Kom kuier weer laataand by Rian

Rian van Heerden. (Foto: Verskaf)

Die tweede seisoen van die televisie-aanbieder, radio-omroeper en vervaardiger, Rian van Heerden, se kletsprogram, Laataand met Rian, is eersdaags weer op die kassie.

Dié seisoen, wat op 2 Januarie vanjaar op kykNET (DStv-kanaal 144) afskop, beloof om kykers te boei met gaste soos Elandré, Thys die Bosveldklong, die DA se adv. Glynnis Breytenbach en Tereza Troskie Herbst. Songezo Zibi, leier van Rise Mzansi, en Dan Roodt, omstrede aktivis en skrywer, maak ook ʼn draai by Rian in dié seisoen.

Kykers van die eerste seisoen sal onthou dat Rian altyd met ʼn nuusmaker in die eerste segment van die program gesels en dan sluit ʼn tweede gas as ʼn verrassing by hulle aan. Die tweede gas is gewoonlik ʼn interessante  persoon met wie Rian al iewers paaie gekruis het. Dit alles gebeur by sy restaurant in Pretoria, Delizioso.­­

“Ek dink veral die kombinasie tussen ons hoofgaste en verrassingsgaste is iets om na uit te sien. Ek hoop om by elkeen iets te leer – nie net oor myself nie, maar ook oor Suid-Afrika en moontlike oplossings vir ons uitdagings,” sê Rian.

Onder die gaste wat in die eerste seisoen saam met Rian gekuier het, tel Dozi, Tshwane-burgemeester Cilliers Brink, kletsrymer Angie Oeh, Carl Niehaus en Hlaudi Motsoeneng, voormalige baas van die SAUK.

Skakel Dinsdae vanaf 2 Januarie 2024 om 21:00 in op kykNET (DStv-kanaal 144) om die tweede seisoen van Laataand by Rian te geniet. Die reeks sal ook op DStv Catch Up en DStv Stream beskikbaar wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.