Twee nuwe Netflix-programme deur Meghan, Harry op pad

Meghan Markle, die hertogin van Sussex. (Foto: Suxanne Cordeiro/AFP)

Prins Harry en Meghan Markle sal eersdaags aan twee nuwe programme vir die stromingsreus Netflix begin werk.

Dié aankondiging is verlede week op die egpaar se amptelike webblad gemaak en sal onder die vaandel van hulle produksiemaatskappy, Archewell Productions, onderskeidelik ʼn kookprogram en dokumentêre program oor die perdesport polo insluit.

Een reeks, saamgestel deur Meghan, sal “die vreugdes van kook en tuinmaak, onthaal en vriendskap vier”, terwyl die ander een kykers “ongekende toegang tot die wêreld van professionele polo bied”, lui ’n verklaring op die webblad.

Albei programme is in verskeie stadiums van produksie, en die titels en uitreikingsdatums sal in die komende maande aangekondig word.

Meghan, die hertogin van Sussex, het klaarblyklik nog altyd ʼn liefde vir kookkuns gehad, wat destyds op haar nou geslote blog, The Tig, gedokumenteer was. Een van haar eerste projekte as ʼn werkende koninklike was boonop ʼn resepteboek ten bate van die Hubb Community Kitchen in Brittanje.

Die prins is op sy beurt g’n vreemdeling in die polowêreld nie.

Nes baie koninklikes neem hy sedert sy tienerjare aan dié sport deel, veral ten bate van sy liefdadigheidsorganisasie Sentebale, wat hy in 2006 saam met prins Seeiso van Lesotho gestig het om kinders en jongmense te help wat deur armoede en HIV en vigs in Suider-Afrika geraak word.

Netfix se kameraspanne is na bewering verlede week by so ʼn polowedstryd in Miami, Florida, in die VSA raakgesien, waar hulle die hertog vir sy opkomende Netflix-reeks afgeneem het.

Die omslag van Meghan Markle se boek ‘The Bench’.

Maroela Media het vroeër berig dat Archewell ʼn woordspeling op die paartjie se oudste kind, prins Archie, se naam is en ook die handelsmerk is waaronder hulle die afgelope drie jaar verskeie winsgewende ooreenkomste met media-instansies, soos Netflix, gesluit het.

Een só ʼn ooreenkoms was die hertogin se opspraakwekkende Spotify-podsendingreeks Archetypes – wat slegs uit een seisoen van agt episodes bestaan het.

Daar is destyds beweer dat die stromingsreus die voormalige koninklikes $20 miljoen (ongeveer R340 miljoen) vir dié inhoud, wat twee jaar geneem het om die lig te sien, betaal het.

Archetypes het egter nou ʼn nuwe tuiste gevind by die podsendingplatform Lemonada nadat Spotify in 2023 besluit het om nie die hertogin se reeks vir ʼn tweede seisoen te hernu nie, het Maroela Media vroeër berig.

Die hertogin het in 2021 selfs ʼn kinderboek getitled The Bench neergepen. Sprake van ʼn animasiereeks genaamd Pearl, wat deur die hertogin vir Netflix ontwikkel is, het in 2022 deur die mat geval.

Die paartjie se opspraakwekkende dokumentêre reeks van 2022, Harry & Meghan, was egter ʼn groot Netflix-treffer.

Bykomende bronne: People, Deadline, The Daily Mail.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.