Verliefde TV-boere hou vakansie

Boer Niel en Cheréze hou saam vakansie. (Foto: kykNET)

Boer soek ʼn vrou-kykers bespiegel na afloop van Donderdagaand se episode dat trouklokkies binnekort vir een van vanjaar se gunstelingboere gaan lui.

Die boere en hul gekose dames het vakansie gehou in die Oos-Kaap, waar hulle by Camp Figtree Lodge in die Addo-olifantpark tuisgegaan het. Dit was ook die eerste keer wat die boere mekaar ontmoet het weens die Covid-19-inperkingsmaatreëls.

Boer Niel van Grabouw en sy Cheréze van Hopefield in die Wes-Kaap was duidelik smoorverlief en het ook geen doekies daaroor omgedraai dat hulle vir mekaar omgee nie.

“Cheréze het ʼn rustigheid omtrent haar. Sy bly konstant dieselfde mens. Sy verander nie ʼn greintjie die kant of daai kant toe nie,” het Niel oor Cheréze gesê.

“Sy sê hoe sy voel, sy sê goed wat haar pla, sy vra vir jou ʼn ding reguit en kom nie met ompaaie nie. Dit is vir my ongelooflik belangrik. Dit is vir my so lekker om by iemand te wees wat nie my energie tap nie. Sy is die kalmte wat ek nodig het.”

Cheréze het ook laat hoor dat haar kop vol langtermynplanne is. “Ek dink nie dit gaan baie lank vat voordat dit ernstig raak tussen ons nie, want ons albei weet waarheen hierdie op pad kan wees. God se tydsberekening was perfek.”

Boer Déan en Marné. (Foto: kykNET)

“Ons is vriende met gevaarlike voordele,” het Niel gespot en vir Cheréze gevra of sy saam met hom die Spaanse Camino sal stap in 2022 terwyl hulle ʼn piekniekmandjie en ʼn paar soene gedeel het.

Kykers het op sosiale media gegons oor dié paartjie. “Mal oor boer Niel en sy pragtige Cheréze. Hulle vul mekaar mooi aan. Ons wag vir jul trouklokkies,” skryf Marchanti Joubert op Facebook.

Sandra Pyper sê: “Niel het nou sy groot liefde in dié pragtige Cheréze gevind. Wens die trouklokkies gaan nie té lank neem om te lui nie. Hy het dit só mooi gestel dat sy ʼn rustigheid oor hom bring wat hy nodig het.”

Boer Kobus van Randfontein in Gauteng het op sy eie vakansie gehou nadat hy vroeër vir Maxie en Lynette die trekpas gegee het. Hy het vertel dat ʼn vrou wat hom op die program gesien het hom gekontak het en dat hy beplan om haar na die reünie, wat in die volgende episode te sien is, te bring.

“Die persoon se woorde aan my was dat as ek haar ʼn geleentheid sou gee om my lewe te verryk en sy kom dalk eendag in die hemel, dat my oorlede vrou vir haar sal dankie sê vir dit wat sy vir my gedoen het vir die res van my tyd op die aarde. Daardie woorde het aan my gevat,” het Kobus vertel.

Die singende boer Richann van Vredefort in die Vrystaat en sy René het ook die skoot hoog deur. Dié twee het saam op ʼn kanoevaart gegaan en hope pret gehad.

Die deelnemers het ‘n trop olifante van naderby leer ken. (Foto: kykNET)

“Ons was op die plaas al baie gemaklik met mekaar en ons lag regtig lekker saam. Ek dink tussen my en René is die aanknopingspunt definitief op ʼn intellektuele vlak. Ek kan regtig lekker met haar gesels. Sy is baie slim en sy het al baie goed gedoen en baie plekke gesien. Sy is vir my ʼn ongelooflike interessante mens en ons het al saam gesit en musiek gemaak. En hoe lekker is dit nie?” het Richann gesê.

Die blondekop Marné en boer Déan, die makadamianeutboer van Nelspruit, was ook danig met mekaar en het verklap dat sy oor die Desembervakansie saam met sy familie op vakansie sou gaan.

“Op die stadium is ons nie in ʼn ernstige verhouding nie. Dis nie dat ek volgende jaar Nelspruit toe gaan nie. Ons albei gee dit kans om te kyk waarheen dit gaan, maar daar is ʼn tentatiewe plan van hoe ons sal wil hê dinge moet uitwerk.”

Die rooikopboer Albert en Marlia het besluit om net vriende te wees. Marlia het erken sy sou dit graag wou geweet het voordat sy op die vakansie vertrek het.

“As ek voor die tyd geweet het hierdie gaan bly by vriendskap, dan sou my uitkyk ʼn bietjie anders gewees het en ek sou beter voorberei gewees het.”

Albert het ook erken dat hy alleen reünie toe gaan. “Op die oomblik voel ek nie meer as vriendskap na haar kant toe nie,” het hy gesê.

Boer soek ʼn vrou se laaste episode word Donderdag om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Niklaas ·

Mooi paartjies. Jammer die ouer man Kobus is alleen, daar maar mens het begrip vir sy besluite. Die giggelknaap Albert moet dalks eers bietjie ouer word voor hy hom weer begewe in so iets. Die reeks is genotvolle vermaak!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.