Tim Theron woeker in aksieflieks: ‘Ek kan nie stil sit’

Tim Theron. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Passiwiteit is nie ʼn eienskap waaroor die akteur en vervaardiger Tim Theron beskik nie.

Hy is vandeesmaand in nie net een nie, maar twee splinternuwe projekte te sien wat op Deon Meyer-boeke en -karakters geskoei is, naamlik Plan B en Heart of the Hunter.

Boonop sit hy as deel van sy produksiemaatskappy, Scene 23, in beide projekte se vervaardigerstoele – ʼn taak wat hy as “angswekkend maar uiters belonend” bestempel.

“Ek dink die vervaardigingsaspek is maar gebore uit ʼn bietjie van ʼn entrepreneursgees. Ek hou nie daarvan om te wag vir geleenthede om op te duik nie, en ongelukkig behels akteurswese dit baie om te wag,” vertel hy aan Maroela Media.

“Toe ek in die bedryf my voete begin vind het, het ek gevoel hier’s ʼn geleentheid om my akteursdroom uit te leef, maar dit ook groter te maak en die stories wat ek graag wil vertel, daar buite te kry.”

Die saadjie is behoorlik eers geplant nadat sy paaie met sakeman Cobus van den Berg gekruis het en hul ‘n “droomspan” saam kon stel.

Só is Scene 23 gebore en vandag spog hul met ʼn kreatiewe span insluitende Tim, Cobus, aktrise en aanbieder Tracey Lange en kinematograaf Jorrie van der Walt, asook skrywer Deon Meyer as uitvoerende vervaardiger.

Die rolprent Klein Karoo was dié produksiehuis se eerste, uiters suksesvolle projek, waarna rolprente soos Griekwastad en reekse soos Deon Meyer se Trackers gevolg het.

“Ek het van jongs af geleer om myself te omring met mense wat meer kennis as ek het en saam is ons ʼn goeie, aanvullende span.”

Vir Tim is dit uiters vervullend om van begin tot einde deel van ʼn rolprent of reeks te wees, van konseptualisering tot verfilming, met akteurswerk wat die kersie op die koek is.

Om ʼn rol in elkeen van Scene 23 se projekte los te slaan, is egter nie vir hom as akteur ʼn gegewe nie.

“Kyk, die imposter syndrome kan hoog loop met tye, want mens wonder soms of ander dink jy die rol gekry het omdat jy een van die vervaardigers is. Ek vertrou my vennote ten volle en moet deur ʼn oudisieproses soos enige ander akteur gaan, en glo my, ek het al ʼn paar rolle dan nie gekry nie.”

Afrikaanse misdaadkomedie enig in sy soort

Tim bieg hy wou bitter graag die rol van Ivan Malan in Plan B vertolk.

Dié nuwe kykNET-reeks vertel in vyf aksiebelaaide episodes die verhaal van Ivan, ʼn man met ʼn militêre agtergrond, en sy vennoot Paul Schmidt (vertolk deur Arnold Vosloo), wat ʼn bendebaas beroof en die Vlammemeisie steel – ʼn skildery deur die meesterskilder Vermeer wat sowat €30 miljoen werd is.

Amalia Uys en Armand Aucamp is ook daarin te sien, met die draaiboek wat deur die Hertzogprys-wenner Tertius Kapp geskryf is. Jozua Malherbe het die regie behartig.

Tim by die bekendstelling van ‘Plan B’ by die KKNK. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Volgens Tim was nostalgiese misdaadreekse uit die 1970’s en 1980’s soos Magnum PI, Starsky and Hutch en Hawaii Five-O, en rolprente soos Ocean’s Eleven groot inspirasies vir Plan B.

“Jozua het van die begin af gepraat van ‘sonskyn en sjampanje’ – die idee dat ons reeks lig en lewendig moet wees en dat die program nie homself té ernstig moet opvat nie,” verduidelik hy.

“Baie reekse is deesdae verskriklik swaar of donker – en daar’s natuurlik ruimte daarvoor. Met Plan B wou ons vir gehore spanning, ʼn bietjie humor en baie pret gee. Ja, daar’s ʼn vloekwoordjie of twee en hier en daar soen mense, maar daar’s nie bloed en guts nie.”

Die draaiboek is geskoei op die karakters van een van Meyer se eerste boeke, maar is gemoderniseer om in 2024 af te speel.

Tim skerts dat Arnold Vosloo, wat in die verlede saam met die Scene 23-span vir Griekwastad gewerk het, in “kleurvolle taal” gevra het om nie wéér ʼn skurk te vertolk nie. Die karakter Schmidt is volgens Tim beslis kleurvoller en meer eklekties as die algemene Arnold Vosloo-karakter.

“Ons het almal danksy Griekwastad groot vriende geword en het die heeltyd met hom kontak gehou oor wat ons volgende wil doen. Hy is so nederig, uiters professioneel en baie betrokke by die proses. Almal verbeter hulle game as Arnold op ʼn stel is.”

Heart of the hunter

Volgens Tim is dit “blote toeval” dat Plan B én Heart of the hunter, ʼn plaaslike Netflix-fliek, kort op mekaar se hakke bekendgestel word.

Dit is ʼn verwerking van Meyer se boek Proteus en vertel die verhaal van Zuko Khumalo (vertolk deur Bonko Khoza) wat deur die Presidensiële Intelligensie Agentskap gejaag word weens sy beweerde kennis oor ʼn presidentskandidaat.

Bekendes soos Deon Coetzee, Milan Murray en Connie Ferguson van Isidingo-faam is ook daarin te sien, met Mandla Dube as regisseur.

Benewens die groot blootstelling wat Netflix bied, was die samewerkingsgeleenthede tussen rolprentmakers uit verskillende plaaslike oorde vir Tim ʼn hoogtepunt van Heart of the Hunter.

Tim vertolk die rol van Tiger de Klerk in Netflix se ‘Heart of the Hunter’. (Foto: Instagram/@netflixsa)

“Ons is maar geneig om elkeen in sy of haar silo’s te werk in Suid-Afrika, dan hou mens onbewustelik aan daarmee om grense te trek. Nou kon ons saam met mense werk met wie ek andersins nie ʼn geleentheid sou kry nie.”

Natuurlik laat Netflix-begrotings ook vir indrukwekkende stelle toe.

“Ek wou nog altyd ʼn soentoneel in die reën geskiet het, maar reënmasjiene is verskriklik duur. In Heart of the hunter moes ek en Bonko drie dae lank ʼn vegtoneel in die reën verfilm, met Jorrie wat al tergend onder sy sambreeltjie gestaan het en gevra het of ek nou uiteindelik tevrede was,” terg Tim.

Gesinsman

Natuurlik is een van grootste rolle dié van man en pa vir sy dosentvrou, Juanli, en hul twee spruite, Migael en Sophia.

“Ons probeer altyd as gesin saam weggaan nadat ek ʼn groot projek afgehandel het, net om weer gehaltetyd saam te spandeer en behoorlik by mekaar in te loer. As ons nog nie in die verfilmingsfase is nie, is daar meer normaliteit vir ons roetine, wat ʼn voorreg is.”

Klein Karoo 2 was ook die eerste rolprent waarin Migael en Sophia vir pa kon sien, maar daar moes mooi verduidelik word hoekom hy ʼn “ʼn ander tannie gaan soen” op die skerm.

“Migael hou ook nie daarvan as ek bad guys speel nie, want hy glo op dié ouderdom nog baie sterk dat ek ʼn held is. Toe ek in Projek Dina ʼn polisiekaptein vertolk het, het die hele wêreld wel daarvan gehoor,” voeg hy laggend by.

Wanneer dit by sosiale media kom, is komedie al aanslag wat die akteur ken en volg.

Video’s waarin hy en Juanli die een of ander TikTok-tendens vir paartjies uittoets, het volgelinge se lagspiere al behoorlik gekielie.

“Ek kan nie sosiale media op enige ander manier doen nie. Ek’s nie die tipe mens wat ʼn mooi foto van my koffie sal neem nie en dit plaas nie. Ek hou van grappies maak en om mense te laat lag, maar met van die voorstelle wat mense al aangestuur het, het ek gewonder of hulle ons in die hospitaal wou laat beland,” skerts hy.

Hoewel die klein seuntjie in hom dit geniet het om nou in twee opeenvolgende projekte met gewere rond te hardloop, sê Tim dat hy graag nog ʼn “uit en uit”-komedie en dramaverhaal sal wil aanpak.

“Ek sal ook nog graag ʼn epiese rolprent soos Baz Lurhmann se Australia in Suid-Afrika wil doen. Iets wat regtig ʼn stukkie van elkeen se Suid-Afrikaanse geskiedenis op ʼn mooi en grootskaalse manier uitbeeld.”

  • Heart of the hunter is vanaf 29 Maart op Netflix te sien, terwyl Plan B op 26 Maart op kykNET begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.