Drie nuwe dramareekse op kykNET te sien

kykNET het pas hul 20ste verjaarsdag gevier en daarmee saam het hulle drie splinternuwe dramareekse vir 2020 bekendgestel

kykNET-kykers is die hele jaar met dramas van hoogstaande gehalte bederf – van Dwaalster en Spreeus in die eerste helfte van die jaar tot Alles Malan en Fynskrif wat kykers vanaf Julie tot aan die einde van die jaar vermaak.

“kykNET het vanjaar ’n groot mylpaal bereik met die kanaal se 20ste verjaarsdag wat gevier word. En om dankie te sê aan al die lojale kykers, het die kanaal ’n spesiale verjaarsdaggeskenk vir hulle: vanaf Januarie 2020 saai kykNET drie nuwe dramas uit,” het kykNET in ʼn verklaring geskryf.

Die tweede seisoen van Die Byl word vanaf Sondag 5 Januarie om 20:00 op kykNET uitgesaai. Projek Dina word vanaf 14 Januarie op Dinsdae om 20:00 uitgesaai, met die lang verwagte derde seisoen van Sara se Geheim wat Donderdag 16 Januarie om 20:00 begin.

Elkeen van die dramas is 13 episodes lank – dit beteken drie dramas wat elke week op kykNET tot vroeg in April 2020 uitgesaai word!

Kolonel Piet van der Bijl is terug

Die Byl vertel die verhaal van kolonel Piet van der Bijl, ’n briljante speurder wat spesialiseer in die vastrek van reeksmoordenaars. Sy hele wese is ingestel op die detail van die lewe en die stukke van die legkaart wat nie altyd wil pas nie. Sy persoonlike verhoudings ly egter onder sy werkywer, maar hy sal enigiets vir die mense na aan sy hart doen.

Dit is vyf jaar sedert ons Byl (Waldemar Schultz) en sy span leer ken het. Byl is steeds bekend as ’n super-speurder, maar hy was egter die rede hoekom kaptein Juan Stuurman (Marvin-Lee Beukes) uit die eenheid bedank het. Byl se verhouding met Nicki Swanepoel (Milan Murray) het verbrokkel ná hulle vir ’n tyd lank saam gebly het. Byl en generaal Neels van As (Tertius Meintjes) het die strydbyl begrawe, maar nie vir lank nie…

In die tweede reeks van Die Byl is daar weer ’n reeks sake, een in elke episode, wat opgelos word, maar hierdie keer is daar ook ’n paar deurlopende storielyne wat kykers vasgenael gaan hou. Byl word toenemend emosioneel en fisiek gekonfronteer wanneer sy span die teiken word van ’n reeks onverklaarbare en ontstellende gebeurtenisse.

Tim Theron (Foto: Facebook)

Vermiste persone-taakspan neem Kaapstad op horings

Elke vyf uur word ’n kind in Suid-Afrika as vermis aangemeld. Ongeveer 30% van vermiste kinders word nooit gevind nie, terwyl 50% van vermiste volwassenes nooit weer gesien word nie. – SAPS Missing Persons Bureau, 2013.

Drie lede met heeltemal verskillende persoonlikhede in een span, ’n magdom vermiste sake in Kaapstad en persoonlike lewens wat byna uitmekaar val – dit en meer kan in kykNET se nuwe dramareeks Projek Dina gesien word.

Projek Dina speel af in die werk- en lewensomgewing van die blitsreaksie-taakspan, waar die druk hemelhoog en die ruimte vir foute bitter klein is. Noudat die taakspan pas saamgestel is deur die Wes-Kaapse polisie – as ’n manier om die vinnig toenemende aantal gevalle van vermiste persone in Suid-Afrika te bestry – het die lede van die taakspan ’n skynbaar onmoontlike taak op hande: om die vermiste persone in Kaapstad op te spoor en hulle een vir een huis toe te bring.

Voormalige Valke-ondersoeker Marcel van der Watt en Missing Children SA se Nicky Rheeder en Bianca van Aswegen het as konsultante vir die reeks opgetree. Projek Dina is geïnspireer deur ware verhale en is met Van der Watt, Rheeder en Van Aswegen se gesamentlike kennis ontwikkel en geskryf.

Akteurs in die reeks is Tim Theron, Nadia Valvekens, Pierre van Pletzen, Jane de Wet, Zenobia Kloppers, Crystal Donna Roberts, Christia Visser, Mila Guy, Neels van Jaarsveld, Paul du Toit, Trix Vivier, Elsabe Daneel, Ilse Roos en André Roothman.

Nóg geheime word ontbloot in Sara se Geheim 3

Sara se Geheim is ’n dramareeks wat in en om Athlone en Durbanville afspeel. Sara Abrahams, wat swaar dra aan ’n geheim wat sy 35 jaar lank moes bewaar om haar oudste seun (Johan oftewel Johnny) se lewe te red, is die persoon wat die Cloetes, die Kiewiets en die Vermeulens saambind. Sara bewaar nie net haar eie geheim nie, maar ook dié van haar kinders.

Kykers het na hul asem gesnak toe Maggie aan die einde van seisoen twee per ongeluk haar geliefde seun Kelvin (Conway October) skiet. En kort voor dit het Maggie en haar suster, Lizzie (Quanita Adams), ontdek hul ma, Sara (June van Merch), het ’n jarelange geheim van hulle weerhou: hul broer, Johnny (Dawid Minnaar), lewe.

Seisoen drie begin waar die tweede seisoen geëindig het. Die dramatiese toneel waar Maggie met Kelvin in haar arms lê, het ’n impak op Sara se hele familie.

Ander bekende gesigte maak ook ’n draai in die derde seisoen. Onder hulle is Ivan Zimmerman, Roeline Daneel, Stian Bam en Monique Rockman.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Pietman ·

Afrikaanse reekse kan nie kersvashou by internasionale produksies nie. Lankal nie meer dstv nie. Geniet Netflix en Amazon, want dit het uitstekende oorspronklike produksies.

Wonder ·

Die Byl seisoen 2 is uitstekend! Alles Malan was net so lekker om te kyk. Jy mis uit. Voeg gerus Showmax by jou lysie van subskripsies. Dis lekker om in jou moedertaal TV te kyk!

Tienie ·

Gelukkig krap hulle nie weer in die SABC se asblikke nie…..

jaco ·

TWEE reekse oor speurwerk deur die SAPD. Elke reeks 13 episodes lank. dis seker gebaseer op polisie optrede in ander lande waar die polisiediens regtig behoorlik funksioneer. By ons behoort ‘n TV reeks oor die SAPD se speurwerk net 13 sekondes te duur, want ons polisie rig NIKS uit nie. Selfs 13 sekondes sal eintlik te lank wees.

Karien ·

Ja, geniet dit ook om n goeie storie in my moedertaal te kyk. Net jammer Alles Malan gaan nie aan nie, sou geniet het as hy n sepie kon word, maar nou ja. Sal die ander n kans gee en kyk.

Piet ·

Jammer om te hoor KykNet…het lankal nie meer dstv nie. Eendag is Afrikaans goed vir julle en die anderdag onttrek julle!

sannie ·

Dankie tog vir verandering Moet daar in elke program ‘n gay persoon wees? Ons is nie almal so nie.

Thea Bothma ·

ag n nee Sara se geheim, sjoe die arme vrou se hele lewe en bestaan is n geheim
dit raak nou net te veel. die eerste reeks was goed. los dit nou. kry iets anders asb
wat DIE Byl was goed, maar het in die die tweede reeks ook maar flou geraak
moet julle altyd die oorsee se reeks begin kopie, die wegneem koffies, en die drank bottels.doen julle eie ding
oor die die kleurgrens verhoudings en aanneem van bruin kinders in Alles Malan is ook ou nuus. moenie alles in n mens se keel afdruk nie,

Vreedsaam ·

Sjoe Thea, is daar iets waarmee jy nie ‘n probleem het nie?

**anoniem** ·

Genade!!!!Daar is ‘n klomp kermkouse wat hier kommentaar lewer. Moenie die stories kyk as jy nie daarvan hou nie. Moenie die artikel lees as jy nie aanklank vind met die nuus wat daarin weergegee word nie. So maklik soos dit! Ek sien uit na die nuwe reekse en oues wat ‘n terugkeer maak.

Marna ·

Sho, hier is darem baie mense wat suur drywe het… ek kan nie wag vir die nuwe stories nie. Geniet die afrikaanse reekse baie, veral al die nuwe ook (Alles Malan, Fynskrif). Kom 2020, kom!

Katheleen ·

Ek het ook nie meer kyknet nie. Ons pensionarisse kan nie die hoee bedrag betaal nie. Ek het n e pos aan karin meiring dame gestuur en haar antw was ek moet in n ouetehuis bly. Shame ek bly by my kinders. Kan nie n ouetehuis bekogtig nie. Die kinders het ook nie dstv nie. So ek dink regtig sy moet plan maak aan die kistes vie pensionarisse.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.