Geliefde se as in tatoeëermerk verewig

As-oorskot word saam met ink gemeng vir ‘n tatoeëermerk. (Foto: Patrick T. Fallon/AFP)

Toe Scout Frank haar ma verloor het, het sy probeer dink aan ʼn manier om haar letterlik steeds naby te hou – die oplossing was om haar ma se as in haar vel te laat tatoeëer.

Frank het ʼn klein houtboksie met haar ma se as na die tatoeëer-ateljee van die kunstenaar Kat Dukes in die Kaliforniese stad Oceanside geneem.

Dukes het sowat drie jaar gelede begin om die as-oorskot van mense se geliefdes met ink te meng en hul daarmee te tatoeëer nadat ʼn kliënt ʼn manier gesoek het om sy hond te onthou. Dukes doen ook net tatoeëermerke met die hand – sy gebruik ʼn naald wat in ink gedoop is en kolletjie vir kolletjie op die vel gesteek word eerder as tatoeëermasjiene.

Die gebruik van as-oorskot in tatoeëermerke is ‘n groeiende neiging en sommige Amerikaanse begrafnisondernemers skakel sommer direk met tatoeëer-ateljees hieroor, of gee selfs instruksies vir die maak van die ink op hul webwerwe.

“”Ek kry baie kritiek daaroor,” sê Dukes. “Baie mense sal argumenteer dat dit onhigiënies is. Ek verstaan dat hierdie proses nie vir almal is nie.”

Dukes hou vol daar is geen risiko van infeksie as dit behoorlik gedoen word nie, ʼn tatoeëermerk se ink sit in die dermis van die vel en is nie veronderstel om na die bloedstroom te beweeg nie. Verassings word ook gewoonlik by sulke hoë temperature uitgevoer dat die as gewoonlik steriel is.

“Dit is iets wat mense nie regtig so gereeld van hoor nie, en as iets vir mense vreemd is, sal hulle dit sommer net dadelik ignoreer.”

Die tatoeëermerk wat Frank gekry het met haar ma se as in. (Foto: Patrick T. Fallon/AFP)

Dukes het self deelgekry aan die praktyk en haar pa se as in ʼn tatoeëermerk laat verewig.

“Ek is nog steeds baie lief daarvoor om dit vir mense te kan doen, want daar is nie baie tatoeëerkunstenaars wat uitgesproke daaroor is om dit te doen nie,” sê sy.

Vir Frank is die kans om ʼn betekenisvolle en blywende herinnering op haar vel te ets, baie spesiaal.

Die ontwerp wat sy vir Dukes gevra het om te skep was ʼn eenvoudige lyntekening van ʼn duif met oop vlerke, ʼn vorm wat na haar mening onbetwisbaar met haar ma verbind is.

Bo alles is die feit dat sy altyd haar ma by haar sal hê wat vir haar saak maak.

“Sy is reeds deel van my,” sê Frank. “Maar sy gaan regtig nou vir altyd deel van my wees en altyd saam met my op al my avonture gaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Willem ·

Nee kyk die amerikaners sal enige iets doen vir n paar dollars. Dis n eerbare gebaar maar om dit uit te voer is belaglik – seker maar n saak wat verskil van persoon tot persoon.

skurweberg ·

Ons liggaam behoort nie aan onsself nie. Sending daarvan is sonde.

Drikus ·

Lev 19:28 – You shall not make any cuts on your body for the dead or tattoo yourselves: I am the LORD.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.