MultiChoice kap terug na ‘WildEarth’

(Foto: WildEarth/Facebook)

Te midde van ʼn twis tussen WildEarth en MultiChoice het Calvo Mawela, uitvoerende hoof van MultiChoice, sy “teleurstelling in die kanaal se gedrag” uitgespreek.

WildEarth, op DStv-kanaal 183, is ʼn kanaal wat daagliks regstreeks uitsaai om kykers ʼn smaak van die Suid-Afrikaanse natuurlewe te gee, met sowat 7 miljoen kykers wat maandeliks wêreldwyd vir dié kanaal se inhoud inskakel.

André Crawford-Brunt, voorsitter van WildEarth, het sy misnoeë oor die stand van sake tussen die natuurkanaal en die uitsaaireus in ʼn ope brief aangespreek.

Hy voer aan dat die kanaal reeds ʼn jaar, sonder enige sukses, spook om geldelike ondersteuning vanaf MultiChoice in te win.

Die kanaal het op 21 Maart vanjaar MultiChoice in kennis gestel dat hul paaie in April gaan skei.

“Terwyl WildEarth geregtig is daarop om te besluit op watter platforms hulle inhoud beskikbaar is, is dit teleurstellend dat hulle op so ʼn openbare wyse druk op MultiChoice uitoefen om kommersiële ondersteuning te verkry,” het Mawela gesê.

WildEarth het MultiChoice in 2020 oor die kanaal genader. MulitChoice het daarna ingestem om ʼn kanaalverspreidingsooreenkoms met WildEarth te sluit en het raad en ondersteuning gegee in ʼn poging om WildEarth te help, verduidelik Mawela.

“Die ooreenkoms was ook nie eksklusief nie, wat beteken dat WildEarth hul inhoud op ander platforms ook kon deel.”

Mawela sê ook dat WildEarth nie meer tevrede is met die ooreenkoms wat in 2020 gesluit is nie, en daarom nou hulself as kanaal wil onttrek.

“MultiChoice sal nie enige verdere kommentaar oor die saak lewer nie en wens WildEarth voorspoed toe vir hul toekomsplanne.”

Brunt meen in sy ope brief dat WildEarth en MultiChoice se waardes ooreenstem en dat dit nie vir die organisasie volhoubaar is om voortaan inhoud aan MultiChoice te verskaf sonder geldelike ondersteuning nie.

“Ons het die saak gestel dat deur geen betaling vir ons inhoud te ontvang nie onvolhoubaar is vir ons, maar wonderlik vir hulle,” skryf Brunt.

“Ons het herhaaldelik benadruk hoe ʼn groot rol ons in opvoeding, bewaring en toerisme speel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

ekweetniks ·

ek verstaan. kan nie vir ewig inhoud verskaf en geen vergoeding daarvoor ontvang nie

Piet 6 ·

Multichoice die groot boelie van almal, hou net aan om pryse te vehoog en swakker inhoud te verskaf. Beloftes vir eksta kanale vir Compact Plus kykers, naar hulle het nog nêrens die nuwe kanale aangekondig nie.

annie ·

Mawela maak miljoene uit SA- en buitelandse kykers. Dit is uiters arrogant en staan vyandig teenoor Afrikaners. Ons hoop hulle verkoop aan die Franse groep en verdrink in hul geld.

Niklaas ·

Ai tog. Wildearth is die een kanaal wat ek daagliks na kyk. Sal dit nou wraggies baie mis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.