‘Goedheid en guns’ nou deel van ‘Die GROOT Ontbyt’-spyskaart

Jenna-Leigh Bilong gaan binnekort kykers en luisteraars, met “goeiemôre” in plaas van “goeienaand” groet. (Foto: Verskaf)

Jenna-Leigh Bilong gaan binnekort kykers en luisteraars, met “goeiemôre” in plaas van “goeienaand” groet.

Dié nuusleser wat bekend is vir haar inspirerende “met goedheid en guns”- groet saans op die kassie, gaan die eNuus-span na bietjie meer as nege jaar groet en as mede-aanbieder by Die GROOT Ontbyt aansluit.

Bilong gaan in April deel van dié unieke radio-en-televisieprogram word en sien uit om ʼn lid te wees van “’n groeiende span met ʼn duidelike dinamiese visie vir die toekoms”.

Dít volg nadat Elsa Esterhuizen onlangs aangekondig het sy die geel bank na sewe jaar gaan groet. Haar voormalige mede-aanbieder, Johrné van Huyssteen, het reeds in Februarie die uitsaaiwese vir die eiendomsmark verruil.

Bilong wat benewens omroeper ook pastoor is, is van kleins af gemaklik met ʼn mikrofoon in die hand. Haar ma het vir haar ʼn pienk speelgoed-mikrofoon gekoop waarmee sy luidkeels op die agterstoep by haar ouma se huis in Bonnievale, die “Goeie nuus” met die bure gedeel het.

Dit het later in speel-speel radio-uitsendings ontaard en ontwikkel tot waar sy as dogtertjie agter “oom” Riaan Cruywagen aan nuus gelees het. Sy het op die ouderdom van 15 by ʼn gemeenskapsradio betrokke geraak en is van toe af oortuig dat uitsaaiwese die platform vir haar roeping is.

Sy was 17 jaar lank werksaam by ʼn gemeenskapsradiostasie in Worcester en het al onder meer by die plaaslike Media24-koerant in Worcester, die Nasionale Instituut vir Dowes en RSG met haar talente gewoeker.

Bilong vertel ook dat sy in haar loopbaan bevoorreg was om deur mentors soos Riaan Cruywagen, Freek Robinson, Margot Luyt, Alet van Rensburg, Francois Marais, Deon de Villiers en LiMari Louw geslyp te word.

Sy glo dat kommunikasie haar Godgegewe gawe is, en dat televisie een van die mediums is waardeur ʼn mens die effektiefste kan kommunikeer. “Nie net speel elke buiging in jou stem ’n rol nie, maar ook elke gesigsuitdrukking en beweging. Dit skep saam die volle beeld van die berig. Daarom geniet ek televisie-uitsendings net so effe meer as radio.”

Dié ma van twee seuns én twee hondekinders sê die hoogtepunt van haar dag is om rustig saam met haar man te kan sit en gesels. “Hy is die kalmte wat God geweet het ek sal nodig hê en die een vol wysheid wat vir my leiding bied.”

Haar aanstelling as mede-aanbieder by Die GROOT Ontbyt is volgens Bilong uitdagend en opwindend omdat sy dit as ʼn baie ernstige eer en voorreg ag om kykers aan te moedig om ingeligte besluite te neem oor kwessies wat hulle lewens raak. Sy sien ook uit daarna vir kykers om baie meer van haar persoonlikheid te ervaar en die ware hartklop agter “goedheid en guns, goeienaand” te beleef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Blikkies ·

Baie Geluk met jou aanstelling by Groot Ontbyt, ek seker baie ander mense sal jou daar geniet. Kom die groet ‘Goedheid en Guns’ nie maar eintlik van Freek Robinson af nie.

Johanna ·

Aaaag hoe wonderlik as so sprankelende vrou jou groet met ” Goedheid en Guns” wat wil ons meer as dit hê?
Voorspoed Jenna Leigh mag die Here voor jou uitgaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.