‘BSV’: Deelnemers maak van naderby ogies

Louis M saam met Laurette en Anja op sy plaas in Bela-Bela. (Foto: kykNET)

“Ek is reg vir die uitstemmery môre, so, ek is opgewonde oor die toekoms. Ek dink daar kan net goeie dinge van kom. Ja, ek dink ek het my keuse gemaak.”

Só het boer Philru, wat op Petrus Steyn in die Vrystaat boer en tans saam met Sumari en Lané op sy plaas kuier, in Donderdagaand se episode van Boer soek ʼn vrou op kykNET gesê.

Terwyl Sumari nog haar gevoelens wegsteek, is Lané meer openlik oor haar gevoelens vir die blondekop Vrystaatse boer.

Die boere en die vroue op die plase het die geleentheid gekry om alleentyd saam deur te bring. Dieper kwessies is tydens dié gesprekke aangeraak.

Boer Louis M en Anja, die donkerkop Kaapse meisie wat op sy plaas in Bela-Bela, Limpopo, kuier, het gepraat oor die afstand tussen hulle en of dit prakties sou werk as hulle ʼn langafstandverhouding sou aanknoop.

Laurette, wat ook op Louis M se plaas kuier, het blatant gesê dit is tyd dat Louis M wys waar sy hart lê.

Sumari en Lané saam met Philru op sy plaas in Petrus Steyn. (Foto: kykNET)

“Ek hou nie daarvan om deurmekaar te wees nie. Ek hou van sekerheid. Ek is g*tv*l, sorry. Ja, ek is dik oor dit [sic],” het sy gesê.

“Ek is 23. Ek het nie ingeskryf vir klein geskenkies en TV time nie, want ek hou van standvastigheid. Ek hou van ʼn verhouding. Ek wil trou, ek wil kinders hê. Dis my doel in die lewe.”

Op boer Francois se volstruisplaas in Oudtshoorn, het hy benadruk dat hy wil hê die vroue moet meer vir hom wys hoe hulle voel, terwyl hy nog sy kaarte naby aan sy bors speel.

Vanessa het tydens haar alleentyd met die boer gesê sy kan sien hoe sy vir hom lief raak, terwyl Francois gevoel het hy nie genoeg by Lorinda gekry het nie.

Boer Francois se kompeterende kant het ook tydens ʼn potjie potspel te voorskyn gekom.

Louis B gesels met Rachie op sy plaas op Ottosdal. (Foto: kykNET)

“Ek weet nie hoe om nog meer vir Francois te wys ek stel belang nie. Ek is dan nog hier!” het Lorinda gesê.

Op boer Hennie se plaas in Moorreesburg is beide hy en die vroue ewe geheimsinnig oor na watter kant hulle koppe staan.

“Op die einde sal ʼn gedeelde gevoel van belangstelling sekerlik die deurslag gee,” het Hennie gesê.

Dit lyk of boer Louis B van Ottosdal ook sukkel om ʼn besluit te neem. “Albei die meisies is baie oulik,” het hy gesê.

Boer soek ʼn vrou is elke Donderdagaand om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien. Dit word ook op CatchUp uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Staal ·

Hierdie reeks se naam moet verander word na Vrou soek ‘n Boer,want dit word van die dames verwag om die boer te beïndruk. As enigeen va die boere onder die gewone loop van omstandighede in ‘n meisie sou begin belang stel, sou dit van hom verwag word om die meisie se belangstelling te wek!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.