwikkelde skoene post-Covid-19 te klim nie.

Maroela Media het agter die skerms by die geskiedkundige Mark Teater in Newtown, Johannesburg, gaan kuier, waar Schutte en Pretorius weer in Tien duisend ton tot 5 Februarie 2023 te sien is.

Dié produksie is deur Carel Nel in opdrag van die US Woordfees vervaardig, met teks deur Duncan MacMillan (oorspronklik Lungs) en stelontwerp en regie deur Nico Scheepers.

In dié produksie sit die gehoor reg rondom die speelvlak. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Sonder ʼn stelontwerp, rekwisiete of beligtingveranderinge maak die twee akteurs ook net op die teks en mekaar staat om lewe aan hul karakters se wêreld te gee. Die gehoor sit boonop reg rondom die speelvlak en word nes die akteurs belig – wat vir ʼn intieme en byna voyeuristiese atmosfeer sorg.

Schutte en Pretorius het reeds op hoërskool saam hul akteurstande in die teater begin slyp en glo dat hul hegte vriendskap ʼn ander soort egtheid op die verhoog laat intree.

“Dit is eintlik ʼn luuksheid om saam met iemand te werk wat jy goed ken, want ongelukkig is ons repetisietydperke in Suid-Afrika dikwels korter. Ons kan mekaar goed lees en daar is ʼn byna brutale eerlikheid, maar ook respek,” sê Schutte, onder meer bekend vir haar rolle in televisiereekse soos Phil 101 en Die Byl.

Die geskiedkundige Mark Teater in Johannesburg, waar ‘Tien duisend ton’ tans op die planke is. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Sy het selfs destyds vir Pretorius na sy matriekafskeid vergesel. “Tot vandag toe kan ek nie van Albert ontslae raak nie, hy’s selfs nou my buurman,” voeg sy tergend by.

“Daar is 21 jaar se geskiedenis tussen ons, ons het al saam gelag en gehuil en oor diep goed gepraat. Dit maak 100% ʼn verskil, want daar is intieme en rou oomblikke in die produksie wat moeiliker sou wees om saam met iemand wat jy eers met repetisietydperk leer ken het, vas te vang,” vertel Pretorius, wat bekend is vir sy rolle in reekse soos Nêrens, Noord-Kaap, Waterfront en Die Spreeus.

  • Tien duisend ton is tot 5 Februarie by die Mark Teater te sien. Kaartjies is hier te koop.
  • Luister na die volledige onderhoud boaan die berig.
  • Kyk die video van Maroela Media se besoek agter die skerms hier:

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

George ·

Hy was fantasties in Nerens, Noord Kaap. Glo dit of nie, Cindy Swanepoel, een van die beste verhoog aktrisses wat ek nog gesien het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.