Christia duik in ‘Diepe waters’-kulkunstenaar se verkleurmannetjieskoene

Christia Visser. (Foto: Verskaf/Dearbeb Media)

Sy is gʼn vreemdeling vir hoofrolle nie, dié van ʼn liefdesbelangstelling of selfs om die feeks van ʼn verhaal te wees, maar vir Christia Visser is die lekkerste tipe skoene om in te klim dié van ʼn regte verkleurmannetjie-karakter.

Dis presies hoe aanhangers van die kykNET-telenovela Diepe waters haar nou gaan sien – as die kulkunstenaar Candy wat saam met haar man, Bert, vir ʼn kwesbare en hartgebroke Rossouw in ʼn uiters gevaarlike situasie plaas.

Weens haar moeilike grootwordjare het Candy van vroeg af geleer watter voordeel ʼn mooi voorkoms kan hê, veral wanneer dit kom by mans in lokvalle lei, maar volgens Christia is daar egter steeds baie diepte in dié karakter te sien.

“Vir my was die besluit om Candy te vertolk eintlik ʼn baie maklike een. Sy is divers en speel self ʼn klomp verskillende rolle binne haarself. Sy is ʼn verskriklike intelligente vrou, die lewe was net nie altyd gaaf teenoor haar nie,” vertel Christia aan Maroela Media.

“Dis ʼn lekker uitdaging met so ʼn karakter, want jy weet nooit eintlik wie die ware Candy is nie. Die manier wat sy aantrek, is ook elke keer verskillend. As akteur moet ʼn mens probeer uitvind waar sy tussen dit alles lê – dis vreeslik opwindend.”

Die interessante karakterwisseling wat Candy gereeld ondergaan, wat met verskillende pruike en ander vermommings aangehelp word, is volgens Christia iets wat nog nie voorheen veel in Afrikaans op die kleinkassie te sien was nie.

“Ons sien dit dalk as daar tweelinge of so iets in ʼn verhaal is, maar ons het nog nie regtig gespeel met daardie tipe intelligente, komplekse kriminele kant van sulke karakters nie.”

Hoewel die onvoorspelbare Candy party Diepe waters-kykers warm onder die kraag gaan laat, sê Christia dat sy tog met vroue soos sy empatiseer.

“Die lewe is rof en elkeen probeer om sy of haar voete te vind. ʼn Mens moet werk met die kaarte wat aan jou in die lewe uitgedeel word en hoewel ek glo daar vir elke probleem ʼn uitweg is, kan óf wil nie almal van ons altyd die oplossings raaksien nie.

“Ek dink sy voel die lewe het haar al soveel keer platgeslaan, nou slaan sy ʼn bietjie terug.”

Arno Marais, wat voorheen teenoor Christia in Die Boekklub gespeel het, vertolk nou die rol van Candy se ewe skelm man, Bert.

“Ek en Arno het nou eers met die verfilming van Diepe waters besef dat ons Boekklub-karakters nooit direk met mekaar gesels het nie, so dit was nou vir ons so lekker om uiteindelik op die skerm te connect,” skerts sy.

Candy se vermomings was volgens Christia deel van die pret. (Foto: Skermgreep/Verskaf)

“Dis net ʼn plesier om teenoor hom te werk, want hy’s so ʼn opregte mens en is vreeslik passievol oor sy werk.”

Die Diepe waters-produksiespan en rolverdeling het volgens Christia tydens verfilming ook seker gemaak dat sy nie by die diep kant ingegooi word nie.

“Dit was ʼn rukkie vandat ek laas op stel was omdat ek my babatjie gehad het en ʼn bietjie tyd afgevat het. Ek het op my eerste dag heel vreemd gevoel, want mens sukkel om weer in ʼn ritme te kom as jy lanklaas op ʼn stel was, maar almal het my so tuis laat voel en regtig omarm,” vertel sy.

“Daar word ook baie mooi na die akteurs geluister op dié stel. Party produksies verwag dat jy maar net moet stilbly en jou werk doen, maar dit was hier nie die geval nie. Dis ongelooflik, veral as mens besef hoe vinnig daar op ʼn telenovela gewerk moet word.”

Sy het die afgelope vier jaar ook deeglik bewys dat sy ewe tuis agter ʼn mikrofoon as ʼn kamera is en het ʼn album én rits trefferenkelsnitte soos “17 Shots” en meer onlangs “Chocolate sigarette” bekendgestel.

Volgens Christia was verlede jaar se Krone Konsert op Loftus Versfeld, waar sy voor ʼn skare van nagenoeg 30 000 die verhoog met van die land se voorste Afrikaanse kunstenaars gedeel het, ʼn hoogtepunt van haar musikale loopbaan.

“Jy weet, as dogtertjie droom mens nie oor die skoolsaal as jy voor die spieël staan en sing nie. Jy droom oor groot skares en stadions. Om dan uiteindelik op só ʼn groot verhoog uit te stap, is net ongelooflik, ek kan dit nie lekker aan mense beskryf nie.”

Hoewel sy nie veel oor haar nuwe musiek kan sê nie, verseker sy aanhangers dat sy tans “hard aan die skryf is” aan ʼn volgende opwindende enkelsnit.

Die donkerkopaktrise verklap ook dat sy onlangs ʼn nuwe onverwagse stokperdjie ontdek het – naamlik om regstreeks aanlyn rekenaarspeletjies te speel.

Dinsdae en Donderdag skuif sy voor haar rekenaar in om speletjies soos Fortnite te takel, iets wat sy bieg sy nooit gedink het sy sal doen nie. Dinsdae gee sy selfs vir ʼn gelukkige aanhanger die geleentheid om saam met haar aanlyn in te skakel en te speel.

“My man was nog altyd ʼn gamer en ons speel nou al ʼn rukkie saam, toe dink ek dis dalk ʼn lekker manier om op ʼn ander wyse interaksie met my aanhangers te hê. Ek kan nie daardie skoonheidsvideo’s voor ʼn spieël staan en maak vir sosiale media nie, hierdie is boonop soveel meer pret vir my.”

Daar is selfs planne in die pyplyn om kragte saam met ander gamers te snoer vir samewerkingsprojekte.

“Ek weet mense dink dis ʼn mors van tyd, maar dis iets wat ek en my man saam geniet. ʼn Mens ontsnap bietjie, dis iets kreatief en help jou met besluitneming. Wat is dit anders as om voor die televisie saans te sit en iets te binge?”

Met haar 18 maande oue dogter, Kida, gaan dit ook goed.

“Sy is ʼn ongelooflike kind. Sy’s baie slim en baie besig. Sy is nes haar ouers; sukkel om stil te sit en kort baie stimulasie,” voeg sy laggend by.

  • Diepe waters is Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET, DStv-kanaal 144 te sien. Dit is ook op DStv Catch Up beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.