Gemeenskapsradiostasie hou glansaand vir GROOT(fm) mylpaal

Die GROOTfm span. (Foto: Verskaf)

Die gemeenskapsradiostasie GROOTfm 90.5 het Donderdagaand hul naam behoorlik verdien tydens ʼn sterbelaaide glansgeleentheid by die Atterbury Teater in Pretoria om hul tiende verjaarsdag te vier.

Nagenoeg 400 gaste, onder wie sangers soos Dirk van der Westhuizen, Zaan Sonnekus en Nadine, sport- en sakelui, asook politici, onder andere die Tshwane-burgemeester Cilliers Brink, het bymekaargekom om op die radiostasie se werk en impak voor én agter die mikrofoon te klink.

Sakeman Louis van der Watt, uitvoerende beampte van die Atterbury Groep, en kykNET kanaalhoof, Waldimar Pelser, was onder die aand se BBP-gaste.

Ook GROOTfm-luisteraars en aanhangers Lafras Botha en sy vrou, Tilana, het die aand skouers met bekendes geskuur nadat hul ʼn kompetisie as dié radiostasie se grootste aanhangers gewen het.

ʼn Stasie vanuit die gemeenskap, vir die gemeenskap

Op 5 Augustus 2013 is die voormalige Pretoriase gemeenskapsradiostasie Radio Rippel se naam na GROOTfm verander en deesdae saai dié stasie danksy tegnologie so ver as Europa, Australië en die VSA uit.

Aanbieders en nuuslesers van GROOTfm se vyf hoofprogramme het tydens die verjaarsdagviering hul ateljees vir die verhoog verruil en onderhoude en gesprekke met gaste oor dié stasie se mylpaal en verskeie hoogtepunte gevoer.

Die oorspronklike GROOT Ontbyt-aanbieders Johrné van Huyssteen, Hendri Myburgh en Elsa Esterhuizen het gesels oor hul program se unieke hibriedkonsep saam met kykNET wat soggens regstreekse radio- en televisie-uitsending gelyktydig uitgesaai het.

Voormalige aanbieders Susan Botha en Su-An Muller Marais het saam staaltjies en hoogtepunte van hulle GROOTfm-loopbane gedeel.

Die aktrise, skrywer en motiveringspreker Lindie Strydom het ook oor haar droom met die begin en vestiging van die GROOTfm 90.5-impakprojekte – wat die #lositbeter-projek insluit – gesels.

Die Afrikaanse sanger Karlien van Jaarsveld is tydens dié spoggeleentheid spesiaal vereer vir haar trefferlied “Hande” wat die eerste amptelike liedjie was om op GROOTfm 90.5 se heel eerste uitsending op 5 Augustus 2013 te speel.

GROOT verrassings vir mylpaalverjaarsdag

In eg GROOTfm-styl is daar is egter nie net gepraat nie, maar ook gesing.

Corlea Botha en Ruhan du Toit het kuiergaste vermaak het met hulle skouspelagtige sangtalent tydens die insetsel “liedjies wat op lug speel”. Dié kranige kunstenaars het ook vir een van die aand se groot verrassings gesorg met hul duet “Groter” – wat deur Matthys Maree spesiaal vir dié radiostasie neergepen is.

ʼn Tjek van R1 miljoen is ook aan die Atterbury Trust, een van GROOTfm 90.5 se vennote, oorhandig vir hul bydrae in die gemeenskap.

Volgens Hardus Zevenster, uitvoerende hoof van die Bloudruk Groep waarvan GROOTfm 90.5 deel is, was die mediagroep se droom om vir die breë Afrikaanse gemeenskap hoop te bring in ʼn wêreld wat soms baie donker lyk.

GROOTfm, wat tydens verlede jaar se Suid-Afrikaanse radiotoekennings as “gemeenskapstasie van die jaar” aangewys is, is volgens Zevenster ʼn radiostasie en platform wat uitsonderlikheid verwerf het op grond van sy visie, sy missie en mense.

Hy glo hul sukses lê in hul mandaat, naamlik “vermaak wat ʼn verskil maak”.

“Was dit nie vir ons gemeenskap en kliënte wat ons projekte, veldtogte en programme ondervang of ontvang nie, bly hierdie platform dooie bene. Dis die Here en hierdie rolspelers wat die platform en span bly lewe gee.”

Suid-Afrika se toenemende uitdagings is volgens Zevenster rede om vir die volgende dekade nog groter te droom.

“Groter geloof, groter impak, groter invloed, groter innovasie en groter inspirasie aan alle mense in Suid-Afrika. Dis wat ons die volgende tien jaar wil bereik.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Piet 6 ·

Hoe verlang ek nou na die dae toe Groot Ontbyt en Grootplaas nog deur Elsa en Johrné aangebied was. Toe was dit nog iets om na uit te sien met baie inligting. Nou is dit net ń spul advertensies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.