‘Plaasjapie’: Eerste stadsjapie kry tranerige trekpas

Noubees was die eerste span om ‘n ‘koöperasie kuier’ by te woon. (Foto: Verskaf)

Skape is gejaag, bondgenootskappe is gevorm en die eerste deelnemer wat klaarblyklik nie haar sout werd is nie, is huis toe gestuur in vandeesweek se episode van die kykNET-reeks, Plaasjapie.

In dié nuwe reeks verruil 18 deelnemers hul gemaklike stadsnessies vir ʼn primitiewe plaasbestaan in die Swartland aan die Weskus vir ʼn kans om R1 miljoen te wen.

Laurika Stander, ʼn apteker van Kleinmond in die Wes-Kaap, was die eerste deelnemer om die trekpas by die “koöperasie kuier” te kry nadat die Noubees-span vandeesweek se uitdaging verloor het.

Die spanne moes in groepe van twee kyk wie die vinnigste skape in verskillende krale kon injaag. Noubees-lid Roché, wat in verlede week se episode drie steke moes kry nadat hy homself met ʼn byl beseer het, moes dié uitdaging egter uitsit.

Spanne moes vandeesweek skape jaag. (Foto: Verskaf)

Terwyl Laurika en spanmaat Cecil die blaam vir hul span se swak spel wou dra, het aanbieder en “baas van die plaas”, Ewan Strydom, deelnemers herinner dat “ʼn plaas nie ʼn eiland is nie”.

“Julle sterkpunte maak julle uniek as ʼn groep, maar dit is ook belangrik om te leer om met mekaar se swakpunte saam te leef.”

ʼn Emosionele Laurika het ook erken dat sy reeds ná die uitdaging ʼn voorgevoel oor haar lot op die plaas gehad het. Sy het selfs haar span se varkies, wat sy “Kiepie” en “Kandas” gedoop het, voor die korporasiekuier gaan groet.

Laurika het die plaas en haar spanlede aan die einde van die episode met ʼn traan gegroet. “Ek is die persoon wat die hardste gewerk het, maar niemand het dit raakgesien nie, want hulle het klaar in die begin ʼn keuse oor my gemaak. So hulle het nie eens daarna gekyk nie.”

Laurika is die eerste deelnemer om die trekpas te kry. (Foto: Verskaf)

Die stadsjapies het vandeesweek ook hul aandag op verbintenisse begin vestig, met deelnemers wat reeds beloof om mekaar teen ʼn volgende trekpas-geleentheid te beskerm.

“Ek dink ons is ʼn baie sosiale groep, so jou sosiale spel tel nogal baie. As jy nie op daardie vlak inskakel nie, kan dit net so goed wees soos om te verloor in ʼn uitdaging,” het 31-jarige Noubees-lid, Leo-Nene, oor haar span se dinamika gesê.

Kykers sal in die volgende episode sien of vandeesweek se bondgenootskappe egter steeds geldig is.

Plaasjapie word Donderdag om 20:00 op kykNET uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Kobus ·

Moet nog besluit of hierdie ‘n komedie of ‘n pot snert is.

Elmarie ·

Verseker ‘n pot snert. ‘n Boere weergawe van survivor met ‘n paar twist.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.