‘Boer soek ’n vrou’: Tyson vanjaar se gewildste boer

Vanjaar se topvyf-boere. V.l.n.r is Tyson, Johan, Willem, Nelis en Petré. (Foto: kykNET)

Die 33-jarige boer Tyson van Bergville in KwaZulu-Natal het amper op sy rug geval in vanaand (Donderdag) se episode van Boer soek ʼn vrou, toe hy as vanjaar se gewildste boer met die meeste briewe aangewys is.

Hy het duidelik die land se enkellopende vroue se voete onder hulle uitgeslaan. Tyson het vyf groot sakke briewe ontvang van vroue reg oor die land wat graag met hom wil kennis maak en by hom wil kuier op sy saai- en beesplaas.

Boere Willem (38), Nelis (32), Johan (29) en Petré (26) maak die res van vanjaar se topvyf uit.

Tyson, wat vroeër teenoor Marciel Hopkins, die aanbieder van die program, gebieg het dat hy dalk sal sukkel om iemand in sy spasie toe te laat aangesien hy al lank enkellopend is, moes deur hordes briewe werk om uiteindelik tien vroue te kies wat hy op blitsafsprake in die Kaap gaan ontmoet.

Boer Tyson is vanjaar se gewildste deelnemer en het vyf groot sakke vol briewe ontvang. (Foto: kykNET)

Hy het aan Maroela Media gesê dat hy self aanvanklik gehuiwer het of hy aan die program wil deelneem en dat sy suster hom sonder sy medewete ingeskryf het.

Volgens Tyson was hy geskok toe die vervaardigers van Boer soek ʼn vrou hom bel om aan die program deel te neem. Juis daarom was hy nog meer uit die veld geslaan toe Marciel hom meedeel dat hy vanjaar se gewildste boer met die meeste briewe is.

“Ek is maar net ʼn boer, ʼn gewone ou met ʼn plaasleefstyl en hier is ek skielik op ʼn televisieprogram met die meeste briewe,” het ʼn verslae Tyson gesê.

Hy het, net soos die ander vier boere in die topvyf, slegs 24 uur gehad om die tien vroue wat hy in die Kaap wil ontmoet, te kies.

Tyson het ʼn paar van sy naaste vriende en familielede ingespan om hom te help om deur die briewe en pakkies te sif en dié te kies wat sy oog gevang het.

“Ek het probeer om nie net op ʼn mooi gesiggie te fokus nie, maar om ook na die groter prentjie te kyk – hoe lyk haar agtergrond, haar familiegeskiedenis, wat doen sy vir ʼn lewe en wat is haar stokperdjies. Dit gaan vir my nie net oor voorkoms nie, ek is op soek na ʼn hele pakket.”

Hy sê hy gaan tydens die blitsafsprake kyk of die opsomming wat hy op grond van die briewe van die vroue gemaak het, in die kol was. Hy gaan ook kyk hoe die vroue hulself handhaaf onder die druk wat op ʼn mens geplaas word in ʼn ongewone situasie, soos om voor ʼn kamera iemand nuut te ontmoet.

“Ek wil graag sien hoe ʼn vrou dit hanteer wanneer sy in ʼn moeilike of ongemaklike situasie geplaas word. Natuurlik gaan ek ook staat maak op wie my oog vang. Dis maklik om iemand se foto raak te sien, maar wanneer jy hulle in persoon ontmoet, sien jy hulle in ʼn ander lig.”

Hy vertel hy het ʼn magdom lekkernye en speelgoed vir sy geliefde pointer-hond, Bullet, gekry. “Ek dink hy het genoeg lekkernye vir die res van die jaar,” skerts Tyson.

“Die moeite wat die vroue met die pakkies gedoen het, het my regtig verstom.”

Boer Willem, wat op Philippolis in die Vrystaat met skape en beeste boer, sê hy was net so verbaas dat hy die topvyf gehaal het.

“Ek het werklik nie verwag dat ek die Boer soek ʼn vrou-reis op die kassie enduit sou moes deursien nie; so ek was baie verbaas toe Marciel sê ek gaan Kaap toe. Dit het ʼn rukkie gevat om in te sink.”

Hy stem saam met Tyson dat die moeite wat die vroue met die pakkies gedoen het, oorweldigend was. “Ek het dit ontsettend waardeer en baie van die lekkernye soos sjokolade en biltong het handig te pas gekom wanneer ek laatnag op die plaas lus geraak het vir iets lekker. Ek kon selfs gaste bederf met die beskuit wat ek gekry het.”

Die 26-jarige boer Petré, wat in verlede week se episode vir Marciel op sy plaas in Vierfontein in die Vrystaat vermaak het met sy sweepklap-vaardighede en droë sin vir humor, sê hy is “bitter opgewonde” om een van die topvyf‑boere te wees.

“Onder normale omstandighede sou ʼn ou dalk meer geneig wees om ʼn koffieafspraak met ʼn meisie te kanselleer en om eerder saam met jou vriende te gaan skiet, maar met dié proses word ek verplig om die meisies te ontmoet en uitstappies mee te maak. Dit is ʼn baie goeie ding,” sê Petré.

Hy sê hy gaan met die blitsafsprake nie te veel fokus op of ʼn vrou van ʼn plaas afkomstig is nie. “Ek sê nog altyd ek soek nie noodwendig ʼn boervrou nie, ek soek ʼn boer se vrou. Selfversekerdheid in ʼn vrou maak beslis ʼn groot verskil.”

Volgens boer Johan, van Marquard in die Vrystaat, was hy ook stomgeslaan dat hy een van die boere is wat die meeste briewe gekry het.

“Ek het ongelooflik baie goed gekry. ʼn Mens voel eintlik sleg dat jy nie elke vrou kan bedank vir die moeite wat hulle gedoen het met hulle briewe en pakkies nie. Hulle het tot goedjies vir my honde ingepak en dit is baie oulik.”

Boer Nelis, wat ʼn veeboer van die Vaal Marina in Gauteng is, sê dit is vreesaanjaend dat hy sy hartsake so op die kassie met kykers moet deel, maar hy is baie opgewonde om deel te wees van die proses.

Hy en drie vriende het saam deur sy briewe gelees en ʼn kortlys gemaak. “Ek wou seker maak ek mis niks. Met die blitsafsprake gaan ek kyk of daar iets meer is wat in die vroue steek as wat hulle in die briewe van hulleself verklap.”

Volgende week ontmoet die topvyf‑boere hulle gekose vroue in Kaapstad.

Boer soek ʼn vrou is elke Donderdagaand om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.