Video: Liefde wen op ‘Wie word ʼn miljoenêr’

Drie bekende paartjies het vandeesweek by Rian van Heerden op ‘Wie word ‘n miljoenêr’ aangesluit. (Foto: Verskaf)

Die musikantpaartjie Bouwer Bosch en Lucinda Neethling het Woensdagaand op ʼn spesiale episode van kykNET se Wie word ʼn miljoenêr opnuut bewys dat liefde wen.

Hulle het hul algemene kennis teen die akteurspare Altus Theart en Zetske van Pletzen en Mila Guy en Bennie Fourie op die proef gestel om te kyk wie die meeste geld vir liefdadigheid kan insamel.

Die paartjies moes elk 15 meervoudigekeusevrae beantwoord en Bouwer en Lucinda het as wenners uit die stryd getree. Hulle het R25 000 gewen vir Door of Hope, ‘n organisasie wat hawelose babas inneem.

Dié organisasie bied ʼn veilige tydelike tuiste en fasiliteer die aannemingsproses vir babas wat gered word.

“Door of Hope lê ons baie na aan die hart. Daar is soveel mense wat ongelukkig nie na hul kinders kan omsien nie, dikwels nie uit eie keuse nie, en ek dink nie ons besef dit altyd nie,” het Lucinda, hoofsanger van die Afrikaanse groep, Die Melktert Kommissie, gesê.

Bouwer Bosch en sy meisie, Lucinda Neethling, het as wenners uit die stryd getree. (Foto: Verskaf)

Volgens Bouwer het die paartjie nie eintlik vir die kompetisie voorberei nie en ook glad nie verwag om te wen nie.

“As kunstenaars is ons tuis op die verhoog, maar hierdie is ʼn ander dinamika. Dit is baie senutergend om hier voor te sit, want dit gaan nie oor talent nie, maar of jy iets tussen jou ore het,” het hy tergend gesê.

“As sanger is jy voorbereid, jy ken jou lirieke en akkoorde voor die tyd, maar hier kan jy nie juis voorberei nie,” het Lucinda bygevoeg.

Die ander twee paartjies het elk R10 000 vir hul onderskeie liefdadigheidsorganisasies ingesamel.

Bennie en Mila, wat in Oktober verlede jaar verloof geraak het, gaan hul R10 000 aan AI Hub – ʼn organisasie wat rolstoelle aan minderbevoorregte mense voorsien – skenk, terwyl Altus en Zetske se prysgeld aan die Tshwane Place of Safety Association gaan.

Maroela Media het agter die skerms by dié spesiale episode gaan inloer.

Kyk die video hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Perdeby ·

Shame wonder hoe lank gaan die liefde hou, net soos sy vorige huwelik, hulle kon nie uitgepraat raak hoe hulle mekaar so ” soulmates” was nie, en toe val die bootjie met die “soulmates” om.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.