Kyk hoe dié brawe deelnemers fiksheidsreis op TV aanpak

Die deelnemers van ‘Fiks of Niks’. (Foto: Verskaf/kykNET)

ʼn Bekende aanbieder, ʼn sakevrou, ʼn parapleeg, ʼn vrou wat sukkel om swanger te raak en ʼn vrou wat borskanker oorleef het, is die ses uiteenlopende deelnemers wat binnekort in kykNET se nuwe leefstylprogram, Fiks of niks, te sien is.

In die program gaan die deelnemers poog om ʼn algehele verandering aan hulle eie lewe te maak, maar in Fiks of niks doen elkeen dit om hulle eie redes.

Die ses deelnemers het oor nege maande ʼn holistiese fiksheidspad aangedurf, alles terwyl hulle hul eie lewens ook bestuur het. Hulle moes na hulle onderskeie eetplanne kyk, byhou by die oefenprogram, nee sê vir allerlei versoekings op die pad en selfs beserings oorkom.

Die holistiese benadering van die program wys dat daar nie net gefokus is op hoe die deelnemers lyk nie, maar ook na hulle emosionele welstand.

Henck Conrey. (Foto: Verskaf/kykNET)

Henck Conrey (36) is bekend as aanbieder van Vat jou goed en trek en is vroeër vanjaar deur die tydskrif Men’s Health uitgedaag om op die voorblad van hulle Januarie-uitgawe van 2024 te verskyn.

Met sy besige skedule, waar hy onder meer verskeie sakeondernemings bestuur, het Henck besluit om aan die program deel te neem om hom te help voorberei vir die voorbladfotosessie.

Lizahn Bester. (Foto: Verskaf/kykNET)

Lizahn Bester (35) is agt jaar getroud, maar sukkel om swanger te raak. ’n Afspraak by ’n fertiliteitspesialis het gewys dat sy endometriose het waarvoor sy ’n operasie nodig het. Die dokter het haar egter aangeraai om eers gewig te verloor en daarom het sy besluit om deel van die program te word.

Ellenie Marais. (Foto: Verskaf/kykNET)

Ellenie Marais (52) is vier jaar gelede met borskanker gediagnoseer en het intussen ’n dubbele mastektomie ondergaan. Sy het egter meer as 30 kg opgetel en het besluit dit is tyd om dit te verloor sodat sy vir haar borsrekonstruksie-operasie kan gaan.

Rhona Ferreira. (Foto: Verskaf/kykNET)

Rhona Ferreira (68) was in 2019 in ’n motorongeluk en sy is sedertdien ’n parapleeg. Sy was voorheen baie lief vir sport en neem deel aan hierdie program om fiks genoeg te word sodat sy aan ’n tennistoernooi kan deelneem.

Nomvula Rakolote (46) is ’n suksesvolle sakevrou, ma en eggenoot. As die hoof van ’n groot besigheid en ’n gepubliseerde skrywer, het sy meer as genoeg op haar skinkbord, maar sy wil graag gewig verloor en ’n gesonder leefstyl handhaaf.

Lindie Janse van Rensburg. (Foto: Verskaf/kykNET)

Lindie Janse van Rensburg (50) het 25 jaar van haar lewe gegee vir haar man en kinders. Ná ’n moeilike egskeiding en met haar kinders uit die huis, voel sy dit is tyd om op haarself te fokus, gewig te verloor en gemakliker in haar eie lyf te voel.

Die borg van die program is die fiksheids-franchise, Body20.

Fiks of niks begin op Sondag 8 Oktober om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.