Dorp wil hê inwoners moet mekaar begin groet

Argieffoto (Foto: Brett Wharton / Unsplash)

Luleå, ʼn dorp in Swede en die tuiste van sowat 80 000 inwoners, het ʼn veldtog van stapel gestuur wat inwoners, glo hoofsaaklik introverte, aanmoedig om met mekaar te begin praat.

In ʼn video op sosiale media verhelder inwoners van Luleå, sowat 150 km suid van die Arktiese Sirkel, se gesigte wanneer hulle ʼn verbyganger sien wat hulle groet.

“Om hallo te sê vir jou bure is iets klein, maar navorsing wys dit kan ʼn bydrae lewer tot vriendskapsbande en het ʼn positiewe impak op gesondheid, veiligheid en welstand,” lui die boodskap by die video.

Asa Koski, ʼn sosiale strateeg by die munisipaliteit wat die veldtog bestuur, het aan AFP gesê die boodskap word sedert 31 Oktober op busse en geboue in die stad gedeel. Die veldtog sal vier weke lank voortduur.

“Swede kan nogal in hulself gekeer wees. Ons moet meer met mekaar verbintenisse maak en hierdie is ʼn manier om verhoudinge te bevorder.”

Sy sê dit is anders as byvoorbeld in Spanje, waar mense gereeld buite is, met mekaar praat, op bankies sit en ʼn kollektiewe buitelewe lei.

Plaaslike skole beplan ook om die video te vertoon en Koski sê peilings het getoon dat mense, veral diegene tussen 16 en 29 jaar oud, al hoe meer eensaam voel.

Koski hoop die veldtog sal sosiale bande verstewig en mense aanmoedig om mekaar te groet.

In ʼn streek waar winter slegs drie ure sonskyn per dag beteken en die gemiddelde temperatuur in Desember gewoonlik -10 °C is, is daar al minder geleenthede vir inwoners om daagliks in mekaar vas te loop.

Koski meen die moderne stedelike leefstyl dra by tot die probleem. “Hoe groter die stad, hoe meer is mense alleen,” het sy bygevoeg. “Waar mense in kleiner dorpe woon, is dit makliker om dié eenvoudige goed vir mekaar te sê.”

Säg hej!

Att säga hej till sina grannar är en liten sak, men forskning visar att det kan bidra till sociala band och har en positiv påverkan på hälsa, trygghet och välbefinnande ❤️. Läs mer på www.lulea.se/hej

Posted by Luleå kommun on Thursday, November 2, 2023

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

melaney ·

Ja, dit werk in Orania, maar nét in Orania, nie in die res van die land nie. Sodra iemand sy hand lig weet ons om te laat spaander, anders word ons beroof, of nog erger.

Truman Burbank ·

Ek weet van baie plekke behalwe Orania waar dit goed werk in SA. En daar word nie eers seker gemaak van kerkverband voor jy gegroet word nie.

Leah ·

Ek dink dit werk in ander dele van ons land ook. Nie net Orania. Ek bly nou al15 jaar in Pretoria, van universiteit tot nou het ek nog net vriendelikheid beleef maak nie saak waar in Pretoria ek gebly het nie. Mense groet mekaar, in ons buurt ken almal almal ongeag jou kleur, voorkeur ens. Daar is nie een dag wat ek uit my huis ry en iemand my nie groet nie. Behalwe die ou tannie oorkant die pad wat net glad nie sal groet nie en my net stip in die oe sal kyk. Dit is een ding van suid afrika tussen deur al die geweld en moeilike ekonomiese tye is ons ‘n vriendlike klomp mense (hier praat ek van die 90% van mense) jy sal orals jou ongeskikte en skelm mense kry wat ons ou nasie se naam sleg maak (soos my buurvrou van 5 jaar).

Surizaru ·

Leah, ek stem met jou saam, ek dink so baie mense wat smag om uit SA weg te kom, besef nie dat ons tog – ten spyte van geweld, korrupsie, al die negatiewe goed – iets hier het wat jy waarskynlik nêrens anders in die wêreld gaan kry nie. Ja, ja, mense sal sê hulle is eerder veilig, maar hoor my lied – ONS LAND BESTAAN 90% UIT WONDERLIKE MENSE.

Boksombende ·

Seker maar moeilik om vriendelik te wees as jy die heeltyd koud kry en die son nie te veel skyn nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.