‘Afskaal’ hoop om deelnemers se lewe handomkeer te verander

Asfksaal-deelnemer Noelien. (Foto: Verskaf)

ʼn Misdaadondersoekbeampte van Boksburg, ʼn mamma van tweelingdogters en ʼn seun, en ʼn diereliefhebber is van die deelnemers wat op kykNET en Slender Wonder se jongste program, Afskaal, Donderdagaande te siene gaan wees.

Die reeks, wat die deelnemers in die loop van die volgende 13 weke in hul stryd teen gewig gaan volg, word deur Elana Afrika-Bredenkamp aangebied en stel vier Suid-Afrikaners vanuit Gauteng aan die land voor.

Die gelukkig getroude ma van twee volwasse seuns, Beverley van Boksburg, voel die tyd is reg om ontslae te raak van haar “mollige beskrywing”. Tans weeg sy 114,4 kg, maar haar ideale gewig is 90 kg. “Ek wil graag weer die agt verdiepings se trappe in die polisiegebou in Germiston, waar ek as misdaadondersoekbeampte werk, uitklim sonder om uitasem bo uit te kom.”

Volgens haar sal sy ʼn lekker stuk vis met oorgenoeg suurlemoenbottersous die meeste mis wanneer sy haar eetgewoontes aanpas. “Die vooruitsig van die onbekende maak my bang en senuweeagtig, maar ek is grotendeels opgewonde oor die reis,” sê sy.

Nog ʼn deelnemer is die 40-jarige Jandri van Clubview, Centurion. As ma van ʼn 12-jarige seun en negejarige tweelingdogters wil sy graag haar huidige gewig van 103,8 kg afskud na so 78 kg. Dié sjirurgiese konsultant, wat al 15 jaar getroud is, reken sy sal haar gunstelingpakkie aartappelskyfies mis.

Afskaal-deelnemer Hennie. (Foto: Verskaf)

Hennie van Randfontein werk by LIXIL Africa in Krugersdorp. Hy is 30 jaar oud, getroud en pa van ʼn driejarige en ʼn vyfjarige. Hennie weeg tans 149,1 kg, maar mik om dit af te bring tot 110 kg. “Ek wil weer kan beweeg en met my kinders speel. My  energievlakke is nou baie laag.” In sy pad staan menige Afrikaanse manne se probleem: braai, veral wanneer hy die volgende oggend sy eie Dagwood-broodjie met die oorskietkos bou.

Die 41-jarige Noelien, wat tans 106 kg weeg, gaan aan die program deelneem om genoeg gewig af te skud om haar doelwit van 75 kg te bereik. Noelien, ʼn voorsieningskanaalbestuurder van Meyerton, erken sy het ʼn groot selfbeeldprobleem en dat haar gewig al tot spanning in haar huwelik bygedra het. Sy het in 2016 in vitro bevrugting- (IVB-) behandeling beproef wat onsuksesvol was en tot verdere druk bygedra het.

“My deelname aan hierdie program gaan my lewe handomkeer verander.” As sy agt goed moet kies waarsonder sy nie kan gaan nie, is dit haar ses katte, een hond en ʼn lekker sjokolade-croissant.

 Afskaal word vanaf vandag, 10 Oktober, om 17:30 op kykNET (DStv 144) uitgesaai, met heruitsendings op kykNET & Kie, Donderdae om 21:00 vanaf 17 Oktober.

Volg kykNET en Slender Wonder op sosiale media vir die jongste nuus.

Vir meer inligting en om ander suksesverhale te lees, besoek www.slenderwonder.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.