Nuwe gesigte eersdaags in ‘Binnelanders’ te sien

v.l.n.r. David Viviers (as Liam Vorster), Mila Guy (as Zanel Jordaan), Solomon Cupido (as Elton Cloete) en Kate Roothman (as Nicolette Nortje). (Foto: verskaf)

Mila Guy, David Viviers, Solomon Cupido en Kate Roothman sal vanaf Donderdag 7 April die rolle van vier nuwe internskap-dokters in die sepie Binnelanders vertolk.

Die karakters ding om ’n pos in die ongevalle-eenheid van die fiktiewe hospitaal Binneland-kliniek mee.

Maroela Media het by dié vier gaan kuier om meer uit te vind oor die opwindende paar weke wat vir hul karakters in die sepie voorlê.

Mila Guy (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Mila Guy as Zanel Jordaan

Met een voet nog in die studentewêreld en die ander in die Afrikaanse vermaakbedryf, het Guy in 2014 aan Binnelanders se deur kom klop vir ’n rol in die bekroonde sepie.

Uiteindelik het haar derde oudisie vrug afgewerp; sy het die rol van babaoppasser Zanelle Jordaan losgeslaan.

Alhoewel die karakter vir slegs ʼn kort rukkie in die sepie was, het Guy se loopbaan sedertdien van krag tot krag gegaan. Sy was te sien in Ballade vir ’n enkeling, Liewe Kersfeesvader, Wonderlus en het onlangs vir die laaste seisoen van die bekroonde kykNET-reeks Hotel teruggekeer.

Kykers het egter nog nie die laaste van Zanelle Jordaan gesien nie. Guy sal vanaf Donderdag ’n gereelde gesig in die sepie wees, hierdie keer sal sy egter nie na kinders omsien nie.

“Dis cool om terug te kon kom Binnelanders toe as dieselfde karakter. Dit is vir my baie lekker om terug te wees,” het Guy aan Maroela Media vertel.

Sy erken dat sy nog nie ’n toneel saam met die 75-jarige veteraanakteur Hans Strydom, wat al sedert die begin van die sepie in 2009 die rol van dr. At Koster vertolk, geskiet het nie.

“Die dag wat ek ’n toneel saam met hom het, gaan ek só goed voorberei. Jy respekteer die ouer mense veel meer; hulle kom al ’n baie lang pad. Dit is amper asof jy as jonger aktrise wil wys dat jy verdien om hier te wees. As daardie dag kom wat ons ’n toneel saam het, gaan ek báie, báie mooi voorberei.”

David Viviers (Mizanne Hattingh/Maroela Media)

David Viviers as Liam Vorster

Die aantreklike Engelsman is oorspronklik van die Kaap af. Hy het egter die wind, wyn en wingerdstokke vaarwel geroep om deel van Binnelanders te word.

“Ek was op soek na verandering en ʼn uitdaging. Iets wat my uit my gemaksone haal. Ek het ook besluit dat ek elke vyf jaar iets nuuts gaan aanpak.”

Vir Viviers was ʼn trek Johannesburg toe en ʼn splinternuwe rol juis die verandering wat hy nodig gehad het.

Sy gesig kan, nes Guy sʼn, effe bekend vir gereelde Binnelanders-kykers wees, aangesien hy reeds verlede jaar die rol van Liam Vorster aangepak het.

Viviers het tweetalig grootgeword, met ʼn ma en ʼn pa wat onderskeidelik Afrikaans en Engels is. Hoewel hy al hoe gemakliker raak om meer gereeld toneel in Afrikaans te speel, is daar steeds woorde wat soms ʼn bietjie snaaks van die tong af rol.

“Ek onthou dat een van die meer ernstige tonele vir groot vermaak vir die om my gesorg het. Ek kan nie presies onthou wat die omstandighede was nie, maar ek weet dat ek besig was om op een van die ander karakters te skree, en die woord ‘vertrou’ met ‘getrou’ verwar het. Ek het na die afloop van die toneel myself op die skouer geklop, aangesien ek onder die indruk was dat ek my redelik goed van die taak gekwyt het. Diegene om my het egter begin skaterlag oor die fout.”

Viviers geniet die geleentheid om aan ʼn sepie te werk terdeë.

“Sepiewerk is vreeslik tegnies van aard. Dit is vir my lekker om meer te leer, juis omdat dit so tegnies is. Ek het besef dat kennis oor hoe die sepie geskiet word, die vertel van die storie stukke beter maak.”

Solomon Cupido (Foto: verskaf)

Solomon Cupido as Elton Cloete

Die komediant en pa van drie is al vir ʼn wyle as die bekkige dr. Elton Cloete in Binnelanders te sien.

Die 35-jarige Cupido het, nes Guy, ʼn paar keer in die oudisie-tou gestaan. Die deur het uiteindelik oopgegaan toe hy die rol van dr. Cloete losgeslaan het.

“Om in te kom en deel te word van ʼn sepie, en dit tegnies my eerste sepie, is ʼn ander storie.”

Daar was egter ʼn paar bekende gesigte wat Cupido laat ontspan het. Bradley Olivier, wat die rol van paramedikus Danny Jantjies in die sepie vertolk, is Cupido se beste vriend.

Die twee, saam met Clint Brink, kom oorspronklik van die Paarl af. Dit is hier waar Cupido en Bradley ontmoet het.

Cupido was aanvanklik in die bekroonde rugbyskool Paarl Boys’ High. Hy het egter die besluit geneem om in gr. 11 die skuif te maak na die New Orleans Sekondêre Skool toe.

“Die skool is nie in Amerika nie,” het hy geskerts.

“Dit was in daardie stadium die enigste skool in die omgewing wat drama as vak aangebied het.”

Dis hier waar Olivier en Cupido se vriendskapsbande behoorlik gesmee is.

Hy erken dat die karakter se aanhoudende gesels soms vir hom een te veel raak.

“Hy het verbal diarrhoea. Mens bid soms na die Vader vir ʼn rol waar mens baie kan praat, maar met tye wens ek dat Elton soms net kan glimlag en mooi lyk,” skerts Cupido.

Kate Roothman (Foto: verskaf)

Kate Roothman as Nicolette Nortje

Roothman, wat eens op ʼn tyd gereeld in ʼn ander Afrikaanse sepie te siene was, sal kykers eersdaags weer bekoor, die keer as dr. Nicolette Nortje.

Nortje is nie net die liefde van Liam Vorster (David Viviers) nie, sy is ʼn kompeterende, onafhanklike en eerlike jong vrou wat sal veg vir haar plekkie in die son.

“Sy weet wat sy wil hê in die lewe, en is bereid om hard te werk om daar uit te kom,” het Roothman oor dié karakter vertel.

Nuwelinge en nuwe dinge

Al vier akteurs het getuig oor die professionele en lekker omgewing wat deur die Binnelanders-span geskep word.

“Ek moet sê dat almal hier mens baie gemaklik laat voel, dit laat jou eintlik nie eers nuut voel nie,” het Guy vertel.

Soos een man het elkeen ook erken dat dit ʼn voorreg is en was om saam met, onder andere, Cindy Swanepoel te kon werk.

Die nuwelinge het ook ʼn paar keer aan die deure van die akteurs wat al jare deel van die sepie is, gaan klop vir hulp met van die moeiliker mediese terme.

“Ek het gereeld vir Clint Brink [dr. Steve Abrahams] en Cindy Swanepoel [dr. Annelize Roux] vir raad gevra oor van die terme,” het Cupido vertel.

“Ek het egter uitgevind dat die geheim is om dit so vinnig moontlik en met vreeslike selfvertroue te sê, dan kom niemand agter as jy dalk ʼn foutjie maak nie,” het hy verder geskerts.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.