Teaters skud vere reg vir inperkingsvlak 1-vermaak

Foto: Bruno Cervera/Unsplash

Met die aankondiging dat Suid-Afrika na inperkingsvlak 1 skuif en maatreëls ook verslap is, het die vermaakbedryf nie op hom laat wag om weer aan die gang te kom nie.

Plaaslike teaters en venues soos die Atterbury-teater en Die Blou Hond in Pretoria en Die Boer in Durbanville het reeds propvol kalenders waarna gehore kan uitsien.

Maroela Media het ondersoek ingestel en ʼn lys van teaters saamgestel wat binnekort hul deure vir teatergangers oopmaak.

Atterbury-teater

Op 28 September stel Matthys Roets sy jongste album Reën op unieke wyse bekend.

Nataniël (Foto: Verskaf)

“Ons draai die verhoog om sodat jy die vreugde en die towerkuns van die verhoog self, saam met my, kan ervaar,” sê Roets.

Teatergangers word genooi om ʼn driegangmaaltyd en vertoning bó-op die Atterbury-teater se verhoog te geniet. Stephnie’s Restaurant bedien die kos en daar is ʼn kontantkroeg beskikbaar.

Die vertoning begin om 17:30. Kaartjies kos R695 en is aanlyn by iTickets te koop. Slegs 50 kaartjies beskikbaar.

Nataniël se gewilde GESELS begin op 3 Oktober. Dié vertoning bevat nuwe inhoud wat gehoorlede sal laat skater van die lag. Nataniël gesels oudergewoonte met deernis, insig en humor. Hy raak ook aan gewigtiger onderwerpe soos aanvaarding, skok, ouderdom en verjonging. Teatergangers kan vooraf hul vrae anoniem neerskryf en in ʼn houer gooi wat dan gedurende die vertoning deur Nataniël beantwoord word.

Karen Zoid (Foto: Anelia Loubser)

Nataniël se Kaalkop-opwipwinkel sal tydens sy vertonings beskikbaar wees. GESELS wys ook op 10, 17 en 24 Oktober. Kaartjies kos 250 en is aanlyn op iTickets beskikbaar. Geen kinders onder die ouderdom van 15 word toegelaat nie.

Op 4 Oktober word die rooi tapyt vir Karen Zoid uitgerol. Dit is haar eerste konsert voor ʼn gehoor in byna sewe maande. Die vertoning begin om 18:00. Kaartjies kos R300 en is hier beskikbaar.

Optredes deur Spoegwolf, Amanda Strydom, Charl du Plessis Trio en Rocco de Villiers word ook in die vooruitsig gestel. Hou die Atterbury-teater se webwerf dop vir meer inligting.

Die Boer

Die Boer-teaterrestaurant het op 24 September oopgemaak. Om aan die Covid-19-regulasies te voldoen, word slegs 70 gaste in die restaurant toegelaat.

bottomless coffee band

Bottomless Coffee Band

Musiekliefhebbers kan op 27 September naderskuif vir ʼn middagvertoning deur Bottomless Coffee Band. Die vertoning begin om 13:30 en kaartjies kos R165. Klik hier vir meer inligting.

Van 1 tot 4 Oktober stel Matthys Roets sy jongste album Reën bekend. Kaartjies kos R150 en is op Die Boer se webwerf beskikbaar.

Andriëtte, Dowwe Dolla, Tasché, Jan Blohm en Danie du Toit is ook later die maand by Die Boer te sien. Kykers kan boonop uitsien na die verhoogverwerking van Marita van den Vyver se Die dinge van ʼn kind, met Cintaine Schutte in die hoofrol. Besoek die webwerf vir meer inligting oor tye en kaartjieverkope.

Die Blou Hond

Van 25 tot 27 September is Steve Hofmeyr te sien in Country Collection Volume 3. Andriëtte kuier op 1 Oktober by Die Blou Hond met ʼn vertoning van liedjies wat op haar jongste album Hartsland verskyn. Adam Tas tree 2 Oktober op en Susan Coetzer bied op 3 Oktober ʼn vroueoggend aan.

Steve Hofmeyr (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Vir meer inligting skakel Die Blou Hond by 012 348 8820 of stuur ʼn e-pos aan [email protected] om kaartjies te bespreek.

Maroela Media het vroeër berig dat alle gesondheidsprotokol op vlak 1 van krag bly: Die dra van maskers, om jou hande gereeld te ontsmet en te was en om sosiale distansiëring van 1,5 meter toe te pas.

Vlak 1-regulasies is aangepas sodat beperkings op sosiale, politieke, godsdienstige en ander byeenkomste verder opgehef word tot 50% van die normale kapasiteit van die venue of fasiliteit met ʼn maksimum van 250 persone vir binnenshuise geleenthede en 500 persone vir buitemuurse geleenthede.

Venues vir oefeninge, ontspanning en vermaak, soos gimnasiums en teaters, mag nou tot 50% van die kapasiteit van die vloerspasie toelaat, onderworpe aan sosiale distansiëring en ander veiligheidsprotokol.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.