‘BSV’ se Niel, Chereze verwelkom pienkvoet

Niel Bruwer van ‘Boer soek ‘n vrou’-faam saam met sy dogtertjie, Catrine. (Foto: Verskaf)

Een van die kykNET-werklikheidsreeks Boer soek ʼn vrou se goue paartjies, Niel en Chereze Bruwer, kan nou amptelik hulle titels verander na dié van Pa en Ma.

Die Bruwers het Woensdag ʼn pienkvoet ryker geword. Hulle dogtertjie, Catrine Elizabeth, het laatmiddag die wêreld begroet in die Mediclinic Worcester in die Wes-Kaap.

Sy het 3,75 kg geweeg by geboorte. Die egpaar vertel aan Maroela Media dat hulle graag vir hulle dogtertjie ʼn familienaam wou gee en het besluit om Chereze se ma se naam, Catherin Elizabeth, ʼn bietjie te verbuig.

“Ek voel bevoorreg dat ek baie goed voel en ervaar nie baie pyn nie. Catrine is rustig en lyk gelukkig. Sy slaap en drink net,” vertel Chereze, wat deur middel van ʼn keisersnee geboorte gegee het.

“Die oorspronklike plan was om normaal geboorte te gee, maar Catrine het nie laag genoeg afgesak nie en was redelik groot. Ek was egter deurentyd oopkop vir die idee van ʼn keisersnit en voel bevoorreg dat ons in ʼn tyd leef waar so iets moontlik is.”

Niel, wat in die teater was tydens die geboorte, vertel hy is toegelaat om Catrine se naelstring te knip.

Chereze bewonder vir klein Catrine wat op haar skoot lê. (Foto: Verskaf)

“Ek het nie geweet dit gaan so taai wees nie,” lag hy. “Ek is baie humbled deur die ervaring. ʼn Mens voel baie klein as jy hierdie ongelooflike wonderwerk aanskou en dink hoe die swangerskap in ʼn oogwink verbygegaan het.

“Mense vertel vooraf vir jou hoe jy gaan voel, maar die gevoel wat ʼn mens kry wanneer jy die eerste keer daai stemmetjie hoor skree, is onbeskryflik. Ek is uit my skoene geseën en het nou twee ongelooflike vroue in my lewe.”

Chereze vertel haar ma, pa en broer het reeds gister besoek by klein Catrine afgelê. “Hulle kon nie meer wag nie, want dit is hulle eerste kleinkind.”

Catrine het ʼn donker gelaat en donker hare, sê sy. “Ek dink sy gaan haar pa se donker wenkbroue ook hê. Haar handjies lyk ook presies soos Niel s’n.”

“Sy is verskriklik mooi,” voeg Niel trots by.

Sien sy plasing op Instagram.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Browniemix ·

Baie, baie geluk julle 2 Catrine is pragtig en so volmaak.
Geniet haar want die tyd gaan so gou verby vlieg. Geniet elke mylpaal.
Pas haar net baie mooi op want hulle is baie spesiaal

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.