Met wie gaan Brendan ‘toer om die vloer’?

Brendan Peyper soek nou liefde in ‘Op my Eish 3’. (Foto: RQ Photography/ Sascha van der Westhuizen/Verskaf)

Hy het ʼn suksesvolle sangloopbaan, spiere wat bult en ʼn glimlag wat knieë lam maak, maar een ding wat sanger Brendan Peyper klaarblykblik nog nie gevind het nie, is daardie een groot liefde.

Daarom is hy die jongste alleenloper om deel te neem aan die gewilde kykNET-maatsoekreeks, Op my eish!.

Die “Stop, wag, bly nog ʼn bietjie”-sanger sê hy het ingestem om deel van die program te wees omdat mens nooit weet wat die lewe vir jou inhou nie. “Ek is baie oopkop oor die lewe en wil nie deure toemaak wat vir my oopgaan nie.”

Brendan, wat op 7 Augustus sy 27ste verjaardag vier, is in Bloemfontein gebore en het op vyf reeds begin kitaar speel.

Brendan sê hy hou van vroue wat ʼn gesonde leefstyl handhaaf. (Foto: RQ Photography/ Sascha van der Westhuizen/Verskaf)Westhuizen/Verskaf)

Sy debuutalbum, Stop, wag, bly nog ʼn bietjie, is in 2015 uitgereik en daarna het ʼn rits treffers gevolg. Sy liedjies “Jy laat dit maklik lyk” en “Stop, wag, bly nog ʼn bietjie” se musiekvideo’s is elk reeds meer as 6,8 miljoen keer op YouTube gekyk en sy jongste treffer, “Toer om die vloer”, het in agt maande meer 3,4 miljoen trefslae op YouTube gehad.

Volgens Brendan het hy nie noodwendig ʼn definitiewe prentjie van hoe sy ideale vrou moet lyk nie. “Soms is dit die persoon van wie jy dit die minste verwag wat jou die hardste van jou voete afslaan. Al wat ek kan sê, is dat ek van ʼn vrou hou wat atleties gebou is en ʼn gesonde leefstyl handhaaf.”

Die derde seisoen van Op my eish! word in September en Oktober vanjaar by van Brendan se gunstelingplekke verfilm en die uitvoerende vervaardiger, Gideon Eksteen van Wakanda Media, sê kykers kan beslis ʼn paar kinkels verwag.

Daar word verder nie te veel aan die formaat van vorige seisoene, waar akteurs Francois Jacobs en Neels van Jaarsveld ook liefde gesoek het, verander nie.

“Wanneer dit by sake van die hart kom, kan dinge onvoorspelbaar wees,” sê Gideon.

“Die beste ding vir ons as produksiespan is om die proses sy natuurlike gang te laat gaan en die beste vir die kyker vas te vang.”

Gideon sê die span hoop Brendan sal liefde vind. “Hy neem deel met ʼn oop kop en ʼn groot hart en is reg vir enige gebeurtenis.”

  • Inskrywings is tans oop en sluit 31 Augustus. Klik hier om in te skryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.