Ontmoetings, onthullings in ‘Boer soek ’n vrou’

Niel stel sy dames, Monique (links) en Chereze aan sy familie en vriende voor. (Foto: kykNET)

In Donderdagaand se episode van Boer soek ʼn vrou het die hoopvolle vroue wat op die boere se plase kuier uiteindelik die boere se naaste familie en vriende ontmoet.

René en Marizel het voor die braai boer Richann (29) se ma, Marléne, beter leer ken in die kombuis. Hulle het saam brood gebak en slaaie voorberei vir die aand se groot feestelikheid op die plaas in Vredefort in die Vrystaat.

René het laat hoor dat sy hou van die manier waarop Richann met sy mense omgaan. “Dit is lekker om daai deel van hom te sien. Ek wil graag hê Richann moet my kies, ek voel sterker oor hom ná vanaand.”

Marizel het om die beurt gesê sy glo Richann het reeds sy keuse gemaak. “Iets soos vanaand, met sy mense rondom hom, het dit dalk net bevestig.”

Volgens Richann moet die vrou wat hy kies besef ʼn plaas is nie net ʼn plek waar jy oor naweke kan ontspan nie. “Jy moet gewoond raak aan die leefstyl. Sy moet weet dat wanneer almal Maandag weer werk toe gaan ná die naweek, dit dan moeilik is om byvoorbeeld by ʼn Woolies uit te kom. Dit is belangrik dat daardie denkwyse daar is.”

In Mbombela in Mpumalanga het albei die blondekoppe op boer Déan (29) se plaas te kenne gegee dat hulle baie van dié 29-jarige makadamianeutboer hou.

Déan se twee meisies, Marné (links) en Marinel. (Foto: kykNET)

Toe een van sy vriende hom probeer vasvra met feite oor Marné en Marinel, het Déan trots laat hoor: “Ek ken hulle baie goed, trust my.”

“Van die eerste dag af wat ek hom gesien het, was ek definitief aangetrokke tot hom. Hy’s ongelooflik en in hierdie stadium waar ons nou is, kan ek vir jou sê dat daar definitief iets is wat ek vir hom voel,” het Marinel gesê.

Boer Albert (24) het onthul dat Marlia, wat alleen op die plaas agtergebly het nadat beide Mariska en Trudie in ʼn skokwending in verlede week se episode die plaas verlaat het, se brief aanvanklik nie die mas opgekom het nie en dat sy 11de op sy lys was. Haar plek in die top-10 was verseker toe ʼn ander vrou nie met die proses kon voortgaan nie.

Marlia het klaarblyklik egter ál Albert se verwagtinge oortref toe hy haar in die Kaap ontmoet het. “As Marciel [Hopkins, aanbieder van die program] vir my op die plek gevra het ek moet kies tussen die drie meisies, sou ek sonder twyfel vir Marlia gekies het. Dit gee my vrede in my hart oor hoe alles nou uitspeel,” het Albert bygevoeg.

Hy het haar selfs agter die stuur van sy bakkie vertrou en hulle het ʼn 4×4-roete voltooi om die uitkykpunt op die plaas te bereik. “Albert het definitief ʼn bietjie met my geflirt, maar dit het my ʼn bietjie op die spot gesit. Dit was lekker om te sien dat hy darem in my belang stel,” het Marlia gesê.

Boer Kobus van Randfontein in Gauteng het gebieg dat hy nog nie só aangetrokke voel tot Maxie of Lynette dat hy met een van hulle in ʼn verhouding wil tree nie.

“Liefde is nie iets wat net uit die bos uit spring nie. Daar moet ʼn bietjie tyd verloop. Vir my is dit nog vyftig-vyftig,” het hy gesê.

Boer Kobus en sy twee dames, Maxie (links) en Lynette. (Foto: kykNET)

Kobus se dogters, Leana en Dulandi, het gesê hulle pa is eintlik ʼn “’n baie groot softie”. “Hy kom voor as ʼn baie sterk man en boer, maar diep binne het hy ‘n sagte kant. Dit moet net gevind word.”

Op boer Niel se plaas het hy Monique en Chereze se senuwees probeer kalmeer deur hulle vir ‘n piekniek by ‘n waterval te neem. Volgens Niel het albei die vroue vrede oor die pad vorentoe.

“Dit maak my gemoed baie rustiger, maar dit maak nie die keuse makliker nie,” het hy gesê.

Volgens Chereze hanteer Niel haar en Monique dieselfde. “Hy verklap nie iets nie en hy sê ook hy probeer so hard om nie iets te doen of te sê, veral as ons alleen is, om iemand te laat wonder of daar iets van sy kant af is of nie.”

Monique het verklap dat sy en Niel “spelerig” met mekaar is. “Ek sal iets sê en dan kan ek sien hy kyk vir my, en hy lag vir my. Ons flankeer definitief met mekaar.”

Boer soek ʼn vrou word op Donderdae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.