‘Daar lê komedie in tragedie’ sê Desiré Gardner oor geliefde Magda

Hannes van Wyk en Desiré Gardner in “Magda Louw”. (Foto: verskaf)

Vir Desiré Gardner kan komedie om elke hoek en draai van die lewe gevind word. Dit lê opgesluit in die alledaagsheid van die lewe wat mense so dikwels as vanselfsprekend aanvaar.

Dit is juis waarom Desiré vandag steeds sorgvuldig uitbou aan haar geliefkoosde karakter, Magda Louw. Sy stap al vir dekades ʼn noue pad met dié karakter, en is veral opgewonde om ʼn tweede seisoen van kykNET se trefferreeks, Magda Louw, aan te kondig.

“Dit is vir my ʼn absolute voorreg om ʼn tweede seisoen bekend te stel. Dit is ʼn karakter vir wie ek op ʼn baie jong ouderdom lief geword het, en dit is wonderlik om te sien hoe ander mense netso lief word vir haar,” vertel Desiré aan Maroela Media.

Alhoewel Magda ʼn kort wyle gelede eers in mense se sitkamers begin kuier het, is sy al jare lank deel van Desiré se lewe. As jong tienermeisie moes Desiré ʼn karakter vir skool skep, en net daar is Magda gebore.

Dit was so hittete of Magda het nooit haar verskyning op die planke of kassie gemaak nie, dit was ʼn spel van geduld en geloof. Desiré kon in haar wildste drome nie dink dat haar kleintydkarakter uiteindelik ʼn plekkie in Suid-Afrikaanse harte en huise sou skrop nie. Dit was as’t ware haar ma wat Desiré nooit moed of hoop in die karakter laat verloor het nie.

Vandag, ná dekades, is Magda ʼn bekende en geliefde gesig. Sy kuier gereeld op al wat ʼn verhoog is en spog vandag met ʼn kortfliek en reeks wat oor haar lief en leed gaan.

Dit is vir Desiré ʼn riem onder die hart wanneer mense met haar geselsies aanknoop en Magda se pittige sêgoed herhaal.

“Ek dink dit is hoe ʼn sanger moet voel wanneer mense sy liedjies vir hom terug sing. Ek is ongelooflik dankbaar dat mense bereid is om die storie te kyk,” sê sy.

(Foto: verskaf) 

“Dit is vir my ongelooflik dat ek woorde kon skryf wat vir iemand anders waarde dra, iets vir hulle beteken.”

Mense kan daarna uitsien om Magda se binnekring beter te leer ken in die tweede seisoen van die reeks. Dit is vir Desiré steeds belangrik om die reeks met komedie, maar ook ʼn tikkie werklikheid en tragedie te vul.

“ʼn Mens gaan deur ʼn wye verskeidenheid van lewenservaringe, maar tog bly dit belangrik om tong in die kies na elkeen van dié ervaringe terug te kyk.

“Ons moet lag oor die dinge wat ons nie kan verander nie. Ek is een van daardie mense wat in sak en as sit wanneer ek deur ʼn moeilike tyd gaan, maar daarna, wanneer ek terugkyk, is dit vir my belangrik om daaroor te lag.

“Ons moet die moeilike dinge in die lewe bespreek. As ʼn mens daaroor praat, haal ʼn mens die taboe uit die onderwerp uit. Ons almal het tog onsekerhede, as ons dit met ander bespreek, dalk daaroor lag, kan ons die stigma daar rondom wegvat. Dan besef ons eintlik dat ons nie alleen is nie.”

Magda se storie is nog lank nie klaar vertel nie, sê Desiré. Daar is temas wat nog aangeraak moet word, stories wat sy graag nog deur die pen van Magda wil vertel.

Een van die lekkerste dele van haar eenvrouvertoning, Magda Louw, is die geselsies wat sy ná elke vertoning met mense aanknoop. Sy waardeer elke staaltjie, elke stukkie lewenswaarheid wat mense met oop hande en harte met haar deel. Dit is juis dié staaltjies wat haar keer-op-keer laat besef dat daar nog soveel stories vertel moet word oor diegene wat in hul herfsjare, soos wat sy dit noem, is.

“Mense is so lief vir Magda omdat sy jou herinner aan iemand wat jy ken. Sy is jou ma, tannie of selfs net iemand waarmee jy al te doen gekry het. Ek het al met soveel mense, veral vroue, in hul herfsjare gesels en elke keer besef ek net hoeveel ons as jongmense nog by hulle te leer het.

“Iets wat ek besef ná elke gesprek met ʼn vrou in haar middeljare, is dat dié vroue ʼn ongelooflike skerp sin vir humor het. Dit is soms bietjie donker, maar dit is ongelooflik skerp. En hulle sê iets so vlugtig, dan besef ʼn mens net later hoeveel lewenswaarheid en humor in daardie vlugtige stelling opgesluit lê.

“Die sêding ‘met grysheid kom wysheid’ is só waar, maar met dié grysheid kom ook snaaksheid – dit is verfrissend en só broodnodig. Hulle bring vir ons goed wat ons nie eers geweet het ons nodig gehad het nie.”

  • Die tweede seisoen van Magda Louw skop op 1 Januarie 2024 op kykNET, DStv-kanaal 144, af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.