Kyk omstrede onderhoud met prins Harry hiér

Prins Harry se gesprek met Tom Bradby word op vanaand uitgesaai. (Foto: verskaf)

Prins Harry skroom nie om persoonlike besonderhede, familiegeheime en opspraakwekkende onderonsies aan die ganse wêreld te onthul nie.

Sy lankverwagte memoire, Spare, sal Dinsdag 10 Januarie op die rakke wees. Ter voorbereiding vir die uitreiking van die boek, wat glo lesers gaan boei, saai M-Net vanaand (9 Januarie) dié omstrede Britse koninklike se gesprek met ITV News-aanbieder Tom Bradby uit.

Dié nuwe onderhoud, wat mense reeds aan’t gons het, is ’n 90 minute lange gesprek waartydens prins Harry met ongekende eerlikheid oor sy familie, verhoudings en ontslape ma gesels.

“Dit is ’n ongekende geleentheid wat beslis die mense gaan laat praat. Ons is verheug dat ons kykers van die eerste in die wêreld gaan wees wat die onderhoud kan kyk,” het Jan du Plessis, kanaaldirekteur van M-Net-kanale, oor die onderhoud gesê.

(Foto: verskaf)

Dit is ongewoon vir ’n lid van die Britse koninklike familie om op dié wyse geheime met die wêreld te deel, meen Michael Jermey, ITV se direkteur van nuus en aktuele sake.

Dié onderhoud vorm deel van ’n storm wat tans rondom die koppe van Harry en sy vrou, Meghan Markle, woed. Ná die uitreiking van hulle Netflix-dokumentêr, Harry & Meghan, aan die einde van 2022, het die skindertonge nog nie ophou klap oor dié koninklike egpaar nie.

Besonderhede oor die voortslepende twis met sy broer, prins William, asook staaltjies van sy oorlogsdae, belydenis van dwelmgebruik en persoonlike bekentenisse het reeds op die lappe gekom nadat dele van sy memoire uitgelek het.

  • Kyk Tom Bradby se onderhoud met prins Harry vanaand (9 Januarie) om 19:00 op M-Net, DStv-kanaal 101.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Lakemalawi ·

Hy het ongetwfeld ‘n bulls eye op sy eie rug gesit met sy Afghanistan opmerkings!

annie ·

Kyk tog hoe gaan die Bradby tekere. Hy is, so lyk dit, spesiaal gekies vir die show om die prins verder uit te lok. Hierdie selfde tipe gedrag is destyds aangewend om Diana oor te haal om ‘te veel’ kwyt te raak. Harry kan dit dalk later berou.

Mariana ·

Ag regtig gaan die mannetjie en sy vroutjie dan nooit ophou nie. Hy wil glo weer familiebande tussen hom en sy familie versterk, maar skryf boek oor hoe erg hulle hom en haar behandel het. Kollig is al waarin hulle belangstel en nou kry hulle waarma hulle gesoek het. Harry gaan dit nog berou en dan gaan sy vroulief nie daar wees vir hom nie.

domheks ·

Harry se ou vroutjie is nie ‘n baie goeie invloed op hom nie! Sy ogies sal te laat oopgaan…

Niklaas ·

Nee , ek sal gewis nie sy boek of dokumentere films wil kyk nie. Hierdie prins het my liefde vir opleeswerk van die Britse koningsgesin en hul geskiedenis sommer drasties laat kwyn. Ek het nie meer belangstelling nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.