Diamante nie genoeg om van dié ‘Real Housewives’ vriende te maak

Peet Viljoen het gesorg dat daar genoeg drama in Donderdagaand se episode opgedis word. (Foto: Skermgreep)

Daar word gesê diamante is ʼn vrou se beste vriend, maar selfs dié duur klippies kan nie van al die Real Housewives van Pretoria vriende maak nie.

Mel Viljoen en haar man, Peet, het in Donderdagaand se episode besluit om die ander vroue te bederf met ʼn “Tammy Taylor Diamond Day” waartydens regte diamante deur ʼn spesiale manikuurproses op die vroue se naels aangebring is.

Dié skitterende kuier was die eerste keer wat die Viljoens gasheer gespeel het vir Kiki, Renske, Marié, Rhona en Talana, oftewel die “sandput van verveelde huisvroue” soos Peet na hulle in dié episode verwys.

Die huisvroue is elk met ‘n R10 000 se diamant bederf. (Foto: Skermgreep)

Dié gewese prokureur het gesorg dat daar genoeg drama in Donderdagaand se episode opgedis word en het ʼn dramatiese verskyning kompleet met twee lyfwagte gemaak om die vroue se diamante persoonlik te kom aflewer.

Hy het boonop vooraf sy vrou met ʼn indrukwekkende diamanthaelsnoer verras om seker te maak “niemand skitter meer as sy” by dié geleentheid nie.

Die voormalige EFF-LP Magdaleen Moonsamy – wat tans ook deur die sangeres Kelly Khumalo aangestel is om hofverrigtinge te volg in die Senzo Meyiwa-moordverhoor –  het saam met haar eie lyfwag, ene Lucky, ook by dié geselligheid aangesluit.

Rhona se besluit om saam te kuier, maar nie soos die ander vroue haar naels te laat glinster met R10 000 se diamante nie, het Peet duidelik onthuts gelaat.

Peet het het ʼn dramatiese verskyning kompleet met twee lyfwagte gemaak. (Foto: Skermgreep)

“Hulle dink waarskynlik ek is kômmin omdat ek dit nie in my naels wil sit nie, maar jy gaan my nie oortuig nie. Ek het voet by stuk gehou dat ek nie ʼn diamant op my naels gaan sit nie,” het Rhona oor haar besluit gesê.

“Ek dink Rhona is baie dom om nie ʼn diamant te vat as dit vir jou gegee word nie. Verniet, jy hoef niks eers te doen nie. Die feit dat sy nee sê concern my geweldig,” het TikTokker Kiki hieroor bygevoeg.

Dié gesprek het vinnig in ʼn vergelykende bekgeveg oor kwalifikasies tussen Peet en Rhona ontaard toe sy vra of hy óók onderwys studeer het siende dat hy van lewenswyshede met haar oor haar besluit wou deel.

Rhona het nie teruggestaan vir Peet se opmerkings nie. (Foto: Skermgreep)

Volgens Peet was sy regsgraad “duurder en moeiliker” om te verwerf as Rhona se onderwyskwalifikasie.

Dié voormalige onderwyser het agterna teruggekap en gesê dat sy kan terugkeer na die onderwys, terwyl Peet van die rol geskrap is weens ʼn hangende saak oor onder meer beweerde onwettige eiendomtransaksies. “As só iets gebeur dink ek nie dit maak regtig saak wat jy studeer het nie.”

“As ek in ʼn argument moet betrokke raak met Rhona oor of haar onderwysdiploma gelykstaande is aan my regsgraad dan bewys ek net dat daar twee sotte om daardie tafel was,” het Peet agterna vir kykNET se kameraspan gesê.

Die Real Housewives van Pretoria is elke Donderdagaand om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien. Dit word ook op DStv CatchUp uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

ABDP ·

Hoekom maak ons sulke swak programme. Ek wou graag weet waaroor die program gaan , het een episode gekyk, en dit gaan my verstand te bowe dat ons so laag daal. Ek dink gladnie hierdie is gesonde vermaak nie.

Kensy ·

Ek het nie tyd om te mors om daarna te kyk nie…. dis so n vals konsep… genade mens is mos nie so selfbehep nie…

Kaptein ·

Ek dink hulle moet die program eerder ” The COMMON housewives of Pretoria ” noem. Want regtig, hierdie is so common soos paddaslyk in n plaasdam. En dan wil n sogenaamde prokureur, wat geskors, hom so verwaand kom hou.

pompies ·

Die vrouens is n baie swak beeld van afrikaners om nie eers van Peet te praat nie, wys net hoe laag die afrikaner kan daal as hulle dink hulle het iets geword. skelms deur en deur.

Vonkprop ·

Ai hoe mis ek die tv van die 80’s en 90’s toe programme skoon was en nog iets was om na te kyk. Deesdae is alles vervuil met seks en krutaal want dit is wat verkoop. Tragies hoe ons mensdom verval het.

S ·

Mens kan seker maar net jou kop skud. Dat mense so behep met hulself en geld kan wees.
“Some people are so poor, all they have is money”

Hannelie ·

Nee o hel, wie kyk nog sulke snert. Geld kan beslis nie klas koop nie. Dis darem groot brag hoor.

Nommer 7 ·

Drank, en so ook geld, kan ‘n mens lekker kommin maak as jy nie weet hoe om jouself te handhaaf nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.