SA’ners boos vir Meghan Markle

Meghan Markle, die hertogin van Sussex, tydens ‘n besoek aan die Universiteit van Johannesburg. (Foto: Michele Spatari/AFP)

Meghan Markle, die hertogin van Sussex, is dalk no. 1 op die podsendingsplatform Spotify, maar klaarblyklik nie in baie Suid-Afrikaanse Twitter-gebruikers se harte nie.

Die hutsmerk #VoetsekMeghan het die afgelope naweek voorgeloop nadat die hertogin Suid-Afrikaners woedend gelaat het oor kommentaar wat sy oor Suid-Afrika in die première-episode van haar langverwagte nuwe podsendingreeks, Archetypes, gemaak het.

Markle is aanlyn daarvan beskuldig dat sy bederf en eiegeregtig klink en Suid-Afrika en sy mense verkleineer, ondanks die feit dat sy en haar man, prins Harry, volgens hul toesprake en opmerkings in die media hul tyd in dié land geniet het.

Maroela Media het vroeër berig dat Markle verlede Dinsdag in dié podsending-episode met haar eerste gas en vriendin, die tennisster Serena Williams, gesels het oor haar en haar man se toer na Suid-Afrika in 2019.

Die eerste episode van Markle se podsending is verlede week op Spotify bekendgestel. (Foto: YouTube/Spotify)

Markle het vertel oor die angswekkende oomblik toe die egpaar verneem het dat hul seun se babakamer aan die brand geslaan het terwyl hulle ʼn besoek aan ʼn informele nedersetting in Nyanga, Kaapstad, afgelê het. Klein Archie was skaars vier maande oud toe hy sy ouers na Suid-Afrika vergesel het en moes daarom saam met sy oppasser bly tydens dié spesifieke geleentheid.

Die Sussex-gesin het luidens mediaberigte by die amptelike woning van die Britse Hoë Kommissaris gewoon gedurende hul tyd in Kaapstad, maar die hertogin het egter na dié kolossale herehuis as ʼn “wooneenheid” verwys.

“Die oomblik toe ons geland het, moes ons hom by hierdie wooneenheid aflaai waarin hulle ons laat bly het. Ons moes dadelik na Nyanga gaan en daar was hierdie oomblik waar ek op ʼn boomstomp staan ​​en hierdie toespraak vir vroue en meisies lewer. Kort daarna klim ons in die motor en hulle sê vir ons daar het ʼn brand in Archie se babakamer by die wooneenheid uitgebreek,” het Markle aan Williams in die podsending vertel.

Sy het verder gesê om na Suid-Afrika te kom was “die dapperste ding wat sy gedoen het”.

Duisende twiets het onder die hutsmerk #VoetsekMeghan gevolg waarin Suid-Afrikaners die hertogin se opmerkings skerp gekritiseer het.

Een gebruiker het geskryf dat Markle “nie weer ʼn voet in Suid-Afrika moet sit nie”, terwyl ʼn ander skertsend gesê het dat hulle dadelik Suid-Afrika toe sal trek as ʼn herehuis hier as ʼn “wooneenheid” beskou word.

Meghan en Harry by die amptelike woning van die Britse Hoë Kommissaris waar hulle gewoon het gedurende hul tyd in Kaapstad. (Foto: Twitter)

Ander sosialemediagebruikers het die hertogin se opmerkings verdedig en benadruk dat enige ouer oor hul kind bekommerd sou wees as hulle in ʼn soortgelyke situasie was.

Volgens die Daily Mail het koninklike bronne verder ook aan dié publikasie onthul dat hulle “geen herinnering” van ʼn brand het wat tydens die Britse koninklikes se toer plaasgevind het nie. Die bronne het egter beweer dat daar rook uit ʼn verwarmer gekom het, maar dat dit “ontkoppel en hanteer is”.

Ondanks dié opspraakwekkende eerste episode het Markle die bekende podsendingaanbieder Joe Rogan onttroon as die toppresteerder op Spotify. Daar word beweer dat die stromingsreus die voormalige koninklikes $20 miljoen (ongeveer R340 miljoen) vir dié inhoud, wat twee jaar geneem het om die lig te sien, betaal het.

Bronne: Daily Mail, Twitter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Danie ·

Die smartvraat en deugniet “prinses” loop nou orals haar rieme styf. Dalk begin werk sodat haar ledige tyd nuttig gebruik kan word.

Annelize ·

Dis nou hoe dit lyk as krummeltjies ‘n korsie word, en haar dan verbeel sy is ‘n brood.

Sy is besig om wereldwyd bitter vinnig uit te bak, haar ware kleure slaan onvermydelik, en baie sleg deur. Doen haarself heeltyd voor as die plat op die aarde, girl next door, tipe, wat ‘n grap! Selfserving, entitled en hoogmoedig is beskrywings wat meer raak is.

KatjieDeKat ·

Uuugh..excuse me while i go vomit. Bly gerus weg Megan. NIEMAND hier sal jou mis nie.

Wielspore ·

Ek en my vrou verwys na sulke mense as Mev (Mnr) Terme en voorwaardes, dit gaan alles oor haar (hom) en die besoek of kuier het geen betekenis vir die persoon.

marius ·

Haar skoonfamilie se voorouers was die grootste koloniale rassiste wat die wereld nog gesien het . Segregrasie , plunder en slawe handel was hul forte . Hulle het die hele wereld geboelie en doen dit steeds . Patetiese spul modder eiland bewoners . Dis die waarheid .

Adrie ·

Voorwaar die enigste girl wat ‘n Prins gesoen het wat in ‘n padda verander het……. Weg is die prinsdom , die titel, die “sekuriteit”, die personeel wat alles agter haar moet optel en doen….. Dan wonder ek wat sy ons gewonde mense se blyplekke sal noem? “n Pondok?

Andrew ·

Kom ons kyk, baie keer is die hype in die begin groot maar inhoud swak.

Kattebol ·

Arme Harry, een of ander tyd gaan hy wakkerskrik en besef hy kan nie sy ma vervang nie.

Snowball ·

Die verhaal van ‘n Parvenu – van die trailer tot binne in die paleis, met die lamsakkige royal wat alles soos ‘n buikspreekpop loop en beaam.

Wit Leeu ·

Ag siestog, wie gee nou eintlik om oor wat sy kwytraak ????

Republikein in die Wes Kaap ·

Arme Harry, sy lewe is seker deesdae ‘n nagmerrie.

MakersMark ·

‘n karavaan is ‘n wooneenheid. Lyk my dis al verwysings raamwerk wat die hertogin ken.

Benita ·

Hierdie gogga is nie meer ‘n hertogin nie. Sy is niks. Ou Antjie wat Ann geword het en konfyt wat jam geword het. Idioot.

Elene ·

Dalk sluit sy net aan by die meerderheid van die minderheid wat ook vir SA sleg maak. Lag of huil? Ek weet nie!

Niklaas ·

Hierdie pop het ‘n twyfelagtige verlede en wil nou berge versit nadat sy die spreekwoordelike pot goud onder die reenboog gevind het. En sagte , liewe ou Harry stem saam met alles. Hul is daagliks in die nuus , soos daardie Kardashians spul, maar ons moes hoor dat die paparazzi in Engeland hul siele tog sooo versondig het. En nou ? Nou geniet hul weer die aandag. Ons kan net koppe skud.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.