Luister: Groot konsert, gesogte TV-reeks vir Brendan, Barto

Brendan Peyper en Barto kuier by Maroela Media. (Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

Op die verhoog is Brendan Peyper ʼn selfversekerde sanger en liedjieskrywer wat ʼn gehoor met sy treffersnitte soos “Toer om die vloer” en “Insomnia” bekoor, maar hy gaan ook eersdaags kennis maak met Kupido se liefdespyl in die derde seisoen van die kykNET-maatsoekreeks, Op my eish!

Die gespierde sanger met die spierwit glimlag vertel hy sien uit daarna om die sogenaamde bachelor op die program te wees, maar voeg by hy het twee kere vantevore die aanbod om deel van die program te wees, van die hand gewys.

“Ek het uiteindelik gesê dit klink pret, maar ek verwag nie dat ek my trouvrou gaan ontmoet nie. Ek is nog jonk en ek geniet my lewe nou, en dit gaan regtig iemand ongelooflik vat om dit te verander. Ek is nou op ʼn lekker plek in my lewe en wil nie hê iemand moet dit vir my bederf nie.

“Ek kan egter nie aan iets beter dink as om uiteindelik jou lewe saam met een persoon deur te bring nie, so miskien gebeur dit en miskien nie,” sê Brendan (27) oor die ervaring wat voorlê.

Brendan Peyper gaan liefde soek op ‘Op my eish!’. (Foto: RQ Photography/ Sascha van der Westhuizen/Verskaf)

Die derde seisoen van Op my eish! word in September en Oktober vanjaar by van Brendan se gunstelingplekke verfilm.

Die sanger sê hy hou van vroue wat ander mense met respek hanteer en wat nie drama veroorsaak nie. Hy hou ook nie van ʼn vroue wat meer as hy drink nie, sê hy.

“Die uiterlike verander met tyd, maar die innerlike is baie belangrik.”

Brendan het saam met Barto, sanger en liedjieskrywer, in Maroela Media se ateljee gekuier. Dié sanger, bekend vir sy treffersnitte “H2Oë” en “Vlam in die wind”, is saam met Brendan en 20 ander gesogte Afrikaanse kunstenaars op die Krone by Loftus-konsert in Pretoria te sien.

Die massiewe saamsingjol word op 19 Augustus by Loftus aangebied, en is die grootste konsert van sy soort, met ʼn 360-grade ervaring vir elke gehoorlid.

Barto skerts laggend dat hy blink klere op die Krone-verhoog gaan dra, “want ek is so kort, iets moet my laat uitstaan”.

“Dit is ʼn ongelooflike groot byeenkoms, so dit is lekker om kostuums te dra wat jy nie normaalweg op die verhoog sal dra nie.

“Ek onthou nog die eerste keer wat ek deel van Krone was, was daar 6 000 mense. Dit was ʼn klein sirkel en ʼn verhoog by Carnival City. Ons het nog nooit voor soveel mense opgetree nie, en dit gaan beslis een van die grootste musiekbyeenkomste in die land wees.

“Ons gaan geskiedenis maak in Loftus. Dit gaan groot wees. Jy staan op daardie massiewe verhoog en jy voel piepklein, en daar is so baie mense om jou, maar jy moet maar net jouself inleef en onthou waarvoor die mense daar is – die musiek,” sê Brendan.

Volgens Barto knaag die senuwees om voor sowat 30 000 mense te sing. “Ek sien wel ongelooflik uit om ʼn verhoog te deel saam met my helde en legendes in die Afrikaanse musiekbedryf.”

Kaartjies vir Krone by Loftus is hier beskikbaar.

  • Luister boaan die berig na die volledige ateljeeonderhoud met Brendan Peyper en Barto.

Brendan en Barto “mag nie lag nie” by Maroela Media:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.