‘Voetspore’ gaan Suid-Amerika ontdek

(Foto: Voetspore Facebookblad)

Die bekende reisdokumentêr wat duisende avontuurlustige aanhangers sedert 2000 op die kassie vermaak, pak binnekort ʼn besondere avontuur aan.

“Ons voertuie is reeds per skip op pad Suid-Amerika toe; teen die einde van die week sal ons met die nuwe ekspedisie begin,” vertel Johan Badenhorst opgewonde in ʼn onderhoud met Maroela Media.

Badenhorst en die res van die Voetspore‑span het Dinsdag via Luanda, São Paulo en Montevideo in Uruguay na die beginpunt van hulle nuwe reistog vertrek.

“Suid-Amerika is ʼn groot vasteland en ons beoog om al 13 lande aan te pak.”

Dit was egter nie ʼn maklike taak om dié toer te beplan nie, sê Badenhorst. Daar is ʼn hele paar logistieke besonderhede waaraan ʼn mens nie noodwendig dink nie, en om die voertuie uiteindelik op die skip na Suid-Amerika te kry was volgens Badenhorst ʼn heksetoer.

Badenhorst vertel dat hul roetes jare se beplanning neem. “Ek hou maar my oë en ore oop so ver ek aangaan. Ek beplan nou al aan toere wat dalk oor so vier of vyf jaar sal realiseer. Jy kan baie reisgidse lees en die internet dophou, maar die belangrikste is om met ander mense te praat ten einde leiding te kry oor waarheen ʼn mens kan gaan en wat jy alles kan doen.

“Ek gesels oor en weer met mense. Ons probeer om in elke land die grootste aantrekkingskragte te besoek, maar ons besoek ook plekke wat van die gebaande weë afwyk, plekke wat jy nie altyd in ʼn toerisme‑almanak of reisgids sien nie.”

Vanjaar sal die span in Uruguay, Paraguay, Bolivia, Chili en Argentinië toer. Hulle sal egter oor drie maande na Suid-Afrika terugkeer en volgende jaar voortgaan met die reis deur Suid-Amerika.

“Ons gaan Suid-Amerika twee keer besoek, eers die suidelike gedeeltes van die kontinent en dan die res. Dit is ʼn groot vasteland; daar is te veel om te sien, jy kan dit nie in net een reistog verken nie, selfs nie eers in twee nie, maar ons gaan probeer.”

(Foto: Verskaf/ Adam Heyns, Johan Badenhorst, Stefan Sonnekus, Gideon Swart, Norbert Coetzee en Nina Badenhorst op pad na Suid-Amerika)

Die span se voertuie word daar agtergelaat sodat hulle volgende jaar kan terugkeer om die res van die vasteland te verken.

Badenhorst vertel dat hulle onder andere binnekort Die Iguazu Valle gaan besoek. “Dit is die mooiste waterval in die wêreld, dit is iets wat jy net móét sien; soos die Eiffel-toring in Parys, kan jy nie daar naby verby ry en nie die ikoniese skoonheid gaan besigtig nie.

“Dit is onmoontlik om by alles uit te kom, maar met ons vierwiel‑aangedrewe voertuie behoort ons terreine aan te pak wat vir die gewone toeris nie noodwendig moontlik is nie.”

Badenhorst en sy span laat genoeg ruimte vir onvoorsiene avonture en bestemmings op hul reistog.

“Ons het ʼn breë raamwerk waarbinne ons die roetes beplan, en ons weet naastenby hoe die reisprogram gaan loop. Ons sal met ons eerste reistog ongeveer 13 weke in Suid-Amerika spandeer, en vir elke week is daar nuwe bestemmings beplan, maar dit is lekker om verras te word ook wanneer jy by ʼn onbekende plek aankom, daarom vat ons vier tot vyf dae waar ons as ontdekkingsreisigers onverwagse roetes sal aandurf.

“Daar is natuurlik hoogtepunte in elke land waarby ons sal uitkom, maar dan is daar ook plekke en gebeurtenisse wat regtig ons aandag trek” sê Badenhorst.

“Ons hoop om op ons reis die terrein te besoek waar die vliegtuig met die klomp rugbyspelers (Uruguayan Air Force Flight 571) presies 50 jaar gelede in die Andes‑bergreeks neergestort het.” Hy vertel dat hulle ook die geleentheid gaan hê om met twee van die oorlewendes van Miracle Flight 571 te gesels. Die bekende oorlewingsdrama Alive (1993) is op hierdie traumatiese gebeurtenis gebaseer.

(Foto: Verskaf/ Voetspore span se bagasie op die lughawe)

Nie eers die vele uitdagings kon die Voetspore‑span tuis hou nie. Daar is nie meer direkte vlugte na Suid-Amerika toe nie en om die vierwiel‑aangedrewe voertuie in Suid-Amerika te kry is volgens Badenhorst ʼn opdraande pad. Die span se probleme met die voertuie was vererger na die rampspoedige vloede in KwaZulu-Natal. Die Toyota‑fabriek in Durban se produksie het tot stilstand gekom, en gevolglik was daar die afgelope ruk baie minder vragskepe wat by die hawe aangedoen het om motors te laai. Toyota se fabriek sal eers in Augustus weer met produksie begin.

“Toe ons egter uiteindelik ’n skip kry om ons voertuie te laai, tref die staking by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) ons ook nog. Die gevolg was dat ons nie iemand kon kry wat in daardie tyd magtiging kon gee om die voertuie te laai nie. Gelukkig het ons betyds by die regte persoon uitgekom.”

Vanjaar se span bly min of meer dieselfde as met hul vorige avonture, daar is wel een nuweling dié jaar en Streicher Badenhorst – wat sedert negejarige ouderdom sy pa op die opwindende reise vergesel – gaan dié een weens werksverpligtinge moet misloop. “Hy is nie dik van die lag daaroor nie,” skerts Badenhorst.

So lyk die span:

Johan Badenhorst (vervaardiger, regisseur en spanleier)

Nina Badenhorst (kok en gids)

Norbert Coetzee (logistieke staatmaker)

Gideon Swart (fotograaf)

Stefan Sonnekus (videograaf en redigeerder)

Adam Heyns (nuweling)

(Foto: Skermskoot, Voetspore TV)

Badenhorst vertel verder dat hulle intussen hul eie stromingskanaal begin het waar al hulle vorige seisoene ook te sien is.

“Vir net ʼn bietjie meer as R60 ʼn maand kan aanhangers al ons vorige avonture en die wat nog kom op Voetspore TV kyk.

“Ons glo dat ons aanhangers baie het om na uit te sien in Voetspore Suid-Amerika. Die nuwe avonture behoort teen April volgende jaar op SABC2 en op Voetspore se eie stromingskanaal uitgesaai te word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

SjN ·

Geniet elke oomblik, gaan verseker n belewenis wees, dit is seker baie lekker as jou stokperdjie ook jou werk is?

Harley Davidson ·

Beste program op TV, Youtube vandag in Suid Afrika kyk al van ” op die voetspore van die grotes” ook al die boeke gelees wat Johan geskryf het oor die avonture.

Nommer 7 ·

Harley, dan sal jy “Itchy Boots” se Seisoen 2 en 6 geniet op Youtube. Noraly Schoenmaker op ‘n motorfiets deur Suid Amerika. Merkwaardige kykstof.

Harley Davidson ·

Tweede beste program ,ek het die hele sa,namibia,Zimbabwe toer gevolg en nou weer die Alaska een.

Niklaas ·

Party ouens is so gelukkig. Ek sou dit nou geniet het om so al verkennend en reisende my inkomste te verdien. Terwyl my lewe soos ‘n ontdekkings toer is.

Witbaard ·

Dink nie dis regtig maanskyn en rose nie. Die stukkies wat ons te sien kry is maar die hoogtepunte. Dink dit verg baie om so n program te maak.

Gert K ·

Sterkte Johan en span. Dit is sekerlik nie altyd maklik wat julle doen nie, maar ek geniet julle programme ongelooflik baie!

JohanCzu ·

Ons woon nou amper 4 jaar in Paraguay en was al omtrent die hele land vol. Maak gerus ‘n draai by ons.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.