‘Spoorloos 4’-akteurs deel staaltjies, hoogtepunte

Deur Ilza Roggeband

Die vierde seisoen van die immergewilde Spoorloos-reeks staan einde se kant toe en kykers is dit eens – dié seisoen was ’n treffer!

Aanhangers van die reeks het in Spoorloos: Die eiland kennis gemaak met Stefan Claasen, die avontuurlustige argitek wie se lewe in chaos gedompel word.

Die rol van Stefan is vertolk deur Bobby van Jaarsveld. Armand Aucamp, Izel Bezuidenhout, Hannes van Wyk, Deon Coetzee, Marisa Drummond, Tiaan Slabbert, Leché Joubert en Donovan Pietersen het ook in hierdie seisoen verskyn.

Christo Davids en Francois Coetzee het die regie behartig. Ilse van Hemert het as hoofskrywer opgetree.

Dié groep akteurs deel herinneringe, staaltjies en hoogtepunte op die stel van Spoorloos: Die eiland.

Bobby van Jaarsveld

Bobby van Jaarsveld as Stefan Claasen in ‘Spoorloos 4: Die eiland’. (Foto: kykNET)

Wat was vir jou die hoogtepunt van die produksie?

Die hele ervaring was ’n hoogtepunt in my lewe. Ek wag al so lank vir so ’n rol. Dit was ’n droom wat waar geword het.

Watter reaksie het jy van kykers gekry?

Ek het oorweldigende kommentaar gekry van soveel mense. Ek het lanklaas soveel reaksie gehad op iets wat ek gedoen het. Mense is mal daaroor! Ek is so dankbaar daarvoor.

Wat gaan jy die meeste van jou karakter mis?

Ek glo en bid dat ek weer sulke rolle kry. Stefan was ’n intense karakter en hy gaan deur soveel emosies en trauma. Ek dink ek gaan dit mis om al daardie emosies uit die karakter te kry. En dan die aksietonele! Die weghardloop van die polisie, die duik in die see en daardie dinge. Maar ja, ek gaan die hele Spoorloos-span die meeste van alles mis.

Izel Bezuidenhout

Izel Bezuidenhout in ‘Spoorloos 4: Die eiland’. (Foto: kykNET)

Wat was vir jou die hoogtepunt van die produksie?

Sjoe, ek sukkel regtig om net een hoogtepunt te kies, want dit was ‘n wonderlike ervaring om deel daarvan te wees. Ek dink om saam met ongelooflike regisseurs te kon werk, was ’n massiewe voorreg. Al die dinge wat ek by hulle geleer het, sal ek vir die res van my loopbaan saam met my dra. Hulle het ons elke dag op stel so veilig en gemaklik laat voel en hulle toewyding aan die kuns was inspirerend.

Watter reaksie het jy van kykers gekry?

Ek was oorweldig met die goeie terugvoer. Kykers het met elke episode op die punt van hulle stoele gesit en wou nie gehad het die episodes moet eindig nie. Van hulle wou ook by my weet wat gaan gebeur omdat hulle te nuuskierig was en nie kon wag nie. Ek belowe ek het niks gesê nie.

Wat gaan jy die meeste van jou karakter mis?

Ek het nog altyd probeer om nie te lank aan karakters vas te klou nie. Emma sal altyd ’n spesiale plekkie in my hart hê, veral haar bravade en hoe sy van ʼn jong meisie in ʼn sterk vrou verander het. Sy is vir my ’n mooi herinnering van ’n baie spesiale projek. Wat ek wel gaan mis, is die mense saam met wie ek die geleentheid gehad het om te werk, almal voor én agter die kamera. Hulle is die mense wat my gehelp het om Emma lewend te maak.

Armand Aucamp

Armand Aucamp in ‘Spoorloos 4: Die eiland’. (Foto: kykNET)

Wat was vir jou die hoogtepunt van die produksie?

Om in Richardsbaai te kon skiet. Dit verplaas ’n mens dadelik en fisiek na die storie se wêreld.

Watter reaksie het jy van kykers gekry?

Dit was so lekker om die antagonis te kon speel; ’n rol wat mense my nog nie sien vertolk het nie. Gisteraand, byvoorbeeld, is ek by ’n roetine-padblokkade afgetrek en die polisieman het my dadelik herken. Hy het my die hele tyd geterg as die bad guy en wou weet wat ek met Emma gemaak het.

Wat gaan jy die meeste van jou karakter mis?

Ek dink daar is seker ’n mate van genot om die baddie te kan speel en daarmee weg te kom…

Deon Coetzee

Izel Bezuidenhout en Deon Coetzee in ‘Spoorloos 4: Die eiland’. (Foto: kykNET)

Wat was vir jou die hoogtepunt van die produksie?

Elke departement wat toegewyd was en sodoende ons werk as akteurs maklik laat lyk het.

Watter reaksie het jy van kykers gekry?

Net positiewe reaksies, wat redelik ongehoord is.

Wat gaan jy die meeste van jou karakter mis?

Om nie te skeer en hare te sny nie en om te eet en drink wat ek wil.

Marisa Drummond

Marisa Drummond in ‘Spoorloos 4: Die eiland’. (Foto: kykNET)

Wat was vir jou die hoogtepunt van die produksie?

Net om weer te kon speel ná ʼn lang periode agter die skerms, maar as ek wel iets moet uitsonder, was dit om saam met Deon, Izel en Armand karakters te kon bespreek voor tonele. Ons het heeltyd vrae gevra en ondersoek ingestel en klein goedjies met die ander bespreek om opinie te toets. Ek het opregte waardering vir sulke deurdrenkte storievertelling; daai honger om die storie reg te vertel.

Watter reaksie het jy van kykers gekry?

Wie, wat, waar, hoekom? Kykers se uitkyk op hoe die storie sal ontwikkel en hoe hulle dit probeer uitpluis. Daardie dringende soeke na inligting en die reaksie as hulle niks vooraf kan kry nie. Perfekte resep vir ’n whodunnit!

Wat gaan jy die meeste van jou karakter mis?

Daar is altyd iets van ’n karakter wat jy vir die res van jou lewe saam met jou sal dra, of dit nou ’n herinnering op stel of dalk net spreektaal is. Met Cobie was dit haar nuuskierigheid en behoefte om tog net deel te hê aan alles en dan haar afjak wanneer sy die pas gewys word of inligting geweier word.

Hannes van Wyk

Hannes van Wyk as prof. Eddie Franken in ‘Spoorloos: Die eiland’. (Foto: kykNET)

Wat was vir jou die hoogtepunt van die produksie?

Die fantastiese mense op die stel, die wonderlike tekste en die mooi plek waar ons geskiet het.

Watter reaksie het jy van kykers gekry?

Regtig sulke positiewe terugvoer en dat mense heeltemal van Hannes vergeet het.

Wat gaan jy die meeste van jou karakter mis?

Nee wat, nou kyk ons weer na die volgende karakter en hoop en bid vir die beste.

Tiaan Slabbert

Tiaan Slabbert as Phillip Naudé in ‘Spoorloos: Die eiland’. (Foto: kykNET)

Wat was vir jou die hoogtepunt van die produksie?

Alles was vir my ’n hoogtepunt. Die hele span agter en voor die kameras was die kersie op die koek. Dit is my grootste rol nog op ’n reeks op kykNET en juis daaroor was álles ’n hoogtepunt.

Watter reaksie het jy van kykers gekry?

Die ondersteuning, terugvoer en reaksie van die kykers was ’n oorloop van komplimente. Ek het ook lekker gelag oor hoe almal elke week ’n nuwe verdagte gehad het.

Wat gaan jy die meeste van jou karakter mis?

Omdat ek dag en nag van Philip verskil, dink ek wel ek gaan die meeste sy smaak in kleredrag mis. Hy was verskriklik deftig.

Leché Joubert

Leché Joubert in ‘Spoorloos 4: Die eiland’. (Foto: kykNET)

Wat was vir jou die hoogtepunt van die produksie?

Die mense saam met wie ek gewerk het. Dit was vet pret en ’n ongelooflike leerskool. Ook om deel van ’n goeie, opwindende reeks te wees wat so baie mense week na week terug gebring het.

Watter reaksie het jy van kykers gekry?

Die kykers het sterk opinies oor Leandri gehad wat darem beteken het ek het my werk goed gedoen. Ek het ná elke episode boodskappe gekry en as ’n geheel het ek net komplimente oor die reeks gekry. Die mense was mal oor die geheime, aksie, storie en romanse.

Wat gaan jy die meeste van jou karakter mis?

Ek gaan definitief haar klerekas en styl mis.

Donovan Pietersen

Donovan Pietersen in ‘Spoorloos 4: Die eiland’. (Foto: kykNET)

Wat was vir jou die hoogtepunt van die produksie?

Toe ons in Richardsbaai gaan skiet het en hoe ons die eiland geskep het. Dit was ongelooflik om te sien hoe dit soos ’n eiland lyk en dat jy dit nie maklik sou kon uitken of weet dat dit wel in Suid-Afrika is nie.

Watter reaksie het jy van kykers gekry?

Die kykers was baie geskok en verbaas toe hulle uitvind dat my karakter wel lewe. Almal het gedink Darryl is dood, maar intussen het my karakter net verdwyn.

Wat gaan jy die meeste van jou karakter mis?

Sy vasberadenheid. Ek wens ek kan soos my karakter in seker fasette van my lewe wees. As Darryl besluit het om iets te doen, hou hy daarby totdat hy sy doel bereik het.

Christo Davids

Christo Davids, een van die regisseurs van ‘Spoorloos 4: Die eiland’. (Foto: kykNET)

Wat was vir jou die hoogtepunt van die produksie?

Beslis Ilse van Hemert se heerlike storie waarin ek die geleentheid kon kry om dinge te doen en skiet waaraan ek nooit gedink het nie.

Watter reaksie het jy van kykers gekry?

’n Vriendin van my, Nicole Swart – sy is ’n Spoorloos-fanatikus – het gesê dis die eerste keer wat sy glad nie kon uitwerk wat volgende gebeur nie. Dan het ek ook ’n hele paar finansiële aanbiedinge op straat gekry van mense wat wou weet hoe dit eindig.

Is daar nog seisoene van Spoorloos op pad?

Ons sal maar moet wag en sien.

Spoorloos: Die eiland se laaste episode word Dinsdag 6 September 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Die reeks is ook op Catch Up beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Moedeloos ·

Ek was mal oor hierdie reeks. Kon nie die laaste episode gisteraand kyk nie agv ESKOM se loadshedding maar gaan dit beslis op catch up soek

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.