Luister: ‘Die groot afskud’-wenner keer lewe om met enorme gewigsverlies

Eddie Wallace in Maroela Media se ateljee. (Foto: Maroela Media)

Die dag toe Eddie Wallace van Wellington weens sy gewig byna nie meer uit die bed kon opstaan nie en hy die skaal op 227 kg laat kreun het, was die dag wat hy besluit het tot hier toe en nie verder nie.

Hy het ingeskryf vir die gewigsverlieskompetisie, Die groot afskud, met Vanes-Mari du Toit as aanbieder op VIA, en 60 kg se gewigsverlies later is Eddie as die wenner aangewys.

Eddie (37) vertel in Maroela Media se ateljee dit was sy gesondheid, asook die hunkering om met sy peuterseuntjie soos ander pappas te kon speel, wat hom gemotiveer het om sy lewe te verander.

“My seuntjie word nou vier jaar oud. As hy gevra het of ek met hom kan speel, was my verskoning altyd ek is te besig. Uiteindelik het hy opgehou om my te vra om met hom te speel en dit het my gebreek.

“Dit het my gedryf om ʼn beter pa vir hom te wees. Ek het my eie pa tydens die verfilming van die reeks verloor, en dit het my laat besef dat hierdie laaitie van my nou sy pa kort.”

Eddie het saam met Lisinda Bester van Saldanha, Gertjie Fourie van Hermanus, Bibi du Preez van Pretoria, Karlien Oosthuizen van Durbanville en Olive Marobela van Brakpan voor Die groot afskud se kameras geswoeg en gesweet in ʼn poging om die meeste gewig te verloor en uiteindelik die kontantprys van R300 000 vir die wenspan los te slaan.

Die deelnemers is ondersteun deur die sielkundige Dewald Louw, die fiksheidsafrigter Olivia Losper en die dieetkundige Minette Röth.

“Dit was vir my ʼn ongelooflike ervaring. Daar was ook baie hartseer oomblikke, maar dit was nodig om my te kry waar ek vandag is. Dit was ʼn baie goeie leerskool,” sê Eddie oor sy ervaring op Die groot afskud.

Eddie Wallace lyk en voel soos ‘n nuwe mens nadat hy 60 kg afgeskud het. (Foto: Facebook)

Volgens Eddie voel hy nie net fisiek ligter nie, maar ook geestelik en emosioneel. “Mense sê ek lyk goed en ek voel ook tien keer beter. My selfvertroue is ook soveel beter, en ek kan normaal loop. Ek kon sewe maande terug nie loop nie. My besigheid het gegroei net omdat ek nou lus is vir werk.

“Ses maande gelede het ek lus gehad vir niks nie. Alles het agteruitgegaan: my besigheid, my persoonlike lewe en familieverhoudings. Al daai goed is nou weer herstel.”

Net meer as ʼn halwe jaar gelede kon Eddie skaars vyf meter stap, sy bloeddruk was hemelhoog en hy het gereeld op pad werk toe agter die stuurwiel van sy voertuig aan die slaap geraak.

“Daai goeters is weg. Toe ek nie meer kon loop nie het ek geweet ek moet ʼn plan maak, anders is ek dalk oor ʼn paar maande dood.”

Eddie lag as hy sê sy vrou is ook baie bly oor sy gewigsverlies, want “ek moan nie meer so baie nie”.

“My seuntjie is só opgewonde. Hy kan nie wag dat ek in die middae by die huis kom sodat ek met hom kan speel nie. Hy kry net nie genoeg nie.”

Die inskrywings vir die nuwe seisoen van Die groot afskud het reeds gesluit. Die tweede seisoen begin vroeg in 2024 uitsaai op VIA, DStv-kanaal 147.

  • Luister boaan die berig na die volledige ateljeeonderhoud met Eddie Wallace.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

S ·

Welgedaan Eddie! Entoesiasme is algemeen maar uithouvermoë is baie skaars!! Dis harde werk, commitment, wyse besluite – elke liewe dag. Mense besef nie dat hul gesondheid en hoe hul op hul oudag gaan funksioneer is eintlik in hul eie hande – deur nou te oefening, aktief te bly, water te drink en gesonde kos keuses te maak. Nie al die geprosesseerde goed op die rakke nie. En dit als laat mens goed voel! “exercise not only changes your body, it changes your mind, your attitude and your mood”

George ·

Indien jy nie al jou kos self groei, broei, verwerk nie, gaan jy geprosseseerde kosse in jou dieet he, jy moet dit net manage en aktief wees. Ongelukkig gaan die gewone persoon nie processed food kan eenkant toe skyf nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.