‘BSV’ se boere gooi blitsig flikkers in die Kaap

Boer Johan en die vyf vroue wat hy gekies het ná die blitsafsprake skryf saam ‘n liedjie. (Foto: Skermgreep)

Boere Willem, Petré en Johan se liriekskryfvernuf is in vanaand (Donderdagaand) se episode van Boer soek ʼn vrou getoets toe hulle saam met die vyf vroue wat hulle ná afloop van die blitsafsprake gekies het, liedjies moes skryf.

Dié drie Vrystaatse boere was eerste aan die beurt met die blitsafsprake wat by die Lanzerac-wynlandgoed in Stellenbosch plaasgevind het.

Hoewel die boere aanvanklik gespanne was voordat hulle die vroue ontmoet het, het hulle vinnig ontspan toe die rits oulike vroue die een ná die ander in die warm stoel voor hulle gesit het.

Johan, van Marquard in die Vrystaat, het uiteindelik vir Arina, Michaela, Liandi, Chanzé en Dané gekies om nog ʼn rukkie saam met hom in Kaapstad te kuier. Dié groep was ook eerste aan die beurt met die liedjieskryf-aktiwiteit en die rock-genre wat hulle gekies het, het vir groot pret gesorg.

Boer Johan tydens die blitsafsprake. (Foto: Skermgreep)

Johan het ook ná afloop van die aktiwiteit elkeen van die vyf vroue afsonderlik beter leer ken. Arina, ʼn tandarts, het gevra of Johan dink dis ʼn goeie idee om lank verloof te wees voordat hy voor die kansel staan.

“Nee, ek glo nie daarin dat ʼn mens jare ná jou verlowing moet wag nie. Jy raak mos verloof met die idee om te trou. Dit is iets wat sommer spoedig moet gebeur,” het Johan gesê, waarop sy geantwoord het dat hy die regte antwoorde gee.

Volgende aan die beurt was Willem, wat baie senuweeagtig was voordat hy die vroue ontmoet het. Hy het agterna aan Marciel Hopkins, aanbieder van die program, gesê hy voel baie verlig nadat hy die vroue in lewende lywe gesien het.

“Ek kon taamlik vinnig agterkom of ek potensiaal saam met ʼn vrou sien, al dan nie. Die blitsafsprake was werklik ʼn warrelwind, amper soos ʼn storm,” het hy laggend gesê.

Boer Willem tydens die blitsafsprake. (Foto: Skermgreep)

Willem, wat by Philippolis in die Vrystaat met skape en beeste boer, het vir Chantel, Sonja, Leandré, Wandie en Nicolene gevra om nog ʼn rukkie saam met hom in die Kaap te kuier.

Boer Petré, van Vierfontein in die Vrystaat, moes ʼn country-liedjie skryf saam met die vyf vroue wat hy ná afloop van die blitsafsprake ontmoet het.

Petré het voor die afsprake teenoor Marciel gebieg dat hy met ʼn glimpen die briewe van sy toptien vroue ontleed het. Hy het geskerts dat sy Afrikaans-onderwyseres uit sy hoërskooldae trots sou gewees het op hoe hy dié briewe ontleed het.

Hy het uiteindelik vir Eloise, Lourize, Deirdré, Bu-Anda en Valerie gekies ná die afsprake. Bu-Anda het in die vorige episode reeds Petré se aandag getrek toe hy haar brief vir Marciel voorgelees het.

Boer Petré tydens die blitsafsprake. (Foto: Skermgreep)

Sy het gesê Petré het dadelik haar aandag getrek toe sy hom die eerste keer op televisie gesien het en dat sy skoon “butterflies” gehad het.

“Toe ek vandag daar instap, het my bene lam geraak. Ek was bloedrooi en het heeltyd gelag. Daar was beslis meer butterflies as wat ek in die brief genoem het,” het Bu-Anda gesê.

Petré en Lourize het ook besef hulle het mekaar al vantevore ontmoet en dat sy sowat drie jaar gelede in ʼn kuierplek belowe het om met Petré te dans – ʼn belofte wat sy, volgens Petré, nooit nagekom het nie.

“Ek wil net vra of jy nou al pinky promise-beloftes kan hou of nie, want ek het nog nooit gedans nie,” het Petré haar siel uitgetrek.

Volgende week ontmoet boere Tyson en Nelis elkeen tien vroue in die Kaap.

Boer soek ʼn vrou word op Donderdae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kobus ·

Boere , wat my opgeval het is dat julle nie die moeite gedoen het om op te staan om die dames te groet nie. Teleurstellend. Is dit in opdrag van die vervaardigers of is dit nou ook die nuwe normaal?

Dirk Mostert ·

Het nie die program gesien nie, maar die dames op hierdie fotos hoef nie vir Mej. S.A. finaliste terug te staan nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.