Dié 18 stadsjapies gaan plaaslewe in kykNET-reeks aanpak

Roche is ’n skoonheidsmodel en een van 18 deelnemers wat die plaaslewe gaan aanpak. (Foto: Verskaf)

Wat gebeur wanneer 18 stadsjapies die plaaslewe op ʼn primitiewe manier moet aanpak vir ʼn kans om R1 miljoen te wen?

Agtien stadsjapies gaan binnekort dié vraag in kykNET se splinternuwe werklikheidsreeks Plaasjapie beantwoord.

Maroela Media het vroeër berig deelnemers aan dié nuwe reeks sal vir die eerste keer in hul lewe boerdery moet aanpak, maar sal geen moderne tegnologie tot hul beskikking hê nie en gaan die plaaslewe kaalhand moet trotseer.

Die nuutgevonde plaasjapies, wat van Kleinmond tot Kriel kom, bestaan uit mans en vroue tussen die ouderdomme van 24 en 55. Die formaat is ook soortgelyk aan die oorlewingsreeks Survivor en word deur Ewan Strydom – mede-aanbieder van die joernaalprogram Bravo – aangebied.

In die program word twee spanne in verskillende kampe op ʼn oop stuk grond van vyf hektaar op ʼn plaas buite Philadelphia in die Swartland aan die Weskus geplaas. Die spanne sal verskeie uitdagings en take moet aanpak om as die wenspan aangewys te word. In elke episode sal ʼn lid uit die verloorspan die trekpas kry en in die finale uitsending sal daar twee deelnemers wees wat sake vir die miljoen rand uitspook, lui ʼn verklaring van kykNET.

Beurtkrag sal ook nie ʼn probleem wees nie. Die deelnemers se slaapplek is ʼn leë skuur met bykans geen geriewe nie. Hul bad selfs in ʼn skottel en moet in kerslig sien kom klaar.

Daar word weekliks ʼn spanleier aangewys en ʼn plaasjapie in die wenspan kan weekliks ook ʼn “luuksheid” kies, hetsy gemakliker matrasse of warm water. Die deelnemers se luuksheid verlaat egter die plaas saam met hulle indien die deelnemer uitgestem word. Hoe kleiner die spanne, hoe groter word die werkslading.

Plaasjapie begin op Donderdag 14 Julie om 20:00 op kykNET

Hier is die 18 plaasjapies:

  • Esteban, 24 – Krugersdorp, Gauteng

Esteban. (Foto: Verskaf)

Esteban is ’n sielkundestudent en ’n Springbok MMA-vegter. Hy beskou homself as hardwerkend, lojaal, sosiaal en ’n spanspeler. Hy hou nie van mense wat heeltyd negatief is nie en sien uit daarna om sy eie grense in Plaasjapie te verskuif.

  • Jurie, 44 – Kriel, Mpumalanga

Jurie. (Foto: Verskaf)

Jurie is ’n diep gelowige musikant wat musiek maak by sy kerk. Hy beskryf homself as ’n entoesiastiese en optimistiese planmaker wat nie daarvan hou om te verloor nie. As hy nie die gereedskap het om iets te doen nie, bou hy sommer die gereedskap en hy sien baie daarna uit om die gejaag van die stad vir die natuur van die plaaslewe te verruil.

  • Roché, 30 – Kaapstad, Wes-Kaap

Roche. (Foto: Verskaf)

Roché is ’n skoonheidsmodel wat vir Plaasjapie ingeskryf het omdat hy eintlik nog altyd ’n boer wou wees. Hy hou daarvan om homself gereeld fisiek tot die uiterste te beproef en is passievol daaroor om mense te help om hul potensiaal te bereik. Hy is opgewonde daaroor om op groot skaal buite te werk en om mense se persepsies van skoonheidsmodelle te verander.

  • Cecil, 40 – Kaapstad, Wes-Kaap

Cecil. (Foto: Verskaf)

Cecil is ’n mense-mens wat nie sommer met ander baklei nie, maar hy hou nie van beterweterige tipes nie. As oefeninstrukteur is hy ’n harde werker wat nie bang is om sy hande vuil te maak nie. Hy beskryf homself as passievol, gedrewe en kompeterend – hy het immers al drie keer die Comrades-maraton voltooi. Hy sien uit daarna om met plaasdiere te werk, maar nie noodwendig hulle afval nie.

  • Laurika, 46 – Kleinmond, Wes-Kaap

Laurika. (Foto: Verskaf)

Laurika, of Lollo soos haar vriende haar noem, is ’n apteker wat mal is daaroor om te braai en beskou haar vermoë om te kan sê dat sy mal is oor haar lewe as die toppunt van sukses. Sy hou van ’n uitdaging en om uit haar gemaksone te wees en beskryf haarself as “lewensliewend” en vasberade. Sy het op ’n plaas in die Ellisras‑omgewing grootgeword; so sy is gereed om die plaasjapie-lewe met albei hande aan te gryp.

  • Kayla, 24 – Vereeniging, Gauteng

Kayla. (Foto: Verskaf)

Kayla is ’n kranige liggaamsbouer wat al derde gekom het by die Suid-Afrikaanse Kampioenskap en ook aan die Wêreldkampioenskap in Ecuador deelgeneem het. Sy hou van skubaduik en is passievol oor diere, die natuurlewe en Suid-Afrikaanse tradisies en kulture. Alhoewel sy nie enige ervaring van plaaslewe het nie, werk sy gereeld met perde en sien sy daarna uit om die stadsgeraas te ruil vir die geluid van sonbesies en die reuk van varsgesnyde gras en hooi.

  • Arthur, 37 – Boksburg, Gauteng

Arthur. (Foto: Verskaf)

Arthur is ’n kreatiewe direkteur en entrepreneur wat openhartig is oor sy geestesgesondheid en behoefte het om minderbevoorregte gemeenskappe aan die kunste bloot te stel. As trotse gay man beskou hy homself nie as ’n tipiese “oop gesig boerseun” nie, maar erken dat hy al ’n paar harte gesteel het. Hy wil sien of Plaasjapie sy persepsie van homself sal verander en alhoewel hy nie van muskiete of versengende hitte hou nie, is hy reg vir die plaaslewe.

  • Billy, 43 – Pretoria, Gauteng

Billy. (Foto: Verskaf)

Billy staan gereed vir enige uitdaging en is lief vir avontuur, waarvan die feit dat hy die Guinness-wêreldrekordhouer vir Marmite eet is, kan getuig. Hy is ’n gelukkig getroude gesinsman met twee seuns en beskou sy familie as sy grootste sukses. Die grootste uitdaging waarvoor hy al te staan gekom het, is sy stryd teen kanker en hy is dankbaar dat hy nie gaan lê het nie en sy kop omhoog gehou het. Hy hoop om daardie selfde deursettingsvermoë na die plaas toe te bring en sien uit na die stilte en natuurlewe.

  • Gerda, 56 – Brackenfell, Wes-Kaap

Gerda. (Foto: Verskaf)

Vir Gerda is opgee eenvoudig nie ’n opsie nie. Sy beskou haarself as een van die dapperste mense wat sy ken en is bereid om enigiets te doen om haar kinders te beskerm en te versorg. Sy slaap graag onder die sterre en hou daarvan om vroeg op te staan en fisiek hard te werk. Sy is in haar hart ’n natuurmens en sien uit daarna om planne te maak saam met die ander deelnemers en uitdagings op die plaas die hoof te bied.

  • Deon, 29 – Saldanha, Wes-Kaap

Deon. (Foto: Verskaf)

Deon hou daarvan om homself te versorg en het nie ooghare vir mense wat hom oordeel op grond van hoe hy lyk en ruik nie. Hy beskou homself as onverskrokke ten spyte van sy vrese en hou daarvan om probleme op te los en homself uit te daag. Hy sien uit daarna om die vryheid en natuurlewe op die plaas te geniet, maar sien beslis nie uit daarna om vroeg op te staan nie, en hy sien ook nie kans vir al die insekte nie.

  • Marius, 45 – Kimberley, Noord-Kaap

Marius. (Foto: Verskaf)

Marius is ’n soldaat in die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW), maar is spyt dat hy nooit sy droom om ’n rugbyspeler te word, verwesenlik het nie. Hy het as kind op sy oupa se plaas grootgeword en het kosbare herinneringe van perde saam met sy oupa versorg. Hy wil graag eendag sy eie plaas hê en na daardie lewe terugkeer.

  • Suzette H., 55 – Kroonstad, Vrystaat

Suzette H. (Foto: Verskaf)

Suzette H is ’n huisvrou en ma van vier en beskou haarself as ’n hardwerkende spanspeler en raakvatter. Sy sê graag haar sê en gee nie om as mense dink sy is te voorbarig nie. Sy sien baie uit na die uitdagings van die plaaslewe en is dankbaar sy het na die stemmetjie geluister wat vir haar gefluister het om vir Plaasjapie in te skryf.

  • Stefan, 23 – Pretoria, Gauteng

Stefan. (Foto: Verskaf)

Stefan beskou homself as spontaan, avontuurlustig en onverskrokke en gryp graag ’n uitdaging aan. Hy is baie trots op sy graad in Internasionale Politieke Studies en om as 20-jarige gevra te word om ’n maandelikse rubriek vir ’n Afrikaanse koerant te skryf. Hy wou nog altyd aan ’n werklikheidsreeks deelneem en sien Plaasjapie as die perfekte geleentheid om sy liefde vir die buitelug en natuur uit te leef. Die enigste ding waarna hy nie uitsien nie, is om elke dag vroeg op te staan omdat hy glad nie ’n oggendmens is nie.

  • Leo-Nene, 30 – Centurion, Gauteng

Leon-Nene. (Foto: Verskaf)

Leo-Nene is ’n grimeerkunstenaar en huisvrou wat met niks minder as die beste tevrede is nie. Sy beskou haarself as goedhartig, vroulik, kreatief en optimisties. Sy hou daarvan om nuwe dinge aan te pak en die feit dat sy op skool geboelie is, het van haar ’n sterker mens gemaak. Sy sien uit na die harde werk op die plaas en om die vrugte van haar arbeid te kan aanskou.

  • Dian, 29 – Pretoria, Gauteng

Dian. (Foto: Verskaf)

Dian is ’n kunssinnige man met ’n oog vir detail. Sy stryd met die mediese toestand spondilitis het hom sterker gemaak en is hy trots op sy uithouvermoë en deursettingsvermoë. Hy wil graag aan sy broers, wat rugbyspelers en liggaamsbouers is, wys dat alhoewel ’n boer dalk ’n plan kan maak, ’n kunsman twee kan maak. Hy is deur en deur ’n stadsmens en sien glad nie uit na die stof, reuke en koue water van die plaaslewe nie – om van die goggas nie eens te praat nie.

  • Suzette I., 30 – Randburg, Gauteng

Suzette I. (Foto: Verskaf)

Suzette I steur haar nie aan nonsens nie en beskou haarself as ambisieus, veerkragtig en ’n sterk leier. Sy lees mense goed en kan hulle maklik laat dink dat hulle die besluite neem. Sy het vir Plaasjapie ingeskryf omdat sy lief is vir die natuurlewe en probleemoplossing, en dink die slegste deel van die hele ervaring gaan wees om terug te gaan stad toe wanneer dit verby is.

  • Bean, 39 – Langebaan, Wes-Kaap

Bean. (Foto: Verskaf)

Bean is ’n musiekpromotor en avontuur-entrepreneur wat homself as ’n prettige planmaker en raakvatter beskryf. Hy hoop dat hy die oog kan vang raak deur aan Plaasjapie deel te neem, en om dan sy bekendheid te gebruik om liefdadigheidswerk te doen. Hy sien baie uit na die uitdagings op die plaas, maar dink die vroeg opstaan gaan hom glad nie pas nie.

  • Elton, 41 – Klerksdorp, Noordwes

Elton. (Foto: Verskaf)

Elton is ’n bouer en nutsman wat lief is vir kook en graag na sy gesin omsien. Hy was al ’n paar keer as speler van die wedstryd na rugbywedstryde aangewys, en beskou homself as hardwerkend, vasberade en ’n planmaker. Hy sien uit daarna om meer te leer van die plaaslewe en dink Plaasjapie gaan ’n uitstekende ervaring wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.