Jou pot se deksel wag dalk op die plaas

Marciel Hopkins. (Foto: Sulet Fourie)

Die immergewilde kykNET-maatsoekprogram, Boer soek ʼn vrou, is vanjaar al ʼn verstommende 15 jaar op die kassie en die program nooi enkellopendes om liefde in die nuwe seisoen te probeer vind.

Boer soek ʼn vrou het die afgelope paar jaar bykans volksbesit geword en het tot kykers se groot vreugde gelei. Dit het al gesorg vir talle verliefdes, verlowings, huwelike en selfs ʼn paar pienkvoete. Aan drama is daar ook nooit ʼn tekort nie.

Marciel Hopkins, die huidige aanbieder van Boer soek ʼn vrou, sê dit is vir haar kosbaar om te dink dat sy die aanvang van talle verhoudings kon aanskou het en dat sy self ʼn aandeel daarin gehad het.

“Dit is ongelooflik spesiaal om deel van die proses te wees; van waar ons die boer ontmoet, tot die briefaflewering en dan uiteindelik die troue.”

Hopkins benadruk dat talle liefdesverhoudings nooit sonder die program sou ontstaan het nie. Die twee seisoene waarvan sy deel was, het reeds ʼn allemintige sewe verlowings opgelewer.

“Om te dink dat dit nie sonder die program moontlik sou wees nie. Die mense sou mekaar nooit eens ontmoet het nie. ʼn Mens besef net weer hoe wonderlik hierdie platform is.”

Ná 15 jaar is die program se hoofdoel steeds om die liefde tussen Suid-Afrikaners te laat blom.

Vir diegene met onsekere harte wat graag ʼn brief aan sy of haar gunstelingboer wil stuur, maar skrikkerig is vir die kans om op die kassie te wees, het Hopkins goeie raad.

“Voel die vrees, maar doen dit in elk geval. Dit is oukei om bang te wees, maar die proses is mooi ontwerp om mense te ondersteun en te laat veilig voel. Niks word op jou afgedwing nie.

“Dit is ook nie net die boer wat vrye keuse het nie, die dames kan te alle tye ook hul eie besluite oor die proses neem.”

Hopkins verduidelik dat die proses waartydens die boer beter leer ken word, ook aan die deelnemers die geleentheid  bied om hulself beter te leer ken.

Dit is dikwels bemagtigend en ʼn reuseleerervaring vir die deelnemers, sê Hopkins.

Sy glo dit is belangrik om nie verstrengel te raak in die moontlikheid dat die pad huis toe vroeër eerder as later vir ʼn deelnemer kan wink nie.

“ʼn Deelnemer kan dalk daar uitstap en weet wat sy of hy wil hê, en wat nie.”

Hoewel daar die afgelope paar jaar min aan die program se wenresep gekarring is, is daar wel aanpassings gemaak om by tegnologie en ander faktore by te hou. Die Covid-19-pandemie het byvoorbeeld gesorg vir ʼn nuwe, noodgedwonge baadjie tydens die vorige seisoen.

Hopkins hou egter vol dat dit ten spyte van die uitdagings steeds ʼn uiters suksesvolle seisoen was. Niks minder nie as vyf verlowings het daaruit gespruit.

“Daar is ongelooflik innoverend gedink oor die uitdagings. Ons het wraggies in die middel van ʼn pandemie steeds ʼn super-suksesvolle seisoen gehad. Dit is alles te danke aan mense wat gedink het aan maniere hoe ons tegnologie ten volle kan benut.”

In die jongste seisoen is daar opnuut ʼn uiteenlopende groep boere en die potte wat deksels soek, verskil beduidend van mekaar.

  • Loer hier om te sien watter boer jou hart dalk vinniger laat klop.

Diegene wat vir een van die toptien boere ’n brief wil skryf, moet ouer as 21 wees en ongetroud, geskei of ’n weduwee of wewenaar wees. Inskrywings moet voor middernag op 28 Julie ingedien word.

Mense wat die boere beter wil leer ken, kan dit op een van die volgende maniere doen:

– Skryf in op kykNET se webwerf by www.kyknet.tv

– Bel die vervaardigers, Wolflight, by 079 614 2229

– Stuur ʼn e-pos na [email protected]

Digitale inskrywings, wat ook deur ʼn video vergesel kan word, is welkom. Voornemende pasmaats sal ook briewe of pakkies per koerier vir die boere kan stuur na een van dié twee adresse:

  • Boer soek ʼn vrou, PostNet 211, Privaatsak X15, Somerset-Wes 7129
  • Coronationlaan 11, Somerset-Wes 7130

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.