Kollig op geslagsgeweld in ‘GMR’

Tené Minderon vertolk die rol van Ivy in ‘Getroud met rugby’. (Foto: kykNET)

Dit is vandeesweek die laaste week van die veldtog van 16 Dae van Aktivisme teen geweld teen vroue en kinders. Die jongste, skokkende storielyn in die kykNET-sepie Getroud met rugby is juis daarop gemik om die kollig op dié gewigtige kwessie in Suid-Afrika te plaas.

Die veldtog is die eerste keer in 1991 deur die Verenigde Nasies se vroueleierskapsinstituut van stapel gestuur en het ten doel om weer die fokus op geweld teen vroue en kinders te plaas.

Getroud met rugby-kykers het onlangs gesien hoe Ivy, een van die rugbystadion se dansers, bekend as die Pompoms, ná Jordan (Theodore Jantjies) en Bibi (Stephanie Baartman) se troue deur iemand aangeval en in haar woonstel verkrag word.

Nóg die kyker nóg Ivy, wat vertolk word deur die 23-jarige aktrise Tené Minderon, kon die aanvaller se gesig sien. Kykers het ook vroeër gesien hoe Ivy deur een van die Stryders-spelers, Zappa, en haar kêrel, Ronnie, se vriend, Rooies, geteister word.

Is die verkragter een van dié mans, of is dit iemand van wie niemand dié gewelddadige daad sou verwag nie?

Tené Minderon as Ivy saam met die Pompom-dansers in ‘Getroud met rugby’. (Foto: kykNET)

Volgens Minderon, vir wie dit die eerste keer is dat sy ʼn storielyn van haar eie in die sepie vertolk – boonop met so ʼn swaar tema – was dit ʼn “ongemaklike storielyn” wat haar direk in die skoene van verkragtingslagoffers geplaas het.

“Ek het weke lank gesukkel om te slaap, selfs in my eie kamer, want die woorde van die teks en die storielyn het by my gespook,” vertel Minderon aan Maroela Media.

“Die verkragter het net een keer gefluister en hy het ʼn kondoom gebruik, so dit is ʼn groot raaisel vir Ivy én die kyker wie die verkragter is. Omdat Ivy vooraf ook teistering deur twee verskillende partye ervaar het, bespiegel die kykers nou oor wie dit moontlik kon wees.”

Minderon sê dit het haar vir die eerste keer ʼn verkragtingsaak deur ʼn slagoffer se perspektief laat sien. “Dit is snaaks hoe ʼn mens altyd dink ‘gaan sê net vir jou ouers, vriende of polisie wat met jou gebeur het’, maar dié storielyn het my laat besef met hoeveel vernedering so ʼn geval gepaard gaan.

Tené Minderon het voltyds met modelwerk begin na skool. (Foto: Hanneri de Wet)

“Dit is nie so maklik om net jou mond oop te maak en te praat nie, hoewel ons later deur die storie ook gaan leer dat dit wel die regte ding is om te doen sodat die skuldige uiteindelik aan die pen kan ry,” sê Minderon.

Kykers sal op Maandag 27 Desember vasstel wie die skuldige is.

Sy vertel dit was ʼn uitdaging om met so ʼn tema te werk as deel van haar heel eerste groot storielyn, maar dat sy die uitdaging met ope arms ontvang het. As deel van die navorsing wat sy vir die storielyn gedoen het, het sy reekse en rolprente uitgesoek waarin daar verkragtingstonele voorkom en dan spesifiek op die karakters se reaksies en toneelspel gefokus.

“Deon Opperman [skepper en skrywer van die sepie] het ook vir my goeie raad gegee en gesê ek moet myself só inleef in Ivy se skoene dat die reaksies wat ek toon, sal wees soos hoe ek self as Tené sou reageer.”

Volgens Minderon, wat geen dramaopleiding het buiten ʼn kursus wat sy deur die ikoniese aktrise Brümilda van Rensburg gedoen het nie, het sy baie van haarself geleer tydens die vertolking van die verkragtingstorielyn.

Sy het voltyds begin modelwerk doen nadat sy matriek aan die Hoërskool Die Anker in Brakpan aan die Oos-Rand behaal het. Sy het reeds op skool aan eisteddfods deelgeneem en drama as ʼn vak geneem.

Tené Minderon. (Foto: Hanneri de Wet)

“My sepieloopbaan het as ʼn ekstra op die stel van Binnelanders begin, waarna ek op die stel van Getroud met rugby beland het en uiteindelik het ek ʼn oudisie vir die rol van Ivy afgelê. Ek is baie gelukkig dat ek so ʼn gesogte rol kon kry sonder dat ek drama studeer het,” sê Minderon.

“Ek is dankbaar dat ek so ʼn belangrike storie deur my rol kon vertel. Die belangrikste les wat ek geleer het, en wat ek glo mense uit die storie moet leer, is dat hulle nie moet stilbly wanneer so iets met hulle gebeur het nie. Daar kleef nog soveel stigma aan iets wat só gereeld gebeur en dit is iets wat ons as samelewing moet afbreek om ʼn oplossing te vind.”

Getroud met rugby word weeksaande om 18:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai en is op DStv CatchUp beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

AmY ·

Baie goeie storielyn.
Tené, jy speel jou rol uitstekend. Welgedaan!

SlinkseKoljander ·

Almal het n eier te le oor geslags geweld maar niks word rerig aan dit gedoen nie.
n Mooi pos op Facebook of TV beteken eintlik niks, behalwe die persoon wat dit pos voel dan goed oor hulle self.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.