Nóg seisoene vir ‘Bridgerton’

Die Bridgerton-gesin. (Foto: IMDb)

Netflix het aangekondig dat ʼn derde en vierde seisoen van die trefferreeks Bridgerton gemaak gaan word.

Dié aankondig kom nog voordat die produksie van die tweede seisoen voltooi is.

Netflix het voorheen gesê Bridgerton is sy suksesvolste reeks nóg, met 82 miljoen huishoudings wêreldwyd wat na die reeks se eerste seisoen gekyk het binne die eerste maand wat dit uitgereik is.

Die stromingsreus tel egter enigiemand wat langer as twee minute na ʼn enkele episode kyk as ʼn kyker.

Bridgerton is geskoei op die romantiese boekereeks deur Julia Quinn en is vervaardig deur Shondaland, wat gestig is deur Grey’s Anatomy– en Scandal-vervaardiger Shonda Rhimes.

Die fiktiewe karakter Lady Whistledown (wat deur dame Julie Andrews vertolk word) het in ʼn verklaring in hogere Engels gesê dit blyk dat daar ʼn “baie spesiale aankondiging is”.

Bridgerton sal terugkeer vir seisoene drie en vier. Hierdie skrywer sal meer ink moet byvoeg,” het sy gesê.

Regé-Jean Page as Simon Basset. Hy het egter onlangs aangekondig dat hy nie in die tweede seisoen sal verskyn nie. (Foto: IMDb)

Die eerste seisoen van die reeks met Phoebe Dynevor, Nicola Coughlan en Regé-Jean Page in die rolverdeling, is op Kersdag verlede jaar uitgereik. Page het onlangs aangekondig dat hy nie vir die tweede seisoen gaan terugkeer nie.

“Van die eerste keer wat ek Julia Quinn se lieflike Bridgerton-reeks gelees het, het ek geweet dit is stories wat ʼn visuele gehoor sal aangryp. Die voortsetting van die reeks bewys daar is sterk vertroue in ons werk en ek voel ongelooflik dankbaar om vennote te hê wat so samewerkend is soos Netflix,” het Rhimes gesê.

Bela Bajaria, adjunkpresident van wêreldwye televisie by Netflix, het gesê Bridgerton het “hulle voete onder hulle uitgeslaan”.

“Die kreatiewe span, wat deur Shonda gelei word, het die materiaal geken en in ʼn pragtige, emosionele, romantiese drama vir ons lede oorgedra. Ons het opwindende planne vir die toekoms en ons dink gehore gaan bly swymel oor die reeks.”

Bron: BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.